|
|
|
NÉT BROOD EN WATER - 17 September 2008 Het jy al gehoor van die beste dieët ooit? Dis die mees voedsame, dis ál wat jy nodig het . Dis baie basies , maar 100% vullend. Dit laat jou groei en maak jou sterk. EN …. Dis heeltemal beskikbaar. Ja, dis brood en water. Nét brood en water. En nee, ek is nie besig om jou ontbyt te bederf nie, ek praat van 'n geestelike dieët. Geestelike brood en water. Die mens is nou maar eenmaal honger en dors vir iets geestelik, 'n dieper honger en 'n dieper dors. Dit is ons wese. Elke mens soek na iets hoër as hyself, iets sterker, iets wyser. Die meeste noem dit God, of 'n god. Dis hoe die mens geskep is - soekende wesens. (Hand 17:27 "God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind") Die Bybel gee die volmaakte antwoord van hoe hierdie honger gestil kan word, en hoe hierdie dors geles kan word. Weet jy, die mens is baie liggelowig en sal agter enige "godsiens" aanhardloop wat opgedis word; meeste mense is bereid om enige geestelike kos te eet wat voorgesit word. Ja, selfs hoogsgeleerde mense is bereid om enige iets te eet. Party sal selfs omkom van geestelike honger, maar hulle sal nie die eenvoudige dieët wat die Bybel gee aanvaar nie. Want jy sien, die antwoord in die Bybel klink te basies, dit klink nie of hierdie dieët van brood en water kan versadig nie. Dan soek hulle verder, en verder … sonder om versadig te word. Joh 6:25-35 Joh 6:47-58 Volmaakte, vullende, ewigdurende voedsel. Kan jy sien dat Jesus AL is wat nodig is? Niks meer nie. Geen godsdienstige gebruike nie, geen geestelike fieterjasies of foefies nie. Net Jesus. Nie "Jesus plus.." nie. Niks anders as Sy liggaam nie. Vers 56: "Wie My liggaam eet, en my bloed drink, bly in My en Ek in hom" Water … het jy al water gedrink in 'n bergstroompie? Water wat eintlik soet proe. Hoe verfrissend is dit nie! Joh 4:6-14 Hierdie is 'n bekende verhaal. Dit is só diep, daar is só baie lesse daarin, dat 'n mens seker 'n hele dag lank daaroor sal kan praat. "Maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie". In alle ewigheid! Onthou jy Lasarus en die ryk man? Die ryk man is in die verderf (die hel) en smag na 'n druppel water, omdat hy ondraaglik swaarkry. Maar hy het niks. Jesus sê: "In alle ewigheid". Nie net hier op aarde sal jy nie weer dorskry nie, nee, inteendeel, vir ewig en ewig en ewig … Luister verder wat gebeur in hierdie gedeelte. Die Samaritane was die uitgeworpenes. As jy iets van rassisme wil leer, moet jy gaan kyk wat tussen die Jode en die Samaritane gebeur het. Die Jode het seker nie gedink dat die Messias vir die Samaritane gekom het nie. Jesus bied egter hierdie water wat ewigdurende dors les ook vir die Samaritane aan. Vriend, moet groot asseblief nie dink dat daar enige iemand is wat nie gered kan word nie. Jesus bied hierdie lewende water vir álmal aan. Enige een wat dit wil hê, kan dit kry. Jy ook! Gratis! Jesus Christus is waarlik die enigste brood en water wat ek en jy nodig het. Geen bykosse! Ons het partykeer so baie bykosse - ons noem dit dogma. Byvoorbeeld: neem Jesus aan, en word só gedit en gedat, lofprys op hierdie manier, verander die Bybel bietjie sus en so, verstaan dit op hierdie en daardie manier, woon dié en daai by, ens. ens. Weet jy wat gebeur? Op die ou einde eet ons nét die bykosse. Die bykosse word vir ons só belangrik, dat ons die basiese hoofmaal los. Dit nogal interessant dat Jesus Homself met brood en water vergelyk en nie met kaviaar en Franse Sjampanje nie. Hoekom nie? Miskien omdat Jesus met 'n dienaarshouding aarde toe gekom het - die Koning word 'n slaaf. Die Leeu van Juda, maar eintlik 'n vlekkelose lam. Die Opperheerser, maar Hy het kom voete was. Jy sien, ons probeer so dikwels die verkeerde elemente inbring, die verkeerde dinge beklemtoon, en sodoende besoedel ons die water. Ons los die brood om hard en vol muf te word. Ons kies om dit nie te eet nie. Weet vandag dat Jesus ons wil
versadig. Daarom sê Hy in Openbaring 3:20 "Kyk, Ek staan by die
deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom
ingaan en saam met Hom die feesmaal hou, en hy saam met My" en
Openbaring 2:17 "Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van
die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom 'n wit steentjie gee met
'n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit
kry"
|