|
|
|
“Ek is lief vir jou”. Vyf eenvoudige woorde. Seker die mooiste woorde wat mens kan hoor. Gebruik jy dit? Hoor jy dit? Sê jy dit graag vir die regte persone? Daardie wat dit so graag wil hoor. Soos jou vrou/man, en kinders. In daardie woorde lê ongelooflike krag opgesluit, want dit bring vertroosting, sekuriteit en geborgenheid. Wat is die teenoorgestelde van liefde? As ek hierdie vraag vir 1000 mense sou vra, sou 99% waarskynlik gesê het dis haat. Haat sou sekerlik kwalifiseer, maar ek wil vandag 'n ander woord in hierdie konteks gebruik wat baie, baie erger is. Kom netnou daarby. Openb 2:1-7 Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese: So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan: Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie. Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is. Is dit dalk die teenpool van liefde waarvan die Here hier van praat? “Julle het my nie meer so lief nie”. Wat sê die Here hier? Dat ons Hom haat? Nee, verseker nie, eerder dat ons liefde vir Hom verflou het, maar dit kan weer omdraai. Ons kan weer terugkeer. Hierdie deel beskryf dus ook nie die teenpool van liefde nie. As 'n misdadiger my beroof, of selfs iemand vermoor, het dit gewoonlik nie per definisie met haat te doen nie. Dit gaan gewoonlik nie met een of ander emosie gepaard nie, maar eerder met misdaad vir eie gewin. Liefde is so 'n ongelooflike sterk emosie, dalk selfs 'n krag, wat so 'n ongelooflike impak het, dat ek nie dink dat haat as teenpool kwalifiseer nie. Haat is nie per definisie 'n teenreaksie op liefde nie. Ware, opregte liefde, kry nie sy gestalte in die brein nie, maar in die hart. Daardie liefde is die liefde wat so intens is, dat dit selfs kan seermaak en mens se hart inmekaar kan laat trek. Het jy dit al gevoel? My mening vir die teenpool van liefde, is harde, ongenaakbare liefdeloosheid. Ek wil hierdie verduideliking uit my perspektief gee op grond van iets wat ek gehoor het, wat my geruk het tot in my siel. Ek gee egter eers vir jou hierdie teks: Mal 3:16 “Die Here die God van Israel se Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, se die Here die almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie”. Ek gebruik hierdie gedeelte egter nie om oor egskeiding te praat nie, maar die liefdeloosheid wat soms daarmee gepaard gaan. Ek ken mense wat op 'n ongelooflike beskaafde manier deur hierdie trauma gegaan het, wat mekaar nie vernietig het nie, en nie die kinders in die proses verwoes het nie. Ek hoor egter onlangs van 'n man en vrou wat skei, maar die man veg in die hof om toesig oor die kinders te kry. Omdat die vrou sleg is? 'n Dronkaard is? Ontrou is? Iemand wat haar kinders verwaarloos en mishandel? Nee, 'n goeie mens en ma. Maar die man is bereid om tot onregverdige uiterstes te gaan om die vrou te verwoes. Met geleende geld. Maar, my vraag is, wie word in die proses vernietig? Die vrou of kinders? Sy vrou is nie meer vir hom aanvaarbaar nie, maar die kinders word die wapen. Om sy vrou te haat is erg, maar die liefdeloosheid teenoor die kinders ken geen perke nie. Jy sien, liefdeloosheid binne die gesin, is 'n miljoen keer erger as die haat in misdaad. Want liefde binne die gesin word verwag, dis nie 'n voorreg nie, maar 'n reg, of eerder, 'n opdrag! Wanneer daardie verbond verbreek word, word die een wat dit verbreek 'n verraaier, en erger as 'n misdadiger. As jy my geld steel, voel ek nie of jy my liefde vertrap het nie, maar as jy my liefdeloos behandel, het jy 'n stuk van my menswees vernietig. Weet jy wanneer is dit die ergste? Dis wanneer man en vrou mekaar probeer verwoes, deur 'n dolk in daardie kinders se hart te druk, en die lem te draai. Terwyl jy saggies in sy oor fluister: “Pappa is lief vir jou”. Jy haat nie die kind nie, maar jy is liefdeloos. Haat sou beter wees. Daar is baie goed wat ons as mense aanvang wat uiters liefdeloos is-
Die probleem met liefdeloosheid is dat dit nie 'n misdaad is nie, jy kan nie tronk toe gaan daarvoor nie en nie vir iets gevonnis word nie. Terwyl dit erger is as baie vorms van misdaad. En dit tref gewoonlik dié wat die naaste aan jou is. 1Kor 13 Moet mens nie hierdie pragtige hoofstuk elke dag lees nie? Hierdie liefde wat hier beskryf word is nie net die liefde tussen man en vrou nie, maar liefde in die wêreld. Met hierdie liefde kan jy vir enige mens sê: “Ek is lief vir jou”. 1Joh 4:7-12 |