ONTNUGTERING


34 jaar gelede klim Willempie mos trein “army” toe in Potch, want dit was my beurt. Baie army-praatjies gehoor, ouens se verhale ingedrink en my kop heeltemal reg gekry. En baie uitgesien! Ouboet was al daardeur, en ek het gedink ek is voorbereid vir wat op my wag. Hulle sê mos die army is nie vir sissies nie, en ek is g’n sissie nie. 

Maar genugtig! Kry ek die ontnugtering van my lewe toe ek daar aanland. Hierdie klomp korporale was wild; hulle vloek jou, jou ma, jou hond en sommer alles waaraan hulle kon dink. Dit was ontnugtering, so uit die boek! Ek glo ons almal kan getuig van tye waar ons ontnugter was omdat dinge net honderd maal erger was as wat ons kon dink. 

So terloops, as jy dalk een van dié mense is wat so uit onkunde praat van ons tronke as ‘n 5-ster hotel, daag ek jou uit om jouself daar te gaan inboek.  Jy sal ontnugterd wees met hoofletters. Jy het géén idee hoe erg dit daar is nie. 

So sal baie mense se oorgang na die lewe hierna met ontsettende, skokkende, verwoestende ontnugtering gepaard gaan, want dit wat vir party mense voorlê, sal die army en die tronk soos ‘n speelparkie laat lyk. Daar is baie menings oor wat anderkant hierdie lewe se drempel lê, en die Bybel praat baie duidelik oor ‘n hel, ‘n bose vuur wat wag – verskrikking. Sommige mense verwys slegs daarna as ‘n toestand wat net deur God verlate is. Ek dink nie dis net dit nie. Hoe dit ookal mag wees, ek gaan nie ‘n kans vat nie – ek wil NIE daar wees nie. 

Die teenoorgestelde van ontnugtering kan net verwondering wees. Het jy al by ‘n plek gekom wat net eenvoudig jou asem wegslaan, dat jy nie kan glo dat iets so ongelooflik besonders is nie? Iets wat jou wildste verwagtinge oortref, beter as in jou grootste, beste drome? 

Elke wedergebore Christen glo dat daar so ‘n plek moet wees soos die hemel. Weereens is daar verskeie interpretasies. Die meerderheid glo dit is ‘n ander plek as die aarde, ander glo die aarde sal net in ‘n “nuwe aarde” omskep word, waar God sal afdaal uit die hemel en by die mense kom woon. Beide groeperinge staaf hulle sieninge uit die Bybel en glo hulle sieninge word oorweldigend ondersteun deur die skrif.   

Ek dink die verwondering wat dié wat in die hemel kom sal beleef, sal “out of this world” wees.  

Jy sien, jy kan nie ‘n fout maak deur hierdie opsie te kies nie. Die Here gee nie regtig baie detail oor die twee opsies  in die Bybel nie, maar dat daar ‘n breë afstand tussen hierdie twee plekke is, is duidelik. 

As dit vir jou ontnugtering is, gaan dit ‘n woeste ontnugtering wees. En as die verwondering is, sal jy jou oë nie kan glo nie. 

Luk 16:22-31
“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’ Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’ Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’ Hy antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’ Maar hy sê vir hom: ‘As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.’ ”     
 

Hierdie ryk man was ontnugter, meer as wat hy ooit in sy lewensbestaan kon dink. Jy sien, hy het elke dag van sy lewe geleef vir “vandag”. Miskien was hy ‘n roekelose, goddeloses ou, wat geen saak met die Here gehad het nie. Dalk was hy ‘n uitgesproke ateïs. Miskien sommer net traak-my-nie-agtig, en het hom min gesteur aan waarskuwings van ander. Dalk het hy selfs gereeld tempel toe gegaan en gedink dit sou hom kwalifiseer – net ingeval daar ‘n hemel en ‘n hel was.  Miskien het hy gesoek na God, maar niemand het hom vertel van die Verlosser nie. Dalk het hy geglo die hel-stories is sommer net bangmaak-goggatjies. Miskien het hy geglo hy sal maar eendag sy lewe met God regmaak, want nou sal dit dalk net sy pret bederf. Toe kom die ontnugtering, ‘n ongelooflike skok. Interessant genoeg, probeer hy nie daar uit kom nie, want hy het geweet daardie hekke is  vir ewig toe, die kloof net te wyd. Hy wou egter nie hê sy broers moet op dieselfde manier ontnugter wees nie. Die skok was vir hom een te erg. Hy het nie besef wat Rom 14:11 beteken nie: “So seker as ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is”. Lasarus het sy knie voor sy dood gebuig, en bely dat Jesus die Here is, en hy het gekwalifiseer vir die hemel. Die ryk man het sy knie voor God gebuig met sy afsterwe, en of hy wou of nie, bely dat Jesus die Here is .... maar dit was te laat. Wat ‘n ontnugtering! 

Openbaring 21:9-27
Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. “Kom,” het hy gesê, “ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na 'n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom. Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste edelsteen, soos 'n kristalhelder opaal.  

Die stad het 'n groot hoë muur met twaalf poorte. By die poorte is daar twaalf engele, en op die poorte is daar name geskrywe, dié van die twaalf stamme van die volk Israel. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. Die stad se muur het twaalf fondamente, en daarop is daar ook twaalf name, dié van die twaalf apostels van die Lam. Die engel wat met my gepraat het, het 'n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet. Die stad is vierkantig, net so lank as wat hy breed is. Hy het die stad toe met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en die hoogte daarvan is dieselfde, twaalf duisend kilometer.      

Hy het ook die muur om die stad gemeet. Dit is honderd vier en veertig meter hoog. Die engel het die mate van mense gebruik. Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos 'n skoon spieël lyk. Die fondamente van die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag,

die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis. Die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, blink soos 'n spieël. 'n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam. Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie.       

Die mense sal die luister en die rykdom van die nasies daarheen bring.

Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.         

Verwondering! Wat meer is daar om te sê? Ek dink wanneer ons die dag DIT sien, sal ons ons hande saamslaan in verwondering. Ek kies hierdie kant. Nee, ek verdien dit nie, ek kies dit. Jesus sê: kies My, en jy kry dit. Jy weet baie goed hoe daardie keuse lyk: as jy roekeloos lewe, kies jy hierdie verskriklike ontnugtering. As jy vir Jesus aanneem, kry jy hierdie ongelooflike verwondering .... jou keuse.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)