|
|
|
31 Oktober tot 1
November, een van die mees onbeskryflike naweke ooit! Rippel 90.5 se
eerste kamp vir mense met gestremdhede, gehou by Deo Volente Bush
Adventures buitekant Pretoria. 'n Naweek wat in ons gedagtes sal bly vir
die res van ons lewens. (lees
meer oor die kamp en kyk na die foto's >>)
Saam met die mees kosbare mense denkbaar, wat meer
liefde in een naweek kon uitstort as wat ek in een leeftyd kan uitstort.
Die term “gestremdes” klink eintlik so negatief, omdat dit mense in 'n
spesifieke boksie inprop, maar ek het gesien dat daar lewenskwalitiet in
hierdie groepie bestaan wat in ander boksies nogals afwesig is. Die boksie
waar ek my bevind is so ‘n gemaklike, maar dikwels onvergenoegde,
ontevrede boksie. Jitte, maar mens
kan baie leer by mense met hierdie tipe uitdagings! Ek leer dinge wat my
klein, ontoereikend en sommer nutteloos laat voel. Ek het by hierdie mense
blydskap, vreugde, vrede en dankbaarheid gesien wat ek nie kan droom om te
hê nie. Fil 4:1-9 DIT leer ek toe
hierdie naweek by hierdie ongelooflike groep mense wat op die kamp was.
Hulle is oorvloedig bly, hulle gee oorvloedig liefde. Na vele gedink, kry
ek die antwoord in die engelse woord “attitude” – lewenshouding.
Hierdie ding waarmee ek so sukkel hier in my kwansuis “volmaakte”
liggaam, waar al die dele “werk”, waar gesondheid en vermoëns steeds
nie genoeg is nie. Hierdie houding waarmee ek die Here soms wil aanvat en
vra: “Here, wanneer gaan U my seën?” Wil ek dan NOG hê? Waarmee sal
ek dan tevrede wees? Wanneer gaan ek in die spieël kyk en sê:
“Dankie”. Wat moet die Here van my wegneem sodat ek kan besef
wat ek het? Ai, patetiese mens, ekke! Sukkel jy miskien ook hiermee? Ek het die
afgelope naweek by hierdie gestremde mense moed gesien … “guts”,
‘n onblusbare gees, ‘n uithouvermoë, ‘n geniet van die lewe ten
spyte van uitdagings. Ek het ‘n epos van iemand gekry wat gaan oor
lewenshouding – dis hierdie dinge wat die gestremde mense regkry, en ek
nie: 1) Ek kan alles doen, maar nie gelyktydig nie. Jy sien, ons het net nie genoeg geduld nie. Alles moet kits gebeur. 2) Ek kan alles doen, as dit net belangrik genoeg is. Johnny loop bitter swaar met ‘n loopraam. Maar hy stap ver net om vir my ietsie te kom sê … want dit is vir hom belangrik. 3) Ek kan alles doen, al is ek nie die beste daarmee nie. Wel, toe Dusty en Karen (albei met Downs sindroom) en Louis begin dans , toe besef ek dat ek dit nie sò kan doen nie. 4) Ek kan alles doen, maar daar mag beperkinge wees. Jy sien, ek wil so graag hê daar moet nooit struikelblokke wees nie, alles moet net vlot loop – ek wil nie sukkel nie. En as alles dan nie so lekker vlot verloop nie, dan wonder ons of die Here sy seën van ons onttrek het. Ek het hierdie naweek mense gesien wat ‘n berg sal uitklim met krukke en ‘n rolstoel, en ek is te lui om 300m winkel toe te stap. 5)
Ek kan alles doen, maar ek mag dalk ‘n bietjie hulp nodig hê.
Ons vra nie graag hulp nie, of hoe? Ons los mos partykeer eerder ‘n ding
as om in iemand anders se oë te kyk vir ‘n bietjie hulp. Hierdie
gestremde persone moet hulp vra vir basiese dinge… Ek het besef mens
kan baie leer by mense met fisiese uitdagings. So het ek die naweek : 1) geleer dat mense met gesigsgsetremdheid kan werk, en dankbaar is daarvoor – dit terwyl baie van ons ons werk haat. Dian, Paulie en Leander is blind, maar het alles gedoen wat die ander gedoen het. 2) gesien dat mense met Downs liefde kan uitdeel soos niemand anders nie. Karen, Dusty, Sonja en Rovan het soveel onvoorwaardelike liefde uitgestraal! 3)
Anemari en Quintus is in rolstolle, maar hulle het ‘n onblusbare
gees, en kla nooit - nie
eenkeer nie! Ek, daarenteen, word so gou moeg, ek kla as ek ‘n entjie
moet stap. Eddie, Rudolph en Wayne, asook Johnny en Ian het so ‘n paar
fisiese uitdagings, maar doen meer as baie mense wat geen verskonings het
nie. Hulle verkry resultate omdat hulle WIL; hulle sê nooit “ek kan
nie”. Adelle het “Houtkruis” vir ons gemimiek dat dit trane in almal
se oë gebring het. Sy dien die Here met elke stukkie talent in haar. Hoe
vorder ek en jy? Kom ek vra vir my
en jou ‘n paar vrae: 1) Weet jy joe werk geloof? Jy moet ophou om jou intellek in die pad te laat staan. Die Here sê: “wees soos ‘n kind”, maar ons wil ons Christenskap en geloof so gekompliseerd maak. Nee, glo net die Here! 2) Wil jy weet hoe werk dankbaarheid? Verloor so bietjie iets wat vir jou kosbaar en belangrik is. Dan sal jy dalk dankbaar wees vir wat jy gehad het. So dink bietjie oor alles wat reg is en reg werk. Wees bly as jy kan stap en sien. 3) Dink jy dis moontlik om weer ‘n “onblusbare gees” te kan hê? Ek dink so, maar dan moet ons ons pretensies en eiewaan, ons ondankbaarhied en tonnelvisie laat staan. 4) Blameer jy ook, soos ek, soms die Here as dinge bietjie skeefloop? Ek het hierdie naweek mense gesien wat dit nie sal waag nie, want hulle tel hulle seëninge. Hulle is dankbaar vir elke klein dingetjie; hulle fokus op wat hulle kan, en nie op wat hulle nie kan nie. 5) Wil jy weet van diensbaarheid? Gaan kyk hoe hierdie mense met fisiese uitdagings mekaar help. Hulle doen dit sonder om iets terug te verwag. Dit maak my skaam. 6)
Is jou kinders gesond? Sonder enige gebreke? Ek het gesien hoe
hierdie ouers liefde, aanvaarding en ondersteuning in hulle kinders
instort. Die meeste van hulle is enkelouers. Bemors jou kind sy kamer? Is
hy soms opstandig? Nie goed genoeg vir jou nie? Doen jy moeite vir hulle?
Woon jy hulle aktiwiteite by – of is dit te veel moeite? Kom ons kry
bietjie ons “attitude” reg – dis nooit te laat nie. |