|
LIEFDE
Liefde - wat is liefde? Hoe weet jy
as iemand vir jou lief is? Wat is jou definisie van liefde? Voel jy of jy
liefgehê word? Hoeveel onvoorwaardelike liefde is daar in die wêreld? En
is dit nie so dat ons dikwels liefde verwar met dit wat die media vir ons
opdis nie. Ons praat nie vanoggend per definisie oor liefde tussen man en
vrou nie (dit ook), maar liefde woos wat God dit bedoel in die Woord. Die
liefde tussen mense (mense vir mekaar), soos wat Jesus die voorbeeld kom
stel het. Gepraat van die media. Liefde is die enkele tema wat by verre
die meeste voorkom in films, storieboeke, telefisiereekse, poësie,
digkuns en elke vorm van verhale voorkom. Almal streef daarna, smag
daarna, hunker daarna, maar tog sien ons so min daarvan. Hollywood se
flieks is tot oorlopens toe vol daarvan, en seker het elke enkele akteur
dit al probeer uitbeeld, maar in hulle persoonlike lewens werk dit net
nie. Jitte, die egskeidingsyfer in Hollywood is amper so erg soos diè in
Suid-Afrika. Dan word dit nog so verwronge oorgedra in flieke en boeke.
Held en heldin sê nog skaars vir mekaar dat hulle mekaar liefhet, dan
word die knope losgemaak. Is dit nie hoekom ons kinders so 'n verwronge
beeld daarvan het nie? Want hulle sien die TV baie meer as vir Pa en Ma.
Hoekom sukkel ons so met dit?
Die liefde. Kom ons lees die
mooiste gedeelte uit die Bybel oor die liefde.
1 Kor 13 - uit Die Boodskap:
"Sê nou maar ek is so 'geestelik' dat ek die tale kon praat wat
die engele in die hemel praat en selfs nog 'n klomp ander, maar ek het nie
ander mense lief nie, wat dan? Vir die Here klink daardie 'geestelike
gepraat' dan na niks anders as 'n geraas soos iemand wat teen 'n yster kap
nie. Sê nou ek kan uitstekend preek, is hoog geleerd in die dinge van die
Here en verstaan dinge van God wat ander mense nie eers weet nie, en
boonop het ek nog die grootste geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het
nie ander mense lief nie, dan is ek vir die Here 'n nul op 'n kontrak. Al
gee ek alles wat ek besit vir arm mense en word as martelaar vir die Here
verbrand, maar ek het nie lief nie, help dit alles niks.
Om ander lief te hê beteken:
· om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie;
· om altyd mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om
bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel;
· om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik daaroor
te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie;
· om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie;
· om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie;
· om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie
ongemaklik saam met jou voel nie;
· om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie;
· om nie sommer vir niks kwaad te word nie;
· om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy
hom of haar kan terugkry nie.
Maar liefde het ook grense:
liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie. Net so sal
liefde altyd net bly wees oor dit wat regtig gebeur soos God dit bedoel
het. Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die
beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g'n
einde nie.
Liefde is nie iets wat 'n mens
kan opgebruik en dan sê dis klaar nie. Maar die spesiale geskenke wat die
Gees aan mense gee soos om God se Woord oor te dra of in 'spesiale tale'
te praat of om dinge van die godsdiens te verstaan waarvan ander nie veel
weet nie, dit sal nie vir altyd hou nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer die
Gees dit nie meer vir mense sal gee nie, omdat dit nie meer nodig sal wees
nie. Ons weet in elk geval nou nie alles nie en wat ons vir julle van God
se wil vertel, is ook nie alles wat daar is om te weet nie. Daar sal 'n
tyd kom wanneer alles perfek sal wees soos God dit bedoel het. Dan sal die
dinge wat God net vir 'n tydjie wou gebruik het nie meer nodig wees nie .
Dit is eintlik maar so met 'n mens ook. Toe ek klein was, het ek nie soos
'n grootmens gepraat nie, maar soos 'n kind. Ek het ook gehou van dinge
waarvan kinders hou en graag daaroor gepraat. Ek kon ook nie verstaan
waaroor die grootmense praat nie, want ek het deur die oë van 'n kind na
dinge gekyk. Maar toe het ek grootgeword en dit het alles verander. Die
dinge wat vir my as kind so belangrik was, is nou nie meer vir my
belangrik nie. Ons is nou nog eintlik maar in ons geestelike kinderskoene.
Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is asof ons in 'n blinkerige
stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles mooi uitmaak wat ons sien
nie. Maar die tyd kom wanneer ons alles helder en duidelik sal sien asof
dit reg voor ons staan. Nou maak ons maar stuk-stuk uit van God en alles
wat Hy vir ons doen en beteken. Daar kom egter 'n tyd wanneer ek alles sal
weet, net soos God nou alles van my af weet.
Tot daardie tyd kom, het ons
drie belangrike dinge wat ons op koers moet hou: daar is die verhouding
met God, die sekerheid dat Hy sy beloftes sal hou en liefde. En van hulle
staan die liefde boaan die lys."
Hierdie gedeelte hoor ons so baie
op troues, en dan beperk ons dit tot die huwelikswêreld, maar dit is nog
meer van toepassing op die dag tot dag wêreld tussen alle mense. Die
probleem is dat ons nie verstaan wat mense se liefdesbehoeftes is nie. En
ons is nie almal dieselfde nie. Dan probeer ek om liefde te bewys aan
ander, op die manier wat ek dit graag persoonlik wil ervaar. Daar is 'n
boek met die naam "The five love languages". In hierdie boek
word die liefdestake opgedeel in die volgende:-
1. Woorde - die persoon wil dit
hoor dat iemand vir hom lief is - en nie afbrekende woorde hoor nie.
2. Kwaliteit tyd - om tyd saam met die persoon te spandeer, beteken dat jy
omgee.
3. Om iets te gee - die persoon hou daarvan om blomme, of sjokolade, iets
moois - al is dit klein, te ontvang.
4. Doen - om iets vir die persoon te doen, sê hy is belangrik.
5. Aanraking - nie die Hollywood-tipe nie, maar 'n drukkie laat hulle goed
voel.
Die probleem wat ons dan nou kry,
is dat ek wil vir iemand doen in plaas van gee. Of aanraking in plaas van
tyd saam spandeer.
Ek het 'n klomp mense se menings
gevra oor die liefdessaak. Die vraag was, "Hoe weet jy iemand is lief
vir jou?" Ek het die volgende reaksie gekry:-
1. Wanneer ek gedurig in daardie
persoon se gedagtes is. As jy iemand liefhet - gedurig in jou gedagtes.
2. Tong - maak nie seer nie. Tyd - altyd tyd vir my en my belange kom
eerste.
3. Gevoel van sekuriteit, voel veilig en beskerm, kan myself wees, kan 'n
gek van myself maak sonder vrees vir verwerping.
4. Aanvaarding soos jy is, spandeer tyd saam, stel jou belange eerste.
5. Deur dit te sê, lyftaal, gebare, boodskappe/sms/telefoon. Drukkies en
soentjies, iets te doen.
6. Sê, respek behandel, wys met dade, goetertjies doen uit sy eie,
persente gee, as my mening tel, as hy my waardeer, ens.
7. Wanneer die persoon by jou staan, al is jy verkeerd.
8. As iemand by my staan in swaar tye, en nie die verskoning gebruik dat
hy/sy self nie te lekker voel nie. Aanvaar soos ek is.
9. Daar mag geen voorwaardes wees nie.
10. Emosionele verbintenis, vryheid, vergifnis, aanvaarding, respek,
sekuriteit, hou belanrike dinge belangrik.
11. Geborge en veilig voel, beskermd, vertroetel.
12. Respek, vertroue, neem gevoelens in ag, deel belangstellings,
kommunikasie, geduld.
13. Jy sien dit in hulle oë, en hulle vertrou jou.
14. As jou maat vir jou moeite doen, bystaan, respekteer.
15. Deur meer te kry as wat jy eintlik verdien, wanneer jy dinge
ongevraagd ontvang.
16. As die persoon dit sê en wys, persoonlike opofferings maak, tyd
spandeer.
Dan het iemand die volgende gesê:
"Ons as mens kan dit eintlik net sê, want God is liefde, want Hy het
Sy Seun in ons plek gestuur om te sterf.
1 Joh 4 : 7 - 21
7 Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en
elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God.
8 Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.
9 Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na
die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.
10 Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar
die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening
vir ons sondes.
11 Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons
mekaar ook lief te hê.
12 Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly
God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.
13 Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees
gegee.
14 En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder
van die wêreld gestuur het.
15 Wie bely dat Jesus die Seun van God is - God bly in hom en hy in God.
16 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.God is
liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
17 Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te
vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur
die liefde net soos Jesus.
18 Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf
vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde
nie.
19 Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.
20 As iemand sê: Ek het God lief, en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar;
want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir
God liefhê, wat hy nie kan sien nie.
21 En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook
sy broer liefhê.
Wat moet ons gaan verander in ons
liefdesmondering? Hoe sal 'n gebroke wêreld weet wat liefde is, as ons as
Christene nie gaan wys hoe dit lyk nie.
Wat kan ons doen?
· Sê dit per sms, ja, ook man
teenoor man.
· Gaan doen iets vandag onverwags vir iemand - ja, ook iemand van wie jy
nie hou nie.
· Gaan koop 'n handvol sjokolades en deel dit onverwags uit.
· Gaan vra vir iemand hoe dit werklik met hom/haar gaan - en luister
sonder om iets te sê, of raad te gee.
· Gaan maak reg waar 'n verhouding geskaad is.
· Beantwoord daardie e-posse of sms'e wat jy so lank uitstel.
· Lyk soos Jesus.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|