|
Terug
na HOOFBLAD
ONDRAAGLIKE
LASTE – 24 November 2010
Christenskap word
nogal partykeer ‘n komplekse storie. Daar word gesê dat die internet ons
met so baie inligting bombardeer, dat ons ongekende onderskeidingsvermoë
aan die dag moet lê om te sif tussen feit en fiksie. Dit geld ook vir
Christelike idees, konsepte, ideologieë, en allerlei gelofies en gebruike.
Hoe meer mense, hoe meer opinies. So word ons as Christene dan ook soms
belas met ander se gelowe en gebruike, tot op ‘n punt waar Christenskap
net eenvoudig nie meer lekker is nie. Die laste word te swaar, ons voel
ontoereikend, kan net nie goed presteer nie en meer en meer gebruike word
deur ander op ons afgedwing.
Lukas 11:37-39, 46
Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom
te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem. Die
Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het
om voor die ete eers hande te was nie. Maar die Here sê vir hom: “Ja,
julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar
binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid. Daarop antwoord Hy:
“Julle wetgeleerdes! Ellende wag vir julle ook, want julle laai
ondraaglike laste op die mense, en self verroer julle geen vinger om die
laste te dra nie"
Jesus aan die
woord oor ondraaglike laste. Die Fariseërs was goed hiermee, want hulle
het nie net die wet onderhou nie, maar was ook besonderlik ingestel op
wettiese reëls en voorskrifte. Die Jode het gevolglik baie swaar gekry met
al hierdie reëls en hulle godsdiensbeoefening het vir hulle meer ‘n las as
iets anders geword. Wat sleg was hiervan, is dat dit slegs “godsdiens” was
en daar geen sprake was van ‘n verhouding met God nie. Die lekker het
ontbreek, die Fariseërs het regte pretbederwers geword. En net so, is
Christenskap vandag vir baie mense moeilik, want ons kan nie alles byhou
wat ander glo nie. Wat maak ons met ander se opinies, en veral as dit ‘n
las is wat iemand ander op ons plaas?
1 Kor 8:8-13
Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie,
verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. Maar pas op dat
hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, 'n aanleiding tot sonde
word nie. As jy wat hierdie kennis het, in 'n afgodstempel gaan eet en
iemand met 'n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die
vleis as afgodsoffer te eet nie? Dan gaan die swakke verlore deur hierdie
kennis van jou, en dit 'n broer vir wie Christus gesterf het. Deur so teen
die broers te sondig en 'n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle
teen Christus. Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal
ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.
Paulus het ‘n
wonderlike oplossing. Baie eenvoudig: hy vra net vir wedersydse respek. As
die gewoontes vir iemand belangrik is, dan sal hy net sorg dat hy nie die
ander een laat struikel nie. Sien jy dat Paulus dus by omstandighede
aanpas, en daarop reageer, sodat die ander nie tot ‘n val kom nie. Hy
gebruik nogal ‘n kontroversiële situasie want vleis wat aan ‘n afgod
geoffer was mag beslis nie geëet word nie. Vers 8 sê: wat ons eet bring
ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie,
en as ons eet wen ons niks nie.
Gal 5:1-12
Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in
hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.
Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir
julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom
laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat
van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het
julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.
Wat
ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting
dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. In Christus Jesus is dit nie
van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur
die liefde tot dade oorgaan. Julle was so goed op pad. Wie het julle
verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam?
Wie het julle
omgepraat? Nie God nie; Hy roep julle tot gehoorsaamheid. 'n Bietjie
suurdeeg deurtrek die hele deeg. Ons band met die Here gee my die vertroue
dat julle net so sal dink soos ek. Maar die man wat vir julle in
verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf. Wat my
betref, broers, as ek nog verkondig dat 'n mens besny moet word, waarom
word ek dan nog vervolg? Dan is die kruis as struikelblok mos uit die weg
geruim. Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou
hulleself dan maar heeltemal ontman!
Sjoe, Paulus gee
hier darem maar ‘n reguit en harde woord. Sien jy hoe erg die Bybel is oor
mense wat ander so in verwarring bring met hulle gewoontes en gebruike.
Miskien sou Paulus vandag oor dinge soos Kersfeesvieringe, eet gewoontes,
gebruike, die doop, ens op dieselfde wyse gereageer het. Miskien is die
vraag vandag: Is jy geestelik volwasse genoeg sodat jy self die Bybel kan
lees en self kan besluit oor wat God verwag? Of laat jy toe dat ander jou
so belas dat net ‘n stel reëls oorbly van jou Christenskap, en dit die
vreugde en vrede van ‘n liefdesverhouding met die Here blus?
Oor ‘n maand is
dit Kersfees. Wanneer ons van Kersfees praat, is daar twee groeperinge.
Die een groep wat daarna uitsien, en wat daarvan ‘n spesiale gebeurtenis
gaan maak. Dan is daar dié groep Christene wat nie Kersfees gaan vier nie.
Hulle sê dis ‘n heidense gebruik, dit is die verkeerde datum, die Bybel sê
nie ons moet dit doen nie, ens. Albei groepe is wedergebore Christene. Ek
respekteer albei groepe.
Verder word daar
gesê die kersfeesboom is heeltemal uit.
Jer 10:1-6
Luister wat die Here vir julle sê, Israeliete! So sê die Here: Moenie die
gewoontes van die heidennasies aanleer nie. Moenie bang wees vir die
tekens aan die hemel nie, want dit is die heidennasies wat daarvoor bang
is. Hulle voorskrif om 'n god te kry, is sinloos: hulle kap 'n boom in die
bos af, 'n ambagsman kerf dit uit met 'n beitel, hy versier dit met silwer
en goud, met hamer en spyker slaan hy dit vas dat dit nie omkantel nie.
Sulke gode kan net so min praat as 'n voëlverskrikker in 'n komkommerland;
hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Moenie vir hulle bang
wees nie, want hulle het geen mag om goed of kwaad te doen nie. Waar is
iemand soos U, Here? U is groot, die mag van u Naam is groot.
Sommige mense glo
Jer 10 verwys na ‘n kersboom. Hulle sê jy kap die boom af en versier hom
en hy word nou afgod. Ander sê ek aanbid nie die boom nie, ek soek nie ‘n
ander god nie, inteendeel, ek vier juis Kersfees om my Koning se geboorte
te herdenk. Die boompie is sommer net ‘n simbool van Kerstyd. Die probleem
is wanneer die een groep nie die ander groep se mening respekteer nie. Wat
is my mening? Dis eenvoudig, doen soos jy glo. Ek aanvaar nie meer
ondraaglike laste wat mense op my plaas nie. Ek is mooi groot, ek is ‘n
wedergebore Christen, en ek kan self besluit. Ek wil my Christenskap ten
volle geniet. Ek stel belang in God se opinie, maar leer wel graag by
ander oor hulle menings.
Dieselfde geld
vir die eet van Halaal-kos. Sommige mense kom ernstig in opstand daaroor
en wil nie eet waar daar kos voorberei is vir ander gelowe nie en is
onrustig oor kos met die Halaal teken daarop. Is dit nie juis ook waaroor
1 Kor 8 gaan nie? Jy gaan mos nie jou geloof in Christus verloor nie, of
hoe?
Rom 14:6
Die een wat 'n
bepaalde dag op 'n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die
een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die
een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank
God.
Heb 13:7-9
Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het.
Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van
geloof wat hulle gestel het. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde
en tot in ewigheid. Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde
leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk
word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou
het, het niks daarby gebaat nie.
Moet jou nie laat
meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die hart word deur genade
versterk, nie deur gebruike nie. Jou liefde vir Christus moet jou gebruike
en gewoontes bepaal. Iemand het eendag ‘n baie waar ding gesê: enige
gemeente, of Christelike groep, sal noodwendig leemtes hê, jy sal
waarskynlik nie met alles saamstem nie, want mense is mense. Moet egter
nie toelaat dat mense se gebruike jou van die Here af weghou nie.
As jy vir God wil
wys hoe lief jy vir Hom is, gaan jy dit wys in jou liefde vir mense - nie
gebruike of rituele nie. Of wettiese reëltjies nie. Ek sien ‘n foto van ‘n
ortodokse Jood wat by die klaagmuur in Jerusalem staan en ‘n selfoon teen
die muur druk sodat die een aan die anderkant ook by die muur kan bid.
Dink jy dit het iets met sy liefde vir die Here te doen? Dis net
godsdiens. Baie fieterjasietjies is nét godsdiens.
Lééf vir die
Here, ontdek Hom, kom al hoe nader aan Hom, wees lief vir Sy skepsels, en
geniet jou Christenskap.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|