|
|
|
Manwees. Hierdie stukkie is vir die man van die huis, of jy nou geskei is of nie, getroud of nie. Dis vir manne – ware, egte, regte manne. Elke mens is gebore as een van twee geslagte, man of vrou. In Genesis lees ons dat God vir Adam uit stof gemaak het (soos ‘n pop, glo ek), en die lewensasem in hom ingeblaas het. Later stel God vir Adam aan as die hoof van Eva, en so ook vir my en jou as hoof van die huis. Hy gee ons ‘n rol – Hy stel ons aan as versorger, as die sterke in die huis, en ook as koning, priester en profeet van ons huis. Nou vra ek vandag vir jou as man: is jy mans genoeg vir manwees? Hulle sê mos: manwees is nie vir sissies nie! ‘n Man het óf murg in sy pype, of hy is ‘n papbroek. In die ou dae sou ons sê: “women is the weaker sex”, vandag kry jy slae as jy so sê. Mnr Man, jy het ‘n groot taak in hierdie lewe – is jy mans genoeg daarvoor? Spr 4:1-9 Hier lees ons van ‘n pa wat opvoeding gee, sy kinders leer; ‘n pa wat met sy kind praat! Van ‘n man van betekenis, een met murg in sy pype, een wat sy pligte nakom. ‘n Man wat mans genoeg is vir manwees. Jare gelede het ek saam met ‘n ou gewerk wat vir my gesê het sy vrou moet al die briewe oopmaak, want hy is bang dis dalk ‘n briefbom. Kan jy dit nou glo? Klink dit vir jou soos ‘n man wat murg in sy pype het? Nee wat, klink vir my soos cream soda in daardie are! Hy het ook gesukkel met sy kinders wat geen respek vir hom gehad het nie. Wanneer is ‘n man ‘n MAN? Kom ons begin sommer by die huwelik (vir die getroudes onder ons). In Genesis skep die Here vir Adam en gee hom die opdrag om nie te eet van die boom in die middel van die tuin nie. Dit is nog vóór Hy vir Eva geskep het. In Gen 2:16 gee God die opdrag, en daarna kom Eva op die toneel, en toe die slang, en almal val voor sy listigheid. Adam is so ‘n papbroek dat hy vir Eva die skuld gee. Hy verstaan nie dat hy, as hoof van die vrou, standpunt moes inneem nie. Net so is daar vandag te veel mans wat nie mans genoeg is om hulle rol in die huis na wense te vertolk nie. Dis hoekom baie vroue sukkel om hulle mans te respekteer. Die man is die figuur in die huis wat die orde moet laat geld, wat primêr moet sorg dat dissipline gehandhaaf word. Ongelukkig is ons so afwesig dat vroulief die rol vat, óf dat die pap op die grond val. Manwees in die huis is moeilik want ons is maar gereeld “die vark in die verhaal”. Maar dis okay, want ongelukkig probeer te veel mans die gewildheidskompetisie in die huis wen. Partykeer is dit nodig dat jou gesag moet geld; dan moet jou “ja” “ja” wees, en jou “nee” “nee” – punt! Spreuke 4 begin met: “kinders, neem die opvoeding wat ‘n vader julle gee ter harte”. Lyk my die Bybel verskil ‘n bietjie met ons leefwêreld van vandag. Baie mans is nie meer mans genoeg om deel te neem aan die kinders se opvoeding nie. O ja, nou onthou ek.... jy moet gaan werk. Mmm... vroulief ook, of het jy vergeet? Baie, ja baie vroue móét vandag werk, maar baie, ja baie, hoef nie. Mnr Man, as jou vrou vir jou vandag sal vra of julle kan probeer om haar te laat ophou werk, sodat sy voltyds by die kinders kan wees – sou jy mans genoeg wees om te probeer? Of lê die definisie van jou manwees te veel in die peperduur wiele wat jy ry? Min mans is mansgenoeg om sonder weelde klaar te kom. Moenie my kruisig nie, maar luister net objektief na hierdie vraag: as ons ‘n weegskaal vat en dit kinders aan een kant neersit en weelde aan die ander kant, na watter kant toe sal jou skaal tip? Min mans het die moed om meer kere vir Mnr Baas “nee” te sê, maar het genoeg moed om vir die kinders “nee” te sê. Gelukkig het die meeste ouens op hulle sterfbed die “guts” om te erken dit was ‘n fout. Maar dis te laat! Is jy mans genoeg vir die rol van Geestelike leier in jou huis? Ag, vroulief doen dit so goed, sy is so sag soos Jesus, jy weet? Sy het meer tyd om vir die kinders uit die Bybel te lees, jy weet? ... dis wat ouens dalk sê. ‘n Ware man...
|