|
|
|
As ek vandag vir jou sê:- “Moenie tot bekering kom nie”, gooi jy seker die radio van die tafel af, skel my uit as 'n ketter en vra dat Rippel my van die lug verwyder.Wel, vandag wil ek sê:- “Moenie tot bekering kom nie, as / omdat...”
Bekering kan seker net goed wees, of
hoe? Jesus wil tog immers hê almal moet tot bekering kom. Dit lyk so
volgens Joh 6:32–40: Dat nie een verlore sal gaan nie. Dit is ten diepste seker Jesus se hartsbegeerte, en die beste vir elkeen van ons. Voorts is dit duidelik, jy is gered of jy is nie gered nie, jy het tot bekering gekom of jy het nie tot bekering gekom nie. En Jesus sal altyd die enigste weg tot Saligheid wees. Dis wonderlik om jou hart vir die Here te gee en dis wonderlik om die ewige lewe te hê. Ongelukkig is daar 'n paar dinge wat as byvoordele bekering om die verkeerde rede voordelig laat lyk. Daarom wil ek nou by die “as / omdat” gedeelte kom. “Moenie tot bekering kom nie, as / omdat... nie”. Ja, daar kan verseker 'n paar verkeerde redes wees. Moenie tot bekering kom, AS jy dink dit jou uit die moeilikheid gaan haal nie. Ek het al so baie gesien dat probleme, finansiële druk, siekte en slegte omstandighede maak dat mense na die Here toe uitreik. En ja, natuurlik moet ons die Here aanroep in moeilike tye, maar dit is gewoonlik net 'n tydelike geloof. As ons die wet oortree, gaan 'n kitsbekering nie iets aan die probleme verander nie. Probleme is steeds probleme, en straf vir oortredinge sal steeds strafbaar bly.
Daar was al baie teleurstelling by mense
wat dink hulle lewe gaan eensklaps in 'n roostuin verander na bekering.
Ongelukkig is daar te veel prediking wat dié idee voorhou dat Christene
almal welgesteld sal wees, nooit siek word nie en geen probleme sal hê
nie. Dis eenvoudig net nie waar nie. Inteendeel, die Here waarsku nogal
baie teen geld wat te hoog op ons prioriteitslys is. Mense glo ook dat
siekte van die bose kom, terwyl die Here anders sê in Deut 32:39 : Nee, as jy dink jy gaan net 'n seepgladde lewe na bekering ervaar, gaan jy bitterlik teleurgesteld wees. Die Here sê meer in die Bybel dat Hy jou IN slegte omstandighede beskerm, as TEEN slegte omstandighede. Die wonderlike is egter dat die Here ons anker is in swaar tye, en dis makliker om moeilike tye te verwerk saam met die Here. Ja, soms laat Hy wonderwerke gebeur, maar dit kan tog nie ons rede wees om Saligheid te verkry nie. Moenie tot bekering kom, OMDAT jy bang is vir die eindtye nie. Of selfs bang is vir die hel nie. Deesdae is daar ook mense wat totaal oordrewe hamer op die eindtye. Neem die Here gou-gou aan, want die tekens van die tye wys dat Jesus enige dag weer kan kom. Dit kan waar wees, maar my eindtyd kan vannag in my slaap aanbreek, of daar nou groot aardbewings en oorloë woed of nie. Mmm.... blykbaar kan dit selfs so naby as 2012 wees, die nuutste datum vir die eindtyd. Dit terwyl Jesus self gesê het dat Hy self nie weet nie, net die Vader weet. Ek verstaan ook nie eintlik hoekom ek tot bekering moet kom omdat ek bang is vir die hel of die Satan nie. Want, as ek nie in die Here glo nie, is die duiwel ook mos nie vir my 'n werklikheid nie. Iemand wat nie die Here vrees nie, vrees ook nie die Satan nie. Nog nooit van so iemand gehoor nie. Ek hou nie van boodskappe wat oordrewe vrees vir Satan inboesem nie, hy is tog klaar verslaan. Ek wil nie gered wees oor vrees vir die bose nie, al sê die Here ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar die bose magte in die lug. Moenie tot bekering kom oor Satan nie, dis sinneloos. Moenie tot bekering kom ter wille van ander nie. Ons het al op evangelisasie uitreike gesien hoe mense net die regte klanke maak om van jou ontslae te raak. Of mense sê hulle wil tot bekering kom omdat dit die regte ding is om te doen, of hulle ouers verwag dit van hulle. Moenie tot bekering kom vir die verkeerde, selfsugtige redes nie. Hoekom dan?
Joh 6:35 Want Jesus les ons Geestelike honger en dors. Dit is Jesus se liefde wat maak dat Hy ons na Hom toe aantrek. En as Hy ons Hom na Hom toe aantrek, sal Hy ons nooit verwerp nie.
Joh 6:37 Dis ook jou liefde vir Hom wat maak dat jy een wil word met Hom en nooit weer wil wegdraai van Hom nie. Dit alles is verseker wonderlike voordele van bekering. Die grootste van alles is natuurlik dat jy altyd by Hom sal wees. Nou reeds hier op aarde, maar dan ook in die Ewigheid, vir altyd en altyd. DIT is die grootste prys van alles, waar ons in 'n dimensie weg van die slegte goed op aarde is. Dit is wonderlik, maar dis ook wonderlik om elke dag saam met Hom te stap. Jou beste Vriend wat vir jou die pad wys, wat saam met jou is in gevare, Iemand met wie jy jou droefheid en hartseer kan deel en Iemand wie jy kan prys wanneer jy opgewonde en dankbaar voel. Iemand wat jy prys vir jou seëninge en nader aan jou is as jou eie vel. Met jou naam in Sy handpalms is jy toegevou in Sy liefde en hoor jy net dalk die sagte fluistering wat sê:- “Jy is Myne”. Niks met vrees te doen nie, niks met aardse welvaart te doen nie. Net Sy liefde en genade. |