LOFPRYSING


Loof die Here , prys sy Naam! Voel jy altyd lus om die Here te prys? Is jou verhouding met die Here van so aard dat jy voortdurend Sy lof wil besing?

Lofprysing - Hoekom doen ons dit? Hoe doen ons dit? Waar doen ons dit?

Weet jy, die eerste en heel belangrikste ding rondom lofprysing, is gesindheid. As ek en jy nie die Here se grootheid kan raaksien en aan Hom erkenning gee vir wie Hy is en wat Hy vir ons doen nie, kan ek en jy Hom nie regtig loof en prys nie. As lofprysing nie uit jou hart uit kom nie, moet jy dit liewer los, want dan maak ons 'n bespotting van Hom.

Ps 103 : 1 - 5 Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. 2 Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. 3 Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, 4 wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, 5 wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk.

Lofprysing. Is dit vir jou ook lekker om lewendig en vrolik aan lofprysing deel te neem? Vir my is dit heerlik!

· Wat is lofprysing?
Ware lofprysing is 'n bewustelike, doelgerigte aksie om die Here se Naam groot te maak, om eer aan Hom te bring, om Hom te verheerlik. Ons gaan netnou kyk na verskillende elemente van lofprysing. Nou ja, as jy wil sien hoe lyk iemand (en sy lewe) wat lofprysing regtig verstaan het, gaan lees die Psalms. Dawid het so liries oor die Here geraak, dat hy skoon begin dans het. Toe dink sy vrou hy's gek!

· Hoekom lofprysing?
- Dis 'n opdrag. Die Here sê, as ons nie van Sy grootheid getuig nie, sal die klippe dit uitroep. Die Here verwag van my en jou om te reageer op Sy weldade, en daarvoor is lofprysing net die regte ding.
- Dit is lekker, want as ons in lofprysing voor die Here gaan, ontvang ons self 'n klomp seën. Dit hang natuurlik van jou gesindheid af, of hoe? 
- Dit is 'n manier om saam met medegelowiges koinonia te ervaar - bv. in die kerk, 'n selgroep, ens. 
- As ek en jy net vir 'n oomblik gaan stilstaan en dink oor die Here, moet dit mos spontaan kom om Hom te besing.

· Hoe doen ons lofprysing?
Die persepsie wat die meeste mense oor lofprysing het, is sing. Dit is definitief ver van die enigste manier van lofprysing, maar sekerlik een van die belangrikste.

Ander maniere van lofprysing:

- Gebed. Om die Here se Naam groot te maak in gebed. Om vir die Here te sê hoe jy oor Hom voel, soos ons in die Psalms lees en soos Dawid konstant uitroep: "Prys die Here, U is magtig, U is Heilig, daar is niemand soos U nie, Here, ek het U opreg lief". Sê dit vir Hom. 
- Sing. Daar in die stort, wanneer jy ry. Bekende liedere, lofpsalms, soms sommer jou eie woorde, dalk saam met lofprysingsmusiek. Enige tyd, oral. 
- Getuig. Deur vir ander van die grootheid van die Here te vertel. Om openlik eer aan die Here te gee. 
- Dans. Soos Dawid ja! Kry bietjie ritme in jou lyf saam met jou lofsang. Koordanse is 'n wonderlike manier van lofprysing.
- Bybel. Lees Psalms en ander skrifgedeeltes van lof. Sing dit saam.

Jona 2 : 6 - 10 Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered. 7 Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel. 8 Dié wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon. 9 Terwyl ek 'n loflied sing, wil ek aan U 'n offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af. 10 Toe beveel die Here die vis, en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg

Psalm 150 Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf! 2 Prys Hom oor sy kragtige dade, prys Hom in sy magtige grootheid! 3 Prys Hom met die ramshoring, prys Hom met harp en lier! 4 Prys hom met tamboeryn en koordanse, prys Hom met snaarinstrumente en fluite! 5 Prys Hom met simbale, prys hom met galmende simbale! 6 Laat alles wat asem haal, die Here prys! Prys die Here!

Prys die Here! Met  ramshorings, harpe, liere, tamboeryne, koordanse, snaarinstrumente, simbale. Ja, selfs met die orrel in die kerk. Moet tog net nie bedroef klink nie!

Lofprysing is 'n keuse, 'n besluit dat ons lippe nie verseël sal wees nie. Altyd, oral, ook vir die klein dingetjies. Spog tydig en ontydig met jou Here, selfs as jy “af” voel.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)