|
|
|
PAULUS - 'N SKETS Ons praat vanoggend oor Paulus, voorheen Saulus. Sommer net so 'n klompie interessanthede oor een van die merkwaardigste mense in die nuwe Testament. 'n Ou waarin daar woeste transformasie plaasgevind het, toe Jesus hom tref. Net so kan Jesus vandag ons oortref soos vir Paulus. God het vir Paulus nodig gehad vir 'n spesifieke taak, en toe hy nie self wou draai nie, toe draai die Here hom. En Hy transformeer hom van - Vervolger - Navolger Woeste ou, maar sy bedoelings was aanvanklik goed. Hy het geglo die Christendom was 'n bedreiging vir die Judaïsme. O jitte, maar toe ontmoet hy die lewende Jesus!!! Maar eers so 'n paar feite oor Paulus. 1. Hy was 'n toegewyde Fariseër, en het die
ou-Testamentiese geskrifte goed geken. Hy was 'n student van Gamalië 1,
en het goeie opleiding gehad. Dus 'n redelike geleerde man. 'n Baie baie merkwaardige man. In die Bybel begin Paulus (oftewel Saulus) se verhaal in Hand 7 : 8 waar hy by was met Stefanus se dood. "Die getuies het hulle klere neergesit by 'n jongman met die naam Saulus". En dan Hand 8 : 1 "Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur." Hand 8 : 1 - 3 Maar shame, nie lank gehou nie. Hand 9 : 1 - 5 Wie is U, Here? Ek is Jesus. Wow, hoe ongelooflik, die manier wat Jesus Homself openbaar. Nie, "Ek is die Here" of "Ek is God" nie. Nee "Ek is Jesus, die een wat jy vervolg". Paulus het nog altyd in God geglo, en Hom verdiep in sy godsdiens, maar hy het vir Jesus se volgelinge vervolg. En dis Jesus wat op hom afkom. Amazing!! Nou ja, die res is (soos hulle sê), geskiedenis. Saulus word Paulus, later Hand 13 : 9 (En Paulus, dit is Saulus) begin onder die nie-Jode werk. Sy hooftaak waarvoor God hom oproep. Maar boeta, dit was nie maklik nie!! 2 Kor 11 : 21b - 31 Vyf maal die 39 houe straf = 195 houe op sy lyf - met 'n sweep met staalpunte. Elke hou het sy liggaam oopgekloof, oor sy hele lyf. Wat waarskynlik met sulke dik, opgehewe letsels gesond geword het. Hemel man, die man moes soos 'n jigsaw puzzle gelyk het. 195 hale. Drie maal lyfstraf - by die Romeine - hulle het nie soos die Jode getel tot 39 nie ('n Joodse wet dat 40 nie oorskrei mag word nie). Die Romeine het geslaan om dood te slaan. Net waar hulle plek kry. Gestenig, hongersnood, seerowers, amper op 'n skip vergaan. Sonder bedekking teen die koue. En eventueel het hy gesterf vir sy geloof. Hoekom het hy dit gedoen? Why bother. Eers vervolg hy christene, met die hele gesags- en regstelsel agter hom, en dan draai alles om, en sy aardse lewe verander in hel. Hoekom op aarde doen hy dit? Hoekom so swaar kry? Paulus gee self die antwoord. 1 Kor 9 : 16 "As ek die Evangelie verkondig, is dit nie vir my 'n rede om te roem nie. Ek verkondig die Evangelie omdat ek moet, en wee my as ek dit nie doen nie". Fil 1 : 21 "….. want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins". Dis hoekom Paulus dit doen. Toe Jesus aan hom verskyn, toe verstaan hy. Solank hy lewe, kan hy Christus verkondig, maar as hy sterwe, is hy in die hemel, by Christus. Paulus is reeds vir 2000 aardse jare, saam met Jesus in die hemel. Paulus het net een lewenstaak gehad, en dit was om siele vir Christus te wen. Hoe vaar ek en jy? Hoeveel hale is op jou lyf? Wat is jou skip wat vergaan het se naam? Al koud en geskrap vir die Evangelie? Of gestenig? Hoeveel keer het ek en jy honger gaan slaap vir die evangelie? Siestog, dan sê ons ons Christene begin meer en meer vervolg word!! Raak moeeeeilik om 'n Christen te wees. Sou ons 'n Paulus-toets slaag? Ek glo nie. Maar kom ons gaan saai ook die saad, dis vreeslik maklik - hier in Suid-Afrika.
|