|
|
|
Wat is die grootste oorlog waarvan jy weet? En wat die langste aangehou het? En die meeste mense geaffekteer het? Tweede wêreld oorlog? Vietnam? Die grootste oorlog, ooit, wat die langste aanhou en een wat elkeen van ons affekteer, is natuurlik 'n geestelike oorlog. Nou, as ek vir jou vra om 'n teks aan hierdie gedagte te koppel, sal jy waarskynlik dink aan Ef 6 : 12. "Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug". Dus, nie 'n stryd teen vlees en bloed nie. Die vraag is net, is ons dan nog steeds aan hierdie deel van die oorlog onderworpe as ons reeds gered is? Jesus het dan klaar die oorwinnning aan die kruis behaal, hoekom dan hierdie stryd? Die antwoord is eenvoudig, hierdie is net een kant van die muntstuk. Die grootste oorlog waarin ek en jy vasgevang is, is tussen die Gees en die vlees. Kleingelowigheid - iets wat ons daagliks mee sukkel, almal. Die oorlog tussen die gees en die vlees. Tussen sonde en reinheid. Ek praat nie van om gered te wees aldan nie. Ek praat van ons wat reeds gered is, wat klaar vir Jesus as ons Saligmaker gekies het, en wat reeds die ewige lewe besit. Iets wat ons elke dag in die grond inry. Die stryd tussen die gees en die vlees. Rom 7 : 12 - 24 Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed. 13 Beteken dit dat iets wat goed is, vir my die dood gebring het? Beslis nie. Inteendeel, die sonde het vir my die dood gebring. Dit het die sonde gedoen deur iets wat goed is, sodat die sonde in sy ware aard as sonde bekend sou word en dit deur die gebod sou blyk hoe skrikwekkend die sonde werklik is. 14 Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos 'n slaaf aan die sonde verkoop. 15 Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16 Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. 17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18 Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19 Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20 En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 21 So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22 Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23 maar ek vind in my doen en late 'n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my 'n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. 24 Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Hier praat Paulus van hierdie stryd. Tussen goed doen en sleg doen. Dan roep hy uit in desperaatheid as hy sê, in vers 15: "Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat , juis dit doen ek." Klink dit vir jou ook bekend? Hierdie wroeging waaraan ons elke dag onsself onderwerp. Die sondes wat ek juis so haat, dit doen ek. Ons troetelsondetjies. Hierdie goed wat op ons gewete inwerk, en ons só skuldig laat voel, juis dit doen ons. So roep Jesus ook uit in die tuin van Getsemane as Hy vir die dissipels vra om saam met Hom te gaan bid. Matt 26 : 41 "Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak". Het jy jou nie ook al voorgeneem om sekere dinge te laat staan nie, om weg te draai van goed af, om maar net weer te struikel nie? Moeilik, nè? Die vlees wat konstant hunker na sonde, hierdie aardse goed wat daagliks op ons pad kom, en ons gees. Ons is liggaam, siel en gees. Die gees (met 'n klein 'g') is waar ons konneksie met God plaasvind. Ons diepste, innerlike wese, wat deur die siel (dit wat lewe is), met die liggaam verbind. Dis waar ons verhouding met God plaasvind, waar ons diep Geestelike besluite maak, en ons Christenskap beoefen. Juis daar kom satan en hou vir ons 'n alternatief voor. Die vlees, dit wat elke mens mee gebore word, en ook die plek waar sonde plaasvind. Nou herinner ek jou net weer, hierdie stryd (tussen vlees en Gees), is nà bekering. Voor jou bekering maak die stryd nie eintlik saak nie. Dan is die stryd meer teen die bose geeste in die lug, wat veg om jou van die Here af weg te hou. Jy sien, na jou bekering, gee satan nie op nie. Dan is ou sekelstert eers op sy perdjie. Ek wil egter net een ding hieroor sê:- Kom ons gee nie links en regs vir die duiwel die skuld nie. Want soms is dit sommer net onsself wat die verkeerde besluite neem. Maar ja, die oorlog is aan die gang. Vlees vs gees. Nou, hoe oorwin ons dit? Deur Jesus Christus. En Hy sal weet van hierdie goed. Hebr 4 :15 "Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie." Maar nou, ek en jy is nie God nie. Waar los dit ons dan? Jesus, het vir àl hierdie swakhede en oortredinge gesterf. Juis omdat ons nie die vermoë het nie, want ons is mense - was dit nodig dat Jesus in Sy Godheid dit namens ons kom doen. Maar hier is 'n waarskuwing:- Galasiërs 5 : 13 "Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde" 1 Petr 2 : 16 "Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien." En as die vlees dan wil gedy oor die gees? Wat dan? Sonde is sonde!! Onthou een ding. Oorwinning oor sonde is soms 'n ding wat eensklaps kom, mens doen dit nooit weer nie, verby. Maar, soms is dit 'n geweldige stryd!! Hier kom die kruks. Elke keer as ons nee sê vir iets verkeerd, is dit oorwinning. Elke keer slaan jy die duiwel bloedneus. En so, stadig maar seker, kom die finale oorwinning. Een elke keer, is daar 'n proses van belydenis, en vergifnis. Kom ons staan vas. As die vlees wil oorneem, kom ons roep die hulp in van die Gees (met 'n groot "G") Gebed: O Heilige Gees, wees ons naby in tye van versoekinge. Maar Jesus, dankie dat U aarde toe gekom het en vir ons sondes gesterf het. Amen
|