|
Terug
na HOOFBLAD
Mnr Wet en Mev
Bruid - 23 Julie 2010
Die wet vs genade
Die onderhouding van die wet
is iets waarmee ons konstant sukkel, omdat ons in ‘n wêreld
leef waar daar oneindige druk op ons is om “volmaak” te lewe. Dan is daar
ook nog konstant allerlei versoekings op ons pad.
Rom 5:20
All that passing laws against sin did was produce more lawbreakers. But
sin didn't, and doesn't, have a chance in competition with the aggressive
forgiveness we call grace. When it's sin versus grace, grace wins hands
down.
Aan die een kant
weet ons die wet is goed, aan die ander kant raak ons moedeloos omdat ons
nie sterk genoeg is om teen sonde weerstand te bied nie. En dan kom Satan
nog en herinner ons deurentyd dat ons nie goed genoeg is nie.
Die vraag is,
waar staan ons met die wet van God, soos gegee deur Moses op die berg? Is
dit steeds van krag, of het Jesus die wet uit die prentjie kom verwyder?
God en sonde
Ons moet eerstens vir onsself uitmaak wat God se siening oor sondes is.
Moet ons onsself troos deur te sê dat ons nou maar eenmaal so gemaak en
so laat staan is? Of kan ons selfs sover gaan om te sê God kan nie te
ernstig oor sondes wees nie, want Sy Seun, Jesus Christus, het daarmee
klaargespeel?
Verseker nie! God haat sondes!
Rom 6 : 23a “As
mense slawe van die sonde is, dan sal God hulle vir altyd laat sterf.”
Ja, ons almal
sukkel daarmee, dis verseker.
Daar is niks goed aan sonde nie, dit is dit! Miskien wil ons sondig
nie, maar ons is almal daagliks in hierdie stryd vasgevang, soos Paulus.
Rom 7 : 14 - 25
Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos 'n slaaf aan
die sonde verkoop. Ek
begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie,
maar wat ek haat, juis dit doen ek. Dat
ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed
is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my
woon. Ek
weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie.
Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die
goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen
nie, dit doen ek.
En as ek nou
doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie,
maar die sonde wat in my woon. So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil
die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep
in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar
ek vind in my doen en late 'n ander wet, wat stryd voer teen die wet van
my gees. Dit maak my 'n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen
en late aan die werk is. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie
doodsbestaan verlos?
Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus
met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en
late die wet van die sonde.
Kan jy
saamstem met Paulus oor hierdie stryd?
Hoe werk dit dan dat die sonde so heerskappy kan voer oor ons, terwyl ons
God se wil ken, Sy wet het en weet dat sonde sleg is vir ons?
Hoekom het God eerstens sonde in die paradys toegelaat?
Hoekom neem Hy nie net die drang na sondes weg nie?
Waar staan ons tans teenoor die wet?
Gal 3:10
Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die
vloek, want daar staan geskrywe: "Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie
stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie."
Dus... volgens hierdie teks kan die wet
jou net help as jy 100% ALLES STIPTELIK doen wat die wet sê.
Wie kan dit regkry?
Is dit nie hoekom ons soms moedeloos voel nie?
God haat sonde, die wet gee nie die oplossing nie en ons kry dit nie
gestop nie, hoe hard ons ook al probeer.
Waar los dit ons dan?
Ons moet op ‘n ander manier uit hierdie dilemma kom, maar hoe?
Die verhaal
van Mnr. Wet en Mev. Bruid
Mnr. Wet was wettig getroud met Mev.
Bruid (die kerk). Hierdie verhouding was egter nie maklik
nie. Mnr. Wet was ‘n baie ernstige en streng
man. Hy was daargestel deur God, en hy het NET gedoen wat God wou hê hy
moet doen. Niks meer en niks minder nie. Mnr. Wet wou net die beste vir sy bruid
hê, maar daar was geen genade nie, hy wou alles volmaak in die
verhouding hê. Mev. Bruid was uiters ongelukkig in
hierdie verhouding, want sy kon Mnr. Wet nooit tevrede stel nie. Sy kon
net nie meer byhou nie. Mev. Bruid het regtig haar beste
probeer, maar sy het dag na dag gefaal. Sy was egter innig lief vir Mnr. Wet met
haar hele wese, en haar intensies was om net goed te doen.
Mev. Bruid het nooit ophou probeer nie,
hoewel sy elke dag gefaal het. Elke dag as Mnr.
Wet die huis verlaat, herinner hy haar van wat hy van haar verwag. Doen
dit, moenie dat doen nie, weerhou jouself van hierdie en daardie.
STIPTELIK!! Elke dag belowe sy hom dat sy gaan probeer en sy sal presies
doen wat hy voorskryf.
Maar... uur na uur raak dit moeiliker.
Soms ‘n slegte gedagte, dan bietjie geskinder, slegte taalgebruik, soms
selfs wellus. Met sommige van hierdie sondes sukkel sy al jare. En dan begin die skuldgevoel, soos elke
dag vantevore. Soos die dag verbygaan, begin sy die voetstappe vrees soos
wat hy huis toe kom. Dan kom hy tuis,
liefdevol soos altyd, en hy vra haar hoe haar dag was. Sy probeer draaie
gooi en so min inligting as moontlik gee, maar dan vra hy die harde vraag.
Hoe het jy vandag presteer? Dan kom sy (soos
elk dag), met die hele sak patats vorendag, en sy bely dat sy dit nie
gemaak het nie. Mnr. Wet ontplof!! Hoe kon jy? Jy weet presies wat reg en
wat verkeerd is! Jy kan
nie sê jy het nie geweet nie!
Natuurlik is Mnr.
Wet reg, 100%, want hy weet wat die beste vir haar is. Al hierdie
onaangenaamheid is tog vir haar eie beswil, nie vir sy beswil nie.
Dan gaan bak sy vir hom ‘n koek, as ‘n
jammer sê geskenk. ‘n Offer, en hy neem dit aan. Want dit herstel die
verhouding. Soos die tyd verbygaan, raak hierdie
verhouding onhoubaar, en sy wil uit dit uitkom. Maar... egskeiding is nie
‘n opsie nie.
Mev. Bruid wil uit hierdie verhouding
losbreek, maar sy kan nie, want sy het haar aan hierdie verbond vasgemaak.
“Till death do us part”. Sy kan tog ook nie haar man vermoor nie,
of hoe? Want God laat ook nie moord toe nie.
Volgens die Bybel kan ‘n vrou tog net uit
hierdie verhouding kom as haar man afsterf.
Rom 7 : 1 - 4
Julle weet, broers - en ek praat met mense wat op hoogte is van
die wet van Moses - dat die wet gesag het oor 'n mens so lank as hy lewe.
Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind so
lank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat
haar aan haar man gebind het. Maar as sy 'n ander man se vrou word so lank
as haar man lewe, sal sy as 'n egbreekster beskou word. As haar man
gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie 'n egbreekster as sy
'n ander man se vrou word nie. Dit is ook die geval met julle, my broers.
Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe
en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand
anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou 'n
vrugbare lewe lei in diens van God.
Mev. Bruid
besluit toe om te sterf. Om te sterf in haarself
Rom 6 : 7-8
Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het
saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal
lewe.
Dit is wat gebeur
as ons tot bekering kom.
Mev. Bruid het besluit dat hierdie die enigste manier is om uit hierdie
ongelukkige verhouding uit te breek.
Toe Mev. Bruid in haarself sterf, word sy toe ‘n nuwe wese.
Die nuwe
verhouding lyk toe as volg:
-
Die nuwe Bruidegom, Jesus Christus, is ‘n liefdevolle, genadige
Eggenoot.
-
Hy hou ook nie van sonde nie, maar Sy
reaksie is anders
-
Wanneer Hy die huis verlaat, herinner Hy
haar ook aan die slegte van sonde, en gee ook voorskrifte, en Hy wil ook
tot haar beswil optree.
-
Wanneer Hy dus weggaan, begin dieselfde
versoekinge kop uitsteek, en sy faal steeds dag vir dag.
-
Wanneer Mnr. Bruidegom tuis kom, krimp
sy steeds ineen wanneer sy vir Hom van haar dag vertel. Maar, Hy word
nie kwaad nie. Inteendeel, Hy het begrip, want Hy was ook ‘n mens.
-
Wanneer sy vir Hom ‘n koek as offer gaan
probeer bak, wys Hy dit liefdevol van die hand, want Hy IS die offer, Hy
het nie een nodig nie!
-
Hierdie verhouding is ‘n gelukkige een,
want elke keer as sy faal, sê Hy net, ons probeer more weer.
Jy sien, die wet
regeer nie meer oor jou nie, hoewel die wet in sy volheid goed is. Die
probleem met die wet is nie sy inhoud nie, maar sy toepassing. Hoe sou ons
immers geweet het wat sonde is as daar nie ‘n wet is nie?
Nou heers Jesus oor ons. Hoewel Hy nie ‘n
kompromie met die sonde aangaan nie, verstaan Hy ons swakhede.
Na bekering
As ons in ‘n verhouding met Jesus staan, is die verhaal Mnr. Wet en Mev.
Bruid nie meer van toepassing op ons nie. Ons is nou in ‘n nuwe verhouding
met Jesus Christus, een gevul met liefde en deernis. Dit verskaf die Here
groot genot as ons probeer om ons lewenspad reguit te stap. Dit gee nuwe
betekenis aan ons lewens en Jesus kan ons beter en beter gebruik. En dit
is ook tot ons voordeel.
Rom 5:20
All that passing laws against sin did was produce more lawbreakers. But
sin didn't, and doesn't, have a chance in competition with the aggressive
forgiveness we call grace. When it's sin versus grace, grace wins hands
down.
Matt 26 : 26 – 28
En terwyl hulle eet, het Jesus brood
geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels
gegee met die woorde: "Neem, eet; dit is my liggaam." Toe neem Hy 'n
beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en
sê: "Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die
verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes".
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|