|
NET
DIE HERE KAN DIE LAND HERSTEL
Ps 121:1-2
Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp
kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Klink dit nie bekend nie - dalk
soos 'n smeekgebed wat tans in Suid-Afrika opgaan? Dit voel asof dit nie
goed gaan nie, ons sukkel met sóveel slegte dinge in die land. Ek dink
ons almal sou die volgende wil uitroep:
Ps 126:1-3
Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos 'n
droom.
Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: "Die Here
het groot dinge aan hierdie mense gedoen."
Die Here hét groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.
Ek glo jy sit dalk ook met so 'n
bietjie ongeloof in jou gemoed oor hierdie Psalm. Here, waar is U? Hoor U
dan nie die stem van U dienaars nie? Hoe lank moet dit nog so aangaan
Here? Sien U dan nie ons swaarkry en ellende raak nie? Wanneer sal U
ingryp Here? Wat het ons gedoen om dit te verdien? Here, ons God, ons het
U so bitter nodig. Ons land gaan so vinnig agteruit. Gister se mooi en
vrede is verby, Vader, en dit lyk of ons dit nooit weer gaan sien nie.
Here, wat sal van ons kinders word, ons kry swaar met sóveel armoede om
ons. Here, ons sien niks goeds wat voorlê op die horison nie. Here, ons
God, wáár is U as die volk U nodig het? Here, verskyn tog in U almag,
kom, red U volk. Vader, kom red U land. …… 'n Psalm van Willem. 'n
Smeekgebed.
Wie sal ons land kom red? Ons bid
tot die Here en só antwoord Hy:
2 Kron 7:12-22
Daarna verskyn die Here een nag aan Salomo en sê vir hom: "Ek het
jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir
My offerandes gebring kan word.
As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die
sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk
stuur,
en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my
wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en
hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.
Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke
gebed hiervandaan.
En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal
wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal geniet.
"En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en alles doen
wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom,
sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid
ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te regeer
nie.
"Maar as julle wegdraai en my voorskrifte en my gebooie wat Ek julle
gegee het, verontagsaam en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle,
sal Ek julle wegdryf uit my land wat Ek julle gegee het, en sal Ek hierdie
tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal daarvan 'n
spot en 'n skimp maak onder al die volke.
Ja, hoe verhewe hierdie tempel ook al was vir elke verbyganger, die
verbyganger sal dan sy asem intrek en sê: 'Waarom het die Here dit gedoen
aan dié land en dié tempel?'
En die mense sal sê: Omdat daardie volk vergeet het van die Here die God
van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het hulle
aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het Hy
al hierdie groot rampe oor sy volk gebring."
My vriend, kan jy sien dat die Here
reeds hierdie smeekgebed van ons antwoord? Kan jy sien hoe die Here smag
na 'n land wat herstel word? Weet jy dat die here ons gebed WIL verhoor?
Jes 30:19-26
Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil
nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou
gebed verhoor sodra Hy dit hoor.
Die Here het jou honger en dors laat ly, maar Hy wou jou leer, en Hy sal
Hom nou nie meer afsydig hou van jou nie; jy sal self sien dat Hy die Een
is wat jou leer.
Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê:
"Hier is die pad, loop hierlangs."
Dan sal jy besef dat jou afgode, jou beelde wat jy met silwer en goud
oorgetrek het, onrein goed is, en jy sal hulle weggooi soos 'n mens 'n
smerige lap weggooi; jy sal sê: "Weg met hulle!"
Dan sal die Here reën gee op die saad wat jy in die land gesaai het, en
sal jou grond kos vir jou lewer wat ryk en voedsaam sal wees. Jou kleinvee
sal wei in uitgestrekte grasveld.
Die beeste en die donkies waarmee jy die grond bewerk, sal kragvoer kry om
te vreet wat met graaf en gaffel gemeng is.
Dié dag wanneer die vyand by die duisend sal sneuwel en wanneer die
torings omval, sal daar op elke hoë berg, elke hoë heuwel, spruite vol
water wees.
Dié dag wanneer die Here die wonde van sy volk verbind en die seerplekke
genees waar Hy hulle geslaan het, sal die maan so helder skyn as die son
en die son sewe maal so helder as die lig van sewe dae saam.
Die Here sal jou genadig wees as jy
na Hom roep om hulp!
Wat vra ons van die Here? Dalk iets
soos: "Here, herstel asseblief ons land"?
Wat vra die Here van ons? Kom terug na My toe, en Ek sal uit die Hemel
julle gebed hoor, en die land herstel.
My vriend, kom ek vra vir jou:
"Het jy nog die land, en die grond lief waaruit jy gevorm is? Dalk is
jy een van dié wat dit gaan maak om uit te kom, te immigreer. Maar
miljoene van ons kán nie gaan nie - ons is te oud, of ons kan dit nie
bekostig nie, of ons WIL nie gaan nie… en dié wat bly soek so angstig
na die aangesig van dieHere.
Wat gebeur as 60 000 mans gaan
saamtrek op 'n plaas? Of duisende dié naweek in Vanderbijl? Of Loftus
volgepak vir Jesus? 'n Mens moet stokblind wees - veral geestelik blind -
as jy nie sien wat gebeur nie.
2 Kron 7:14
As My volk oor wie My naam uitgeroep is, berou toon en bid, en vra na
My wil en terugdraai van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel
en hulle sonde vergewe, en hulle land herstel.
Ek, Willem Botha, glo dat God
ernstig is oor sy verwagtinge van sy volk, en hulle weer vreugde en vrede
wil gee. Ek glo dat God sy beloftes hou, soos altyd, en dat Hy ons land
gaan herstel.
Vriend, het jy 'n hart vir hierdie
land? Is jy bereid om saam met my terug te draai na die Here toe? Is jy
bereid om te kies om positief te wees, ten spyte van alles? Is jy bereid
om saam te werk om die gety te laat draai? Glo jy dat God kan, en sal doen
wat Hy belowe het? Sal jy saam bid daarvoor?
Waar moet ons begin?
Open 2:1-7
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese: So sê Hy wat die sewe
sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan:
Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle
volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek
ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is
nie, en gevind dat hulle leuenaars is.
Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het
nie moeg geword nie.
Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die
begin nie.
Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen
weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer
nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat!
Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die
Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku.
Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van
die lewe, wat in die paradys van God is.
'n Paar punte:
1) God vra liefde. Eerstens liefde vir Hom, maar ook vir mekaar.
2) Die Here vra van ons 'n skoon lewe. Ons kan nie ander veroordeel, maar
self maak wat ons wil nie. Is ek en jy régtig gehoorsaam?
3) Kom ons ons beloftes aan die Here na?
4) Ons het so baie kritiek omdat Godsdiens uit die skole gehou word, en
dat Godsdiens uit die parlement gehou word - maar hoe lyk ons eie
geestelike lewe?
Ek vertrou die Here vir die
volgende vir Suid-Afrika:
1) Dat regverdigheid sal terugkom
2) Dat ons meer en meer sien hoe ál Sy kinders Hom saam dien.
3) Dat armoede verlig sal word.
4) Dat miljoene na Hom toe sal terugdraai.
5) Dat vrede meer en meer sal terugkom, en misdaad ál hoe minder sal
word.
Ons sal net weet dat die Here al is
wat ons nodig het, as dit al is wat ons het!
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|