|
MOSIE
VAN VERTROUE IN GOD - 27 Augustus 2008
Ps 125:1-2
Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en
altyd vas bly staan. Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so
beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd.
Vertrou jy die Here? Vertrou jy óp
die Here? Is jy bereid om te aanvaar dat God in beheer is? Glo jy dat God
kan, en sal doen wat Hy belowe het in jou lewe? Kan jy onomwonde 'n mosie
van vertroue in God stel? … 'n mosie van vertroue, of 'n mosie van
wantroue? Wat beteken dit? 'n Mosie van vertroue beteken ek vertrou totaal
op die persoon se integriteit, en op sy vermoë, ek vertrou in sy
leierskap. Dus, ek is bereid om agter hierdie persoon aan te stap. 'n
Mosie van wantroue beteken dat jy glad nie meer in hierdie persoon glo
nie, nie meer dink hierdie persoon kan sy woord gestand doen nie, en dan
die ergste, jy bejeën hierdie persoon met agterdog. As hierdie persoon
iets sê, trek jy 'n wenkbrou op. So 'n persoon het al net té veel
teleurgestel, té veel nie sy woord gehou nie. Hy is nie navolgingswaardig
nie. Ek het die afgelope paar dae myself gaan ondersoek, en gevra:
"Stel ek onomwonde 'n mosie van vertroue in God?" Ek het
ongelukkig nie in my eie oë by die regte antwoord uitgekom nie.
Spr 3:5-6
Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.
Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.
As ek dit waaragtig sou regkry, en
volkome glo dat dit waar is, en dat die Bybel die regte voorskrif gee, sou
ek kon sê dat ek 'n mosie van vertroue in God stel. Volkome. Maar … ek
sukkel, ek maak só baie op my eie insigte staat. Ek maak só baie planne
op my eie. Ek wil altyd 'n plan B opstel vir ingeval God nie na wense
presteer nie. Ek dink ek stel Hom nogal teleur.
Om 'n mosie van wantroue in iemand
te stel, beteken dat jy dink dat daar iemand anders is wat die werk beter
kan doen. En daardie iemand, is dikwels ekself.
Jes 2:22
Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem
uit. Hulle is min werd.
Is dit nie só waar nie? Watter
mens wat reeds afgesterf het kan my en jou lewe verbeter of bystaan, of
iets vir ons doen? Niemand nie, of hoe? Maar God, wat was en wat is en wat
kom, wat gister, vandag en more dieselfde is, Hy kan!! Wat is dan fout met
my? Hy wat 'n onfeilbare rekord het, wat geen mens skade aandoen nie. Wat
miljoene mense aanraak en omstandighede bonatuurlik verander, Hy is mos
waardig om vertrou te word.
Wie is Hy, wat maak Hom so
besonders?
Jes 40:18, 22-26
Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom
gelykstel?
God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos
sprinkane. Hy span die hemel oop soos 'n tentdoek, oop soos 'n tent vir
die mense om onder te woon.
Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof
hulle nie bestaan nie.
Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle
wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die
stormwind vat hulle weg soos stoppels.
Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige.
Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër
laat uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.
Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek
nie.
As ek DIT glo, móét ek mos
aanvaar dat Hy groter is as enige mens, dat Hy almagtig is, en dan wéét
ek mos dat dit die moeite werd is om Hom te vertrou. Volkome! Hoekom doen
ek dit dan nie? Hoekom luister ek eerder na mense? En na myself? Hoekom
maak ek dan op my eie insigte staat?
1) Miskien omdat ek sefsugtig is,
en nét wil hê dat dinge moet gebeur soos ék wil. Miskien is dit omdat
ek net vir myself leef.
2) Dalk is dit ongeduld. Here, hier is die probleem .. en hier is sommer
die oplossing, doen dit asb NOU! Dit lyk my ek het verleer om te wag.
3) Miskien is dit omdat ek te min terugkyk, en my geheue so sleg is. Jy
sien, die Here het my nog nooit, nooit, ooit teleurgestel nie. Hy het nog
elke enkele belofte nagekom, maar altyd op 'n beter tyd as wat ek wou hê.
Maar dit lyk my my geheue is swak. Ek hoef net terug te kyk en te onthou,
en ek sal onomwonde 'n mosie van vertroue in God kan stel.
4) Miskien is dit juis omdat ek te ver in die toekoms wil inkyk, en eerder
vir (en in) more wil leef, as vir vandag. Gister is verby. More gaan dalk
nooit eers gebeur nie. Ek het net vandag. "Yesterday is history.
Tomorrow is a mistery. Today is a blessing".
5) Miskien vertrou ek nie op die Here nie, omdat ek die toekoms benader
met die gedagte dat ék weet hoe dit moet lyk. As ek volkome op die Here
vertrou, is daar 'n ruimte vir 'n interessante, opwindende, aangename pad,
vol verrassings … dalk miljoen keer beter as wat ek dink. Ek beperk as't
ware die Here tot my menslike denkpatrone.
Waarvoor kan ek die Here vertrou?
1) Jes 41:9 "Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp
nie". Wow, wat 'n wonderlike, volledige, allesomvattende
stelling. Ek sal nooit ooit verlore gaan nie. Hy sal my nie verwerp nie.
2) Jes 41:10 "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd
wees nie, Ek is jou God". Jitte, is bekommernis enigsins die
moeite werd? Help dit? Los dit probleme op? Nee! Hoe dan? Die Here sê:
"Ek is by jou. Ek is JOU God" - Hy is God vir jou, asof jy die
enigste mens op aarde is.
3) Jes 41:17 "Die hulpeloses en armes soek water, maar daar is
nie; hulle versmag van dors. Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor,
Ek die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie". Hoor jy wat
sê Hy? Selfs daar waar daar nie water is nie, sal Hy voorsien. Hy verhoor
gebede juis daar waar dit nie sin maak nie. Dis vertroue, om die Here se
beloftes te aanvaar, al sien ek nie die water nie. As die water daar is,
het ek nie veel vertroue nodig nie.
4) Jes 41:11 "Almal wat teen jou te kere gaan, sal teleurgesteld
staan en die aftog blaas. Jou teëparty sal soos niks word, hulle sal
omkom". Sjoe, met God saam met my, wie kan teen my wees?
Wat het ek méér nodig? Op wie sal
ek vertrou? Wie is daar om op te vertrou?
Ek, Willem Botha, stel vandag 'n
mosie van vertroue in God in!! Dit is vandag my besluit. Ek gaan daaraan
vashou, en jy?
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|