|
|
|
Terug
na HOOFBLAD Iemand sê gister
vir my hy het die volgende vraag by iemand gehoor: “Moet ek elke dag my
sondes bely?” Nog iemand vra: “Kan iemand wat selfmoord pleeg hemel
toe gaan, want hy kon dan nie vergifnis vra vir sy sonde nie?”
Toe ons jonk was het ons altyd gevra: “Is dans sonde?”
(mmm, miskien nie, solank jy dit net nie geniet nie!) Vandag is die
vraag: hoe werk sonde en sondebelydenis? As ‘n ongeredde persoon sonde
doen, en ek, as wedergebore Christen, doen sonde, wat is die verskil dan?
As sonde mens uit die hemel uit hou, hoekom kan ek dan hemel toe gaan as
ek self met sonde sukkel, maar ‘n ander ou mis die hemel as gevolg van
sy sonde? Joh 8:21-30 Jesus is hier aan
die woord waar Hy praat met die Jode. As jy so paar verse terug lees (nog
in dieselfde gesprek) sien ons in vers 12-14 dat daar Fariseërs by was
met hierdie gesprek. Jesus sê: “Julle sal in julle sondes stewe”. Dit
lyk dus of hier so ‘n bietjie van ‘n teenstrydigheid is rondom sondes.
Party gaan in hulle sondes sterwe en party nie. Maar … hierdie
Jode en Fariseërs steek steeds by die wet vas. En ja, die wet is goed,
maar bring nie verlossing nie. Vers 21: “Ek gaan weg, en julle sal My
soek, maar julle sal in julle sondes sterwe” . Hoekom? Want as Hy weg
is, en hulle bly agter, kan daar niks meer oor wees wat vir hulle sondes
kan sorg nie. “Ek gaan, julle bly” . Gaan jy in jou sondes sterwe? Wat is die
verskil dan tussen die twee partye wat albei sondig, maar net een is
gered? Vers 24: “Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes
sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle
sondes sterwe”. Vir my is DIT die Evangelie in een sin. “Ek is wat Ek
is”. Klink bekend, of hoe? “Ek is..” . Wat is Hy? * God die Seun *
Die Verlosser * Middelaar * Lam ter slagting. Ek is wat Ek is, en dan sê
Hy “glo dit”. Geloof is die instrument tot redding. Glo dat Hy is wie
Hy sê Hy is. Hy moes van die hemel afkom sodat ons nie meer in ons sondes
hoef te sterwe nie. Die geheim is om te verstaan dat sondevergifnis iets
is wat eintlik eenmaal, finaal gebeur as ons vir Jesus aanneem. Want Hy
het mos eenmaal gesterwe vir dit wat ons gesondig het, wat ons nou sondig
en wat ons nog gaan sondig. Hy hoef mos nie oor en oor te sterf nie, of
hoe? Dus, as ons sondebesef verstaan, vergifnis verstaan, en vir Jesus kan
aanvaar vir wie Hy is, is die totale oorwinning oor sondes behaal. Vir dit
wat was, is en gaan kom. Ek en jy kan dus lééf in vergifnis. Ek is ook
vergeef vir die toekoms, maar dit gee nie vir my ‘n blanko tjek om te
doen wat ek wil nie. God haat steeds sonde. Natuurlik moet
ons ons sondes bely en vergifnis vra, maar sonde word nie eers vergewe
wanneer ons daarvoor vra nie. Dis klaar vergewe. Nou … hoekom dit dan
vra? Dis om die verhouding te herstel.
Jy sien, as ek en my vrou kwaad is vir mekaar, maak dit ons nie
ongetroud nie. Al voel ek selfs nie getroud nie, ek bly steeds getroud, al
voel ek vir daardie kort tydjie nie gelukkig nie. As ek nou na haar toe
gaan en sê ek is jammer, en sy sê dis reg so, sy aanvaar dit, het ons
nie gou-gou weer getrou nie. Dis mos nou net die verhouding wat weer
herstel is. ‘n Argument tussen ons verbreek nie ons “verbond” wat
ons met mekaar gesluit het nie. Daarom is vergifnis vra nie die sleutel
tot skoonkom voor die Here nie; dit is om te aanvaar wie Jesus sê Hy is
– DIT is die sleutel tot vergifnis. Jesus vergewe ons nie eintlik
insident vir insident nie, maar Hy vergewe ons sondige natuur. Daarom is
ons voor God die Vader skoon, al rol ons in die modder. Jesus skrop ons
onmiddellik, sonder dat daar tyd verloop, weer silwerskoon.
Dit is ‘n kontinue proses. Ja, ons vra vergifnis, maar nie om
elke keer die dood vry te spring nie. Jesus het reeds die volle prys
betaal. “… maar julle
sal in julle sonde sterwe”. Nie ek en jy nie! Skoongewas in die bloed
van die Lam. Vir altyd. |