|
|
|
As jy dink aan Jesus se karakter, hoe sou jy dit opsom? Dink net, Hy gaan meng met die melaatses, die prostitute, sondaars, Hy was Sy dissipels se voete. Wat sou een van die mees opvallendse karaktertrekke wees waarmee jy vir Jesus sou beskryf? Wel, ek dink dit sou nederigheid wees. Op geen enkele plek in die Bybel, sou Jesus deur enige mens of party, as hoogmoedig beskryf kon word nie. En, Hy was baie uitgesproke daaroor. In Gal 5 : 22 sien ons dat dit onder andere die vrug van die Gees is. Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Al die kwaliteite wat Jesus getoon het, en nederigheid staan baie sterk in Jesus se optrede. Teenoor die satan:- In Jes 14 lees ons van die lot van die satan. Jes 14 : 11 "Jy het met jou hoogmoed, met die klank van jou harpmusiek en al in die doderyk beland. Jy lê tussen die maaiers, jy is oortrek van die wurms. Jy wat die helder morester was, is in die grond in verpletter." En dis die lot van die duiwel. As gevolg van sy hoogmoed het hy probeer om hom bo God te stel. Hy het probeer om hom tot bokant die Here te verhef. En het tot 'n liederlike val gekom. Satan se grootste en bekendste karaktertrek, is sy eie ek. Hoogmoed! Hoe lyk hoogmoed vs nederigheid? Luk 18 : 9 - 14 Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10 Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar. 11 Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: "O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12 Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste." 13 Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: "O God, wees my, sondaar, genadig." 14 Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word. Sjoe, nogal sterk woorde. Elke een wat hoogmoedig is ….. In die Bybel kry ons baie daarvan, maar kom ons kyk hoe lyk dit hier op aarde ….. 1. 'n Vinnige toets
vir hoogmoed hoor jy by iemand wat BAIE graag en baie gereeld die woord
"ek" gebruik. Ek dit, ek dat, been there, done that, het vir sus
of so "uitgehelp", jy weet, was dit nie vir MY nie ….. Maar nederigheid is wonderlik. Engelse woorde is "humbleness, modesty, humility, submission". Om jouself onder ander mense in te skuif, minder te wees. Die ander wang te draai. Matt 5 : 38 - 42 Julle het gehoor dat daar gesê is: "'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand." 39 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. 40 As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41 As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. 42 Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie Dis nogal moeilik, of hoe? Dalk 'n BAIE moeilike toets om daardie ander wang te draai. Hoe tree iemand op wat nederig is? So iemand vat nooit krediet vir homself, wat iemand anders toekom nie. Jy sal ook nie sommer aggressie, of woede by so iemand sien nie. Toegeeflikheid , bedaardheid, kalmte, is woorde wat nogal by mens opkom. Dis iemand wat die gawes wat God hom gegee het, uitleef, en gebruik, maar die linkerhand weet nie wat die regterhand doen nie. En dan, om iemand anders toe te laat om hulle gawes voluit te gebruik. Dis iemand wat maklik vir ander erkenning gee vir goeie prestasie, wat graag komplimente uitdeel, wat nie maklik oor sy eie prestasies praat nie. Johannes die doper. In Joh 1 : 27 lees ons "Dit is Hy wat na my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie." Johannes was 'n prominente figuur, maar hy het net die pad vir Jesus kom reguit maak. Toe staan hy terug, sodat Jesus se werk kon begin. Jy sien, hoogmoed maak dat ons in God se pad staan, want dit blok die liefde van Jesus uit. Dan maak ons 'n houtdeur toe tussen Jesus en ander wie Hy deur ons wil gebruik. Nederigheid is soos 'n glasdeur wat oopstaan, sodat ons verlengstukke van Jesus se hande kan wees. 'n Paar toetse vir hoogmoed. · Wanneer ek graag
seker maak dat almal van my prestasies weet. Nederigheid · Om ander op te hef. Onthou net, nederigheid is nie papbroekigheid nie. Dis nie hoe Jesus was nie. Nie met die Fariseërs of niemand anders nie. Hy het gestaan vir wat reg is. So moet ons ook wees, sonder om mense te vertrap. 1 Petr 5 : 5 - 6 En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. 6 Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het Gebed: Here, help ons om vandag nederig te wees en tyd te maak vir ons geliefdes, familie, vriende en elkeen wat ons pad kruis. Amen
|