ME AND Wii


Het jy ‘n i-Pod? O koek, jy weet nie wat dit is nie? Ongelooflik. Dalk gebruik jy ‘n i-Touch of ‘n i-Pad. Wel, dis nou ‘n dingetjie waarop jy iets kan doen, soos speletjies speel, musiek luister, video’s kyk, en jy dra hom sommer bo in jou hempsak. Jy het dalk die een of ander tyd in jou motor geklim en na jou naaste i-Store gery, terwyl jy op pad op jou i-Phone gepraat het, want jou ou i-Pod het te klein geraak om die musiek van i-Tunes af te laai ... of is dit nou op te laai? Hierdie hele ding het begin toe daar niks op SABC se Me-time was nie, toe wou jy ‘n paar storietjie en video’s op die rekenaar op My Space kyk. Dit was toe bietjie vervelig, want niks daarvan kon MY gelukkig maak nie, toe klim ek in my motor wat bemark word as ‘n “drivers car”. Jy weet mos, niemand kan eintlik saamry nie, want die motor is op MY, sy drywer gemik. Ek.... my.... I... 

Ons lewe in ‘n wêreld waar alles meer en meer om “ek” gaan. Dis hoekom produkname so oordrewe op “I” konsentreer. Maar nog meer ... toe ons by die I-store kom, toe koop ons vir ons ‘n nuwe Wii-gadget. Wii met twee “i”-s, nie ‘n “e” nie. Dus “w ek ek”. Ek en ek maak ons. Twee ekke en ek is in goeie geselskap. Jy kan ook hierdie speletjies alleen speel, want twee ekke, maak ‘n .... BAIE BELANGRIKE ONS. Ons leef in ‘n wêreld wat so baie van “ek” maak, dat dit voel of ons mekaar nie meer nodig het nie. 

Joh 15:9-17
"Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. "Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.  Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!"   

God se opdrag. Julle moet mekaar lief hê. Ons het mekaar nodig, en die lewe gaan nie net oor “ek” nie. Die eie ek is te veel die belangrikste persoon in my lewe. Alles word ingestel om myself belangriker te maak as enige iets of enige iemand anders in die lewe.  

Eie-ekkigheid, jy weet mos waarvan ek praat? Kyk, jy kry mos hierdie gewoonte lieg-ers. Hulle weet altyd alles van alles, en dis gewoonlik om hulleself goed en belangrik te laat lyk. Dan kry jy ook ouens wie se praatjies altyd nét oor hulleself gaan: ek dit, ek dat, my kar, my belange, my prestasies, ens. Dis nogal moeilik om met so iemand ‘n gesprek te voer, want hulle kan jou in detail alles van hulleself en hulle dinge vertel, maar luister glad nie as jy iets vertel nie; hulle stel nie belang in wat jy te sê het oor ‘n saak nie, wil net hulle eie stem hoor. Dis mos amper soos die ou wat vir sy vrou gesê het: Man, as ek jou opinie wou gehad het, sou ek dit vir jou gegee het.  

Misdaad gaan ook oor eie-ekkigheid – jóú selfoon is vir my belangriker as jou lewe, so ek neem jou lewe sommer net om jou selfoon te kry. Ek skiet jou vir jou beursie, want jy as mens is nie belangrik nie. As jy in my pad staan, sodat ek nie die eienaar van jou motor kan word nie, verwyder ek jou. 

Ek, ek, ek.... Nog ‘n slegte uitvloeisel is sogenaamde menseregte. Jy kan niks aan my doen nie. My handves van menseregte sê dat ek kan doen wat ek wil, anders kry ek my prokureur. “I demand!” Klink dit bekend? Ek eis my regte. Hierdie menseregte ding vat ons partykeer so ver dat ons sommer van die Here ook dinge begin eis. Ons wil op ons regte as Christen staan en die Here druk om nóú te doen wat Hy belowe het. Ja, ons kan en moet die Here aan sy beloftes herinner, maar nou doen ons dit vir ons eie, sondige en selfsugtige begeertes. Ek is onlangs deur ‘n oefening met gebed, waar ek besluit het ek gaan vir so ‘n week NIKS van die Here vra nie. Ek gaan nie vra vir versorging, geld, oplossings, beskerming, vertroosting... niks nie. Ek het besluit ek gaan die Here net prys vir alles. Bv.: Here, hierdie situasie is voor my, ek prys U dat U die beste sal weet en my sal help om dit op te los. Ek het na drie dae opgegee, en besef ek het hierdie “give me, give me” mentaliteit. Ek wil net hê! Here, U sê mos: Ek wil julle die lewe gee en dit in oorvloed. Dus Here, dok nou daai geld en goedjies op.... en dit terwyl Joh 10:10 regtig niks met die materiële te doen het nie. Hy praat van die ware lewe, die ewige lewe.  

Joh 15:12 Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Om dit reg te kry, kan ons nie in hierdie “ek, ek”-mentaliteit vasval nie. As ons dit doen, wil ons liewer ontvang as om te gee, liewer voor draf as agter, liewer gehelp word as om te help, liewer vra as prys, liewer my belange as joune. Ek dink ook dis hoekom daar so baie bedrog is. Ek wil hê wat eintlik aan jou behoort. Ek sal die maatskappy se geld steel, dan kry jy nie ‘n bonus nie.  

Het jy al iemand se voete gewas? Dis nogal ‘n moeilike ding om te doen. Jy moet jouself stroop van jou trots en waardigheid om voor iemand te kniel en tussen sy tone te was. Jesus het dit gedoen, onthou jy?  Jesus het sovêr gegaan om te sê: Ek het gekom om te dien, nie om gedien te word nie. Jesus het nooit “ek-ek” mentaliteit geopenbaar nie. Beslis nie aan die kruis nie, want niks daarvan was vir Homself nie. Dit was vir die wêreld, vir jou en vir my.  

As Jesus ons dan só dien, moet ons mekaar ook dien. Kruisig die eie ek, en wees bereid om die minste te wees.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)