|
|
|
Openbaring
21:9-27 WOW!!! Die
kasteel op die koppie. Die paleis in die dorp. Die grootste plek op
skuldbult. Dit alles is sommer niks!!! Hoe klink HIERDIE plek vir jou? Die
beste van die beste boumateriale, die duurste konstruksie denkbaar, die
mooiste, grootste, mees indrukwekkende, weelderigste, mees asemrowende...
Man, geen mens op die hele aarde kan hierdie plek beskostig nie. Geen
Gates, Jackson, olie-sheik, filmster, niemand, maar niemand kan hierdie
plek bekostig nie. Daar bestaan op die hele aarde nie 'n struktuur wat
hierdie plek kan ewenaar nie. Neverland, Graceland, Disneyland is maar 'n
vulletjie teen hierdie plek. Kan jy dink hoe 'n eiendomsagent dit sou
bemark? Duisende slaapkamers, duisende woonkamers, die mees weelderige
boumateriale denkbaar, ja... selfs strate van goud!!! En dan op die koop
toe 100% veilig. Wat sou dit kos om DAAR te woon? Nou ja, wil jy
daar woon? Vir ewig en ewig? Jip, jy kan, en boonop verniet. Heeltemal
verniet. Glo jy dit? Kom ek vra jou:- Sê nou maar iemand vra jou of jy soontoe wil trek, gratis, om vir altyd daar te bly. Daar is net een voorwaarde, jy moet sê jy wil. Dis al!!! Jou trek word gery, al die hervestigingskostes word gedek, jy moet NET WIL. Jy deel in al die voordele, jy het onbeperkte toegang tot alles en jy hoef NIKS te doen nie, behalwe om dit te geniet. Boonop kom die uitnodiging van die hoogste vlak denkbaar, met die nodige dokumentasie wat bewys dat hierdie Amptenaar volmag het om jou te nooi. Nou sê jy:- Ag nee, jong, nie nou nie, ek het 'n nuwe fiets gekoop en ek wil eerder bietjie met hom gaan ry. Die Amptenaar vra:- hemel mens, weet jy wat jy gaan mis? Weet jy dat jy net een kans het? Besef jy hoe bevoorreg jy is? Dan sê jy:- ja, maar wat van my nuwe fiets, ek wil so graag eerder met hom gaan ry. En jy moet sien, hy is rooi met 'n klokkie!! En 'n “carrier” vir my boeksak. Sjoe, sou jy
saamstem dat dit stapelgek moet wees? Luk 14:15-24 Is dit nie
presies wat hierdie mense doen nie? Bid jou dit aan, 'n os vir 'n paleis.
'n Stukkie grond vir 'n Koningswoning. Uitgenooi, deur die Hoofamptenaar
Homself, uitgekies, uitverkies, afgesonder, die witbroodjie wat alles
aangebied word. Die hooferfgenaam!!! Dan
sê hy, nee, ek wil liewer bietjie met my nuwe osse gaan ploeg.
Verskriklik wat die mens vir sy saligheid sal verruil. “Gaan uit na
die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat MY
HUIS KAN VOL WORD”. Sien jy
dat God elke vierkante millimeter van Sy huis gevul wil hê met sy
kinders? Gaan dring by hulle aan om te kom... Verniet!!! Daar staan nêrens
in die gelykenis dat die mense IETS moet betaal nie. Free
lodging, forever. En toe dié by wie die Here aangedring het om te kom,
nie wou nie, sê Hy toe: “Los dit”. Los hulle... Openbaring 3:20 sê:-
“Kyk, ek staan by die deur en ek klop…”- 'n Sagte, kalm,
“gentle” stem wat smeek en uitnooi. KOM!!! Onthou jy hoe ons
as kinders gesê het as ons iemand iets smeek en die persoon wil nie? Dan
het ons gesê :- Stick dit”. Toe se die Here:- “Gaan haal dan die
kreupeles, armes en blindes om My huis vol te maak”. Ek sal vir die
kreupeles weer 'n huppel in die stap gee, die blindes weer oprig om te
sien, en die armes weelde wat hulle nie sal glo nie!!! En die wat dit nie
wil hê nie, kies outomaties die krot van die hel. Gaan dring by die
mense aan om in te kom, My huis moet vol word. Jy sien, daar is baie plek,
genoeg vir almal. Dis net verstommend hoe roekeloos mense omgaan met die
plek waar hulle hulle Saligheid gaan deurbring. Almal, maar almal, gaan
die ewige lewe he, maar nie op dieselfde plek nie. Party se, nee man,
onthou ek het osse gekoop, 'n ander ou het die grondjie en nog een 'n nuwe
vrou. Maar, dan mis mens die beste Bruidegom denkbaar, Jesus Christus. Matt
7:14: “Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen
smal, en dié wat dit kry, is min." Volgens hierdie
teks gaan die minderheid mense in die hemel eindig, en eindig mense teen
'n enorme tempo in die verderf. Die vraag is:- Maak dit vir jou saak? En
nog meer, maak dit vir jou genoeg saak om iets daaraan te doen? Vandag sê
die Here vir jou en my, gaan sleep die mense nader, dring by hulle aan,
moenie nee vir 'n antwoord vat nie, hou aan, smeek, sleep. My huis moet
vol word!!! Nog, nog, meer, jou broer, jou swaer, buurman, jou pa, jou
kind, kollega, almal. Wat is dit wat
mense uithou? Wat is die osse, stukkies grond, vrou-vat wat vir mense
belangriker is? Is dit dalk poppie by die werk, of liefde vir die bottel,
dalk Mammon? Of dalk onvergewensgesindheid? Jesus het mos gesê dat jy nie
vergewe word as jy nie kan vergewe nie. Maak reg, kies,
die treklorrie is dalk al op pad. Gaan jy of
bly jy? Os of paleis? Kies man, kies. Gaan smeek daai ander, klop
die kollega op die skouer en sleep hom saam. Kom jy of bly jy?
|