|
|
|
So met die reënseisoen kan die veld darem maar eenmaal pragtig word. En nee, jy hoef nie noodwendig Namakwaland toe te gaan daarvoor nie (toegegee, dis baie naby aan Paradys), jy kan sommer net hier langs ons eie snelweë na die veld kyk en jy sien hoe die wêreld transformeer nadat die reën so lustig geval het. Eers begin die swart afgebrande veld plek maak vir groen sprietjies, dan groei die veldgras al hoe hoër en naderhand is die swart weg. En dan, eers hier en daar, dan baie meer, begin die blommetjies uitkom. Dan later, plate en plate blommetjies, so asof 'n onsigbare hand die veld optower soos 'n pragtige skildery van die lieflikste landskap. Verruklik! Onlangs het ons gesien hoe die veld tussen Centurion en die middestad van Pretoria opgedollie word met sulke pragtige pienk-pers blommetjies. Plate en plate van hulle wat sommer so uit die niet verskyn het, en dit het die veld in die mooiste kunswerk opgetower. Die kop waar die Voortrekker Monument staan het die mooiste van mooi geword en dit het talle mense soontoe gelok. Dit was mooi om na te kyk, maar... En daar sit 'n groot “maar” agter hierdie blommeprag. Want dis net die oppervlak wat mooi lyk. Dit wat die oog kan sien kan geen fout vind nie, maar daar is 'n groot “maar”. Die meeste mense sal verstom staan om te weet dat daar niks mooi sit agter hierdie beeldskone blommetjies nie. Op die oppervlak kan dinge nogal goed en aanloklik lyk, dit kan mense van heinde en ver trek, maar dit kan so misleidend wees sonder dat mens dit weet. Weet jy hoekom daar meer agter so 'n saak kan sit? Want ons het nie al die kennis nie! So is dit ook op Geestelike gebied. Mense, groeperinge, bewegings, wat op die oppervlak so goed lyk, maar onder die oppervlak is dinge bietjie anders. En ons besef dit eers wanneer daar kennis bykom. 2 Tim 3:5 “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.” Klink of Paulus nogal de vieste in is vir iemand. Hy waarsku ernstig teen die uiterlike skyn van hierdie mense. Soos die blommetjies by die Monument. Hierdie blommetjies word Pom-Pom blommetjies genoem en is 'n indringer plant van Suid-Amerika en hulle groei geil na goeie reëns. Sommer so vanself. Mens kan jouself natuurlik dan afvra wat die probleem is daarmee. 'n Porche is immers nie 'n Suid-Afrikaanse produk nie maar is mooi en gesog in enige land in die wêreld. 'n Porche is nou maar eenmaal 'n Porche. Net so is die Pom-Pom mos maar mooi op enige plek waar hulle groei. Tot jy meer weet. Jy sien, die Pom-Pom's verdring die natuurlike veldgras en roei dit letterlik uit. Steeds nie 'n probleem nie? Dis tog mooier as veldgras? Die probleem is, dit verdring en roei die veldgras uit wat die diere moet eet. Die Pom-Poms kan nie geëet word nie want dit is bitter en oneetbaar. Omdat dit die veldgras uitroei het die diere nie meer kos nie en die hele natuur ly daaronder. Teen die tyd dat die blommetjies verlep (wat kortstondig groei) is daar nie tyd vir die veldgras om betyds terug te groei vir kos vir die diere nie. Soveel vir hierdie “mooi”... Net so, sê Paulus, moet ons oppas vir dinge wat so mooi kan lyk op die oppervlak, maar sleg kan wees onder die uiterlike skyn. Dinge wat net die uiterlike skyn van die godsdiens het. Hy skryf in hierdie brief aan Timoteus eintlik die volgende waarskuwing:- “My seun, oppas, jy het dalk net nie al die feite wat jy nodig het nie”. Wanneer Paulus
hier vir Timoteus so ernstig waarsku, klink dit eintlik of hierdie goed
nie iets met Christenskap te doen kan hê nie, maar of hy eerder uitvaar
teen heidene en goddeloses. Kwaadpraters, liefdeloos, losbandig, bandeloos, wreed... Klink baie ongodsdienstig. Maar tog sê hy: “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê...” Pragtige pienk Pom-Pom blommetjies op die oppervlak wat duisende mense trek, maar verrot van binne. Eintlik is ek self soms so 'n Pom-Pom blommetjie wat kleurig en geurig is om na te kyk, maar bitter is om aan te kou. Ons moet onsself afvra waarmee ons besig is in ons geestelike lewe. Jy sien, toe mense gestroom het om na hierdie blommetjies te gaan kyk, was dit regtig in opregtheid, sonder slegte bedoelings. Net so is mense op soek na die waarheid en wil in opregtheid gevoed word met Geestelike kos en soek na dinge met Geestelike waarde, maar alle pienk blommetjies hou niks goed in nie. Kol 2:23 Matt 24:23-28 Sommige mense maak nogal mooi prentjies, maar is bitter om aan te kou. Hoe lyk blommetjies wat goed is om aan te kou? Watse werk moet ons vir die Here doen wat goed en reg is? Wil ons nie dalk soms dinge aanpak wat ons nooit moes aanpak nie? Rom 12:1-2 Is dit nie ongelooflik mooi nie? Sonder fieterjasies en sonder pretensies. “Gee jouself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is, dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen”. Nie altyd maklik nie want die Here sê uitdruklik in Sy Woord dat dit nie altyd maklik sal wees nie. 2Tim 4:1-5 Hou vol, byt vas, druk deur. Verkondig die Evangelie. Hier sê Paulus jy moet tydig en ontydig die Evangelie verkondig. DIT is 'n God-grootte projek. Jy sien, as ons dit doen in God se landskap mag ons dalk na niks lyk nie. Geen pragtige pienk blommetjies nie, mense sal dalk nie na ons toe stroom nie, en jy sal soms voel of jy niks bereik nie, maar dit is ware voedsel. Soms lyk ons soos vaal veldgrassies, maar dis eetbaar en voedsaam, dit gee lewe en maak 'n reuse verskil. Dit gee krag, en het waarde. Wees liewer 'n onaansienlike veldgrassie as 'n indringer blommetjie wat niks goeds inhou nie. “Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen...” |