MET SY HANDE EN SY ASEM


Gen 2:7
Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het.

'n Onbeskryflike kragtige vers! Die Here skep met 'n klomp stof 'n liggaam, en blaas Sy lewensasem daarin om dit te laat lewe. Weet jy, die wetenskap en opgrawings kon hierdie enkele versie nog nooit ooit weerlê nie. Die soeke na Ms. Ples se maatjies, Peking Man, en vele ander sg. "bewyse" na die verlore skakel kon net eenvoudig niks oplewer nie. Charles Darwin se boek "Origin of the Species" kom met 'n model van "survival of the fittest". Maar, hy self verloor na 150 jaar die stryd om bewyse te lewer. Tog word evolusie as feitlik verkondig, sonder een enkele fossiel om dit te bewys. Niks, nêrens, geensins. Daar kon egter op geen enkele manier 'n fout bewys word in Gen 2:7 nie. Niks. Die Bybel sê: "stof tot stof", en dit is wetenskaplik korrek bewys. Gen. 2 praat van die lewensasem wat lewe gee. Heeltemal korrek! Die mens kon geensins lewe skep nie, hy kan dit nie eens behoorlik beskryf nie. Wat is lewe? Ons is gebou van dooie materie. Elke sel, atoom, kwark in jou liggaam is morsdood, maar tog lewe jy. Wat is lewe dan? Dis iets wat nét God kan voortbring en net Hy kan dit onderhou. Waarvoor al hierdie gekarring oor lewe en skepping? - dis tog eenvoudig.

God skep met Sy hand en Sy asem. Nou kom nog honderde vrae: Hoekom lewe ek? Waarvoor? Wat is my doel? Sien God my raak? Het Hy 'n saak met my? JA, verseker. Jy is laaank gelede beplan. Dink bietjie saam met my: die eerste mens is baie lank gelede geskep. Weet nie hoe lank nie, maar volgens Gen 2:7 is stof bymekaargeskraap en asem is ingeblaas. Besef jy dat as net een paartjie in jou hele bloedlyn, regtig so ver terug soos Noag, nie 'n kind sou voortbring nie, sou jy nie nou bestaan het nie? Net een. Miskien sou iemand jou oupa se oupa se oupa 'n onbeplande kind noem. Wel, sê vir die Here dankie daarvoor, anders sou jy dalk nie gelewe het nie. Die Here kom en Hy skep deur genetika, en Hy skep iets só kosbaar, en só spesiaal, só uniek dat daar uit 6 biljoen nie nog so een is nie! Wil jy nie dalk net vir 'n oomblik jouself van buite af probeer beskou nie? Weet jy dat God nie klaar geskep het nie? Hy skep elke dag nuwe wesens, nuwe sterre, nuwe lewensmiddele, plante, diere vir kos vir jou en my. Voedselkettings, balanse in die natuur, suurstof - dis alles Sy handewerk. Só ongelooflik kompleks, só ongelooflik ingewikkeld dat die grootste, mees indrukwekkende mensgemaakte stelsel nie 'n miljoenste so kompleks is as één sel in jou liggaam nie. Boonop gee God ook nog vir jou 'n bewussyn, die vermoë om te kan redeneer, te kies. Hemel, maar jy is "amazing", of jy dit glo of nie! Jy het vermoëns, jy het lewe, jy is gemaak na God se beeld! Hoe op aarde kan jy jouself geringag? En minag? En haat? Nee man, jy is "great"!

Met Sy hande en asem skep Hy jou. Weet jy wat doen Hy toe? Toe stort Hy iets van Homself in jou uit…. liefde!

1 Joh 4:7-13
7 Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God.
8 Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.
9 Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.
10 Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
11 Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.
12 Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.
13 Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee.

Voel jy leeg vandag? Nee my vriend, moenie. As jy 'n kind van God is het jy Sy liefde, en het Hy Sy liefde en Sy Gees in jou uitgestort. Nee, jy is nie God nie, en nee, daar is nie 'n stuk Godheid in jou nie, dit is slegs 'n stuk kwaliteit wat Hy in jou uitgestort het. Dit is iets wat Hy in jou ingeplant het wat maak dat jy anders is as 'n dier. Dis hoekom jy kan onderskei, kan dink en besluit. Dink jy nie jou lewe moet méér wees as wat jy dalk op die oomblik lewe nie? Dink jy nie jy moet streef na meer en beter kwaliteit nie? En nee, moenie dink meer geld en besittings is die antwoord nie. Jy moet gaan soek vir lewe hier binne jou. Lewenskwaliteit en lewensvreugde lê binne in jou opgesluit. Miskien hou jy dit gevange deur jou verlede, of deur leuens wat mense in jou ingeprop het. My vriend, LEWE is meer as asemhaal, en deur die "motions" gaan. Wat kies jy? God se waarhede, of mense se leuens?

God skep jou met Sy hande en Sy lewensasem, Hy het jou gemaak presies soos wat Hy jou wou hê. 'n Skildery, 'n skets of beeldhouwerk gebeur nét as die kunstenaar deeglik beplan, en as hy werk na 'n spesifieke einde toe. God het 'n absolute meesterstuk beplan toe Hy jou geskep het. En om jou innerlik en geestelik te vervolmaak, stuur Hy Sy Seun - in die gestalte van 'n mens. Jy hoef dit net te kies. In die hemel is net volmaakte wesens - mense soos ek en jy wat deur Christus getransformeer is, ten spyte van ons aardse foute.

Nou moet jy net een ding besluit: glo jy dat die Bybel die onfeilbare woord van God is? O, jy doen, nè? Wel, dan moet jy ook die volgende glo:

Sef 3:17
17 Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou

Ek wens so jy wil dit glo, vat dit as 'n persoonlike woord vir jou - jy kán, want dit is die waarheid.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)