|
|
||
Matt 11:25-30 'n Eenvoudige boodskap. Klink dit nie vir jou ongelooflik ongekunsteld en gemaklik nie? So sonder aansit, groot woorde en voorwaardes. Jesus se uitnodiging vir jou en my: "Kom, Ek is sagmoedig en nederig van hart". Jesus met 'n "marshmallow"-hart (met respek gesê!). Hy is ongekompliseerd, sonder fieterjasies. Dink jou in, jy loop daar in Jersualem en Jesus loop verby jou. Wanneer Hy jou sien verhelder Sy gesig, Sy stappie raak so bietjie dringend en haastig. Met 'n breë glimlag op Sy gesig gooi Hy sy arms oop en druk jou met mening teen Sy bors was. Gee jou sommer so 'n piksoentjie op jou voorkop en sê: "Kom, Ek wil saam met jou kuier!" Lekker né? DIS Jesus, jou Redder en Verlosser aan die werk. Ongekompliseerd, ongekunsteld, liefdevol. Voel jy nie ook deesdae so bietjie geïntimideer deur ideologieë en dogma en sogenaamde nuwe openbarings nie? Ek kry die anderdag 'n e-pos met 'n amper millitaristiese strekking oor 'n sogenaamde nuwe openbaring - God wat iets aan iemand in die Midde-Ooste openbaar, wat uitwys dat ons as Christene skuldig is aan sekere goed, sonder dat iemand dit ooit geweet het! Verskriklik --- hier sit ons voorouers jare gelede rondom die vuur en langs die ossewa, en mis die punt hééltemal, want hulle het te vroeg vir hierdie "nuwe openbaring" geleef… en pleeg onwetend die een of ander groot sonde! Intussen sit hulle net in afhanklikheid en nederigheid en bid vir krag vir nog 'n swaar dag wat voorlê. En so probeer die arme verhongerde vrou in Zimbabwe uitroep: "Nkosi, stuur vir my kind wat sterf bietjie kos". Sy weet niks van die dreigende eindtye nie, of dat sy dalk bevryding moet kry sodat dit manna kan reën nie. Of meer nog, is sy "reg" gedoop, en waaruit sal sy haar nagmaalwyn drink? Ek wonder … oorkompliseer ons nie dinge soms te veel nie? Ja, miskien moet hierdie vrou ook nog die boodskap wat sy so pas gekry het vir sewe ander in die sand gaan skribbel, en natuurlik ook weer voor die een wat dit pas vir haar gegee het - net om te wys sy's nie skaam nie, weet jy? (Ons stuur mos deesdae sulke e-posse vir mekaar …) NEE, haar geloof in haar Skepper is ongekompliseerd, net sy en God. Jy weet, Jesus het ongekompliseerd te werk gegaan. Geen moeilike wette, gekompliseerde openbarings. Hy het nie eers gekom as 'n Fariseër of 'n Skrifgeleerde nie. Nee, sommer net as 'n skrynwerker. Luk 2:46-47 1 Kor 1:19 Matt 11:25 Vir wie moet ons luister? Ek dink ons moet maar soms vra: "Sê wie?", want net té veel mense wil "sê jou sê"! Ek dink ons moet vir Jesus luister. Hoe lyk ongekompliseerde
Christenskap? Hoe is dit by Jesus? Kom ons gaan weer terug na die stofstraat in Jerusalem. Nadat Jesus jou 'n vet druk gegee het, vra Hy hoe dit met jou gaan, en dan praat jy met Hom soos met 'n vriend. Ja, Hy is heilig, maar nie 'n onverbiddelike MD nie. Hy het regtig 'n "oop-deur-beleid". Ja, Hy is Koning, maar nie 'n diktator nie. Redder, maar nie veroordelend nie. En nee, as jy Hom aanspreek as Pappa, dan gryp Hy nie Sy swart boekie en skryf jou naam op omdat jy Hom "verkeerd" aangespreek het nie. En as jy op sy skoot wip, dan is daar nét deernis en sagtheid in Sy oë, want jy, sy kosbare besitting is by Hom. Ongekompliseerd, ongekunsteld. Hy "laaik" jou nes jy is, man! Ef 4:14
|