LEWENSVREUGDE


Lewensvreugde - aan die een kant is daar so baie om oor 'n onderwerp soos hierdie te sê, en aan die ander kant is dit moeilik om hieroor te praat. Vir my persoonlik is dit maklik want ek ervaar dit in oorvloed elke dag. Maar… wat kan ek sê wat gaan maak dat iemand anders dit aangryp, en skielik tonne lewensvreugde ervaar? Hoe stoot mens depressie eensklaps uit jou lewe uit, en straal van vreugde elke dag? Dis sekerlik 'n gróót uitdaging - maar kom ons probeer …Miskien moet ek begin deur my definisie van lewensvreugde vir jou te gee. Vir my is lewensvreugde 'n ervaring in my gemoed wat maak dat ek meer goed as sleg in die lewe ervaar, en dat elke dag 'n klomp lekker elemente inhou, ten spyte van … 'n Mondvol, of hoe? Voorts kan ek byvoeg dat lewensvreugde hand aan hand gaan met lewenskwaliteit. En waar sal mens dit vind?

Ps 43:4 (Good News) O God; You are the source of my happiness. I will play my harp and sing praise to You, O God, my God.

Die skrywer van hierdie Psalm dui geensins aan wat sy omstandighede is nie. Maar tog lees ek in die volgende vers:

Ps 43:5 Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God.

Klink vir my na iemand met wie dit nie te goed gaan nie. Sing 'n loflied, ten spyte van… ten spyte van.. Hierdie persoon soek sy lewensvreugde in God, en nie in goed nie. Waar lê jou vreugde?

Lewensvreugde en lewenskwaliteit: waar soek die mens dit? Ek glo dat dit wat die wêreld, die TV, tydskrifte, ens. aan ons opdis, dikwels die bron is van ons mismoedigheid.

1) Mense soek lewensvreugde in "idols"; hulle jaag iemand anders se styl en omstandighede na, en aanbid selfs die persoon. Jy weet mos wat jy op die gewilde tydskrifprogramme op TV sien …. dis die mooiste huise van die rykstes van die rykes. Manlief en vroulief sit so liefies en koer voor die kamera. Die toonbeeld van geluk, alles perfek - of is dit? Hou maar die Sondagkoerant se agterblad dop - daar is baie wat in materiële oorvloed leef, met wie dit slég gaan. Wie se lewe wil jy graag hê? Dink bietjie. En as jy dit kry, is jy bereid om die hele pakket te vat?

2) Mense soek lewensvreugde in skoonheid, gesondheid, klere, juweliersware, menseregte, vriende en verhoudinge, geleerdheid, roem, 'n goeie werk, volmaakte huislike lewens, motors, vet bankrekenings, dalk 'n wenkaartjie van die lotto. Weet jy, ek ken mense wat hierdie goed in oorvloed het, wie se lewens miserabel is.

3) Mense gaan soek lewensvreugde in verkeerde, sondige praktyke, soos bv. buite-egtelike verhoudings. Jy sien, daardie gesteelde oomblikke, waar die adrenalien pomp. Dit klink so lekker, maar die waarheid is egter dat dit altyd in 'n ramp eindig. Jy weet mos, Poppie by die werk luister so mooi na my, en sy verstaan so mooi. Jy weet, sy gaan mos deur dieselfde goed. Ja, dan raak jou bagasie op haar bagasie verlief. Dan gooi julle dit bymekaar en dit verander in 'n komposhoop!

4) Mense glo partykeer dat hulle lewensvreugde gaan terugkom as hulle wegvlug van hulle omstandighede. Ek wil nie meer dit of dat ervaar en beleef nie. Weet jy, vir party mense werk dit, maar vir baie ander word die woord "sleg" met "slegter" vervang.

Waar is die "regte" plek om te soek na lewensvreugde?

1) Soek dit in "vrede". En toevallig kom vrede voor in die woord "tevrede"! Ja, natuurlik streef mens na hoër en beter en meer en vinniger, en nog en nog… Totdat woefie die bus vang en nie weet wat om daarmee te doen nie. Die kuns van "tevrede" is om te weet waar die plafon is. Wanneer is genoeg genoeg? Tevrede met jou omstandighede, jou uiterlike (party mense weet presies hoeveel vetrolletjies hulle het, maar nie hoeveel seëninge hulle het nie!), jou motor, jou blyplek, ens.|

2) Soek dit in "seëninge".
Matt 5:3-12 "Die werklike gelukkiges":

3 "Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.
5 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.
6 Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.
7 Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
8 Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
9 Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
10 Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
11 "Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.
12 Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg."

Kyk nou wat staan hier: afhanklik, treur, vervolging, belediging. Kan jy so ver soos jou seëninge tel? Kom ek help jou met goeie raad: moenie Suid kyk nie, kyk Noord. Suid lê Bishop's Court, Houtbaai, Fancourt, Clifton. Wow, wit strande, "mansions", golf estates. Idillies man, of hoe? Noord lê armoede, honger in Zimbabwe, oorlog, politiek, gemors, diktators, verwoesting, vigs, tering, cholera, ens. Waar is jy vandag? Meer Noord as Suid? Ek dink nie so nie!

3) Werk aan bekommernis.
Fil 4:4-7
4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!
5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.
6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Dit spreek absoluut vanself. "Don't worry, be happy"!

Wat is geluk? (Vertaal van 'n stukkie deur C.M. Pentz)
1) Geluk gaan meer oor wat jy is, as oor wat jy het.
2) Daar is meer geluk in wat jy gee, as in wat jy ontvang.
3) Geluk is altyd beter wanneer dit gedeel word.
4) Ware geluk is die rente wat jy kry van jou belegging in die Koninkryk van God.
5) As jy slegs na geluk vir jouself soek, soek jy verniet. As jy poog om ander gelukkig te maak sal jy ware geluk vind.
6) Die beste trappe na geluk is die kerktrappe - loop gereeld daarop.
7) Die Here se teenwoordigheid maak dat sy kinders selfs op 'n ashoop gelukkig is.
8) Geluk is die wete dat ek lief gehê word, ten spyte van myself.
9) Die geheim van ware geluk is om my seëninge te tel, terwyl ander hulle probleme bereken.

My vriend, vra jouself vandag die volgende:
1) Hoe praat ek elke dag? Spreek ek lewe, of spreek ek dood?
2) Aan watse geselskap stel ek myself bloot?
3) Is die glas vir my altyd half-leeg, of half-vol?
4) Het my ongelukkigheid agter my aan gevlug? … miskien is dit tyd om terug te draai.
5) Leef ek met 'n toe hand, of met 'n oop hand? 'n Oop hand kan gee én ontvang, 'n toe hand kan nie een van die twee doen nie.

En laastens, 'n moedswillige vraag: as alles voor jou donker is, moet jy nie dalk Jesus se lig daarin sit nie?

Geniet jou lewe, jy het net EEN!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)