|
|
|
God en die mens
… die mens is skepsel van God. Die mens is ‘n nietige wese, maar o
tog, soms só uitgesproke! Kom jy ook agter hoe ongelooflik uitdagend
sommige mense met God raak? Ons as mens is aanhoudend besig om ons posisie
teenoor God te probeer vind, en ons raak soms só aanmatigend. Aan die een
kant is daar die ongelowiges wat blatant die Here belaster, Sy Godheid van
die tafel probeer afvee. Mense wat hulleself openlik as ateïste verklaar,
en uiters roekeloos met die Here omgaan. Daar is ‘n ander kant ook: die
kant waar hoogs geleerdes (selfs ook teoloë) nog die Here se naam sal
noem, maar reeds die inhoud van die Bybel totaal verwerp, en dan juis dít
wat ons anker is, nl. Jesus se maagdelike geboorte, Sy opstanding uit die
dood, Sy Koningskap, en Sy wederkoms. Dit lyk my die mens raak by die dag
meer roekeloos! Ydelike gebruik van God se Naam en sommer openlike
Godslastering. Die mens ken nie meer sy plek voor God nie. Ek wonder soms
wat gaan gebeur as iemand nog so verwaand en uitgesproke is en die Here
staan skielik voor hom? Jy sien, die heiligheid van God, Sy
soewereiniteit,
Sy almag en alomteenwoordigheid word ernstig en in die openbaar deur mense
uitgedaag. Dit lyk selfs of dit ‘n soort magspel geword het. Judas het ‘n
aaklikge dood gesterf toe hy teen die Here opstaan en Hom verloën. Moses
mis die Beloofde Land. Ons
moet verstaan dat God GOD is, ons moet verstaan met Wie ons te doen het. Job 38:1-10 Dit lyk of die
Here nogal verdraagsaam is met die mens, of hoe? Ek dink ons as mense het
nie meer ‘n idee wat “vrees vir die Here” beteken nie. Kom ons kyk
na ‘n paar tekse in hierdie verband: Matt 10:28
Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan
doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in
die hel kan laat vergaan. Luk 12:5 Ek sal
vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná
die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees 1 Pet 2:17 Julle
moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer
die keiser. Openb 15:4 Wie
sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? U alleen is
heilig! Al die nasies sal kom en U aanbid, want hulle sal sien dat u
handelwyse regverdig is. Dit lyk my God
reageer nie noodwendig op elke insident waar die mens Hom misken en
beledig nie, en dis dalk juis dan wat die mens so arrogant raak en dink hy
kan doen wat hy wil. Ek dink egter dat die gróót verassing daar voor die
regerstoel van God gaan kom. Daar waar daar ‘n geween en ‘n gekners
van tande gaan wees. Weer terug by
Job: hy het die Here as’t ware uitgedaag en wou vir Hom voorskryf wat om
te doen. Kyk in Jes 45:9-13, hier speel dieselfde situasie hom af: Jes
45:9-13
Ellende wag vir hom wat die Een verwyt wat hom gevorm het, 'n
potskerf tussen potskerwe van klei. Durf die klei vir die een wat dit
vorm, sê: "Wat maak jy?" Durf wat jy gemaak het, van jou sê:
"Hy kan nie sy hande gebruik nie!" Vers 9: “Wat
maak jy?” – doen ons dit nie ook soms nie? Here, wat maak U nou? Here
hoekom het U hierdie krimineel geskep? Here, hoekom laat U dit of dat toe?
Hoekom gryp U nie onmiddellik in nie? Vers 11: “Durf
julle van My rekenskap vra oor wat gaan gebeur?” – sjoe, ons is maar
vrek nuuskierig oor die toekoms, of hoe? Dan gaan sien ons mense wat vir
ons die toekoms kan voorspel …. Daar by die antie met die snaakse
kopdoek in haar karavaantjie op die hoek. Tarrotkaarte, teeblare lees,
handpalm-lees, sterre voorspel, ens. Dis ‘n gruwel in God se oë, weet
jy? Lyk my ons wil nou maar eenmaal weet wat God weet. Vers 11(b):
“Durf julle aan My voorskryf oor My kinders en oor die werk van My
hande?” Ja, jong, ons verstaan nou maar eenmaal nie waarmee God besig is
nie. Job 39:34-38 Toe besef Job
waar sy plek is, en hy blaas die aftog. En waar los dit ons vandag?
Vrees, eerbied, ontsag, respek, liefde, koestering, warmte, eenheid, sagtheid ….. dis lekker by HOM.
|