PILATUS, PILATUS….


Joh 18:28-40
Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet.
Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: "Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?"
Hulle het hom geantwoord: "As hy nie 'n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie."
Pilatus sê toe vir hulle: "Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet." Maar die Jode sê vir hom: "Ons mag nie iemand teregstel nie."
Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.
Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: "Is jý die koning van die Jode?"
Jesus het hom toe gevra: "Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?"
"Ek is mos nie 'n Jood nie!" antwoord Pilatus. "Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?"
"My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie."
"Dan is jy tog wel 'n koning?" vra Pilatus. "Dit is soos u sê: Ek is 'n koning," antwoord Jesus. "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê."
"Wat is waarheid?" sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: "Ek vind geen skuld in hom nie.
Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die Paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?"
Hulle skreeu toe terug: "Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!" En Barabbas was 'n rower.
 

Ja-nee, Pilatus, hulle stuur toe vir Jesus van bakboord na stuurboord. Almal wil Hom vervolg, maar niemand wil hom verhoor nie. En toe land Hy by jou. Nogal ‘n tameletjie, of hoe? Jy wou Hom nie eers in jou ampswoning laat inkom nie, jy verhoor Hom toe sommer daar op die stoep. Annas en Kajafas was beide te lafhartig om Hom te verhoor, toe erf jy die probleem. Genade, as Goewerneur kon jy seker beter doen as dit? En toe jou moed jou begewe, toe wil jy sommer hê die Jode moet maar maak soos hulle wil. Maar ook hulle het nie die moed gehad nie. Nogal interessant hoe jy jouself toe toespin in hierdie vrae wat jy Hom vra. Was dit om jouself te vergewis van die waarheid? Of het jy begin kleitrap toe Hy jou vrae reguit en onverskrokke antwoord? Weet jy, Pilatus, die vrae wat jy Hom gevra het, hou die wêreld al 2000 jaar besig. 

Jou eerste vraag was so in die kol. Dit word vandag nog gevra: “Is jy die Koning van die Jode?” Jy sien Pilatus, lyk my hierdie vraag het dieper uit jou wese gekom as wat jy self gedink het. Jesus het jou nogal skerp geantwoord: “Vra u dit uit u eie uit, of het ander dit van My gesê?”  Jy kon nie eers antwoord nie. Net: “Ek is mos nie ‘n Jood nie?” Jy’t nogal getwyfel, Pilatus, of hoe? Soos miljoene vandag ook doen. 

Pilatus, Pilatus. Ek wonder vir hoe lank na die kruisiging jy met hierdie vraag geworstel het. Toe sê Jesus vir jou: “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê”. Sjoe, Pilatus, ek dink hierdie stelling het jou geboul. Ek wonder nogal hoekom het jy gevra: “Wat is waarheid?”. Het jy regtig belanggestel in die antwoord? Jy het nie eens gewag vir ‘n antwoord nie! Was jy bang dat jy nie kon onderskei tussen waarheid en leuen nie? Jy sien Pilatus, selfs vandag, 2000 jaar later, trap die mense steeds klei met hierdie vraag. Ek weet nie wie het die grootste voordeel gehad tussen my en jou nie, Pilatus. Jy het die voorreg gehad om Hom in die oë te kyk en Hom die vraag te vra. Ek het die voorreg om die Woord van God te hê, en soms twyfel ek net soos jy. Lyk my ek moet maar stilbly, want ek reageer maar net soos jy. As ek met die vraag gekonfronteer word, draai ek, nes jy, maar soms my rug op Hom. Ja-nee, Pilatus, ek en jy is maar voëls van eenderse vere. 

‘n Ander vraag wat jy gevra het, het my nogal diep laat dink. Toe jy vra;” Waar kom jy vandaan?” Ek wonder hoekom jy dié vraag gevra het Pilatus? Jy het tog sekerlik van die boekrol van Jesaja gehoor? Jes 53 het die antwoord gehad – al die tekens, die profesieë, alles. 

Pilatus, Pilatus, toe gooi jy al jou mag en gesag in die water. Jy vertel vir Jesus dat jy die mag en gesag het om Hom los te laat of jy kruisig, maar jy doen dit nie. Eintlik het jy nie eers een van die twee opsies gekies nie. Jy laat sommer ‘n rower vry, en los die keuse vir die Jode. Wel, wie is ek om te praat? Ek maak dikwels ook so. Praat so met ‘n gesplete tong. Bietjie reg, en bietjie verkeerd. Maak asof ek nie presies weet met wie ek te doen het nie. Ek laat dan maar Barrabas (of te wel, my eie misdadigheid) sy gang gaan. Maar … hier moet ek jou gelukwens. Jy kom met die slimste truuk in die boek vorendag: was jou hande in ‘n patetiese skotteltjie om te sê: “Ek het niks verkeerd gedoen nie”. Dink jy jy het jou sonde daar afgewas Pilatus? Dink jy alles was maar okei met daardie handeling Pilatus? Was dit dalk jóú doopteken? Al wat jy gedoen het Pilatus, was om die blaam te skuif na iemand anders toe. Jy het nie die “guts” gehad om verantwoordelikheid te vat nie. Maar weet jy Pilatus, ek is nes jy. Skuif die blaam gereeld na ander toe. Soms na omstandighede, of my eie swakhede, en ja, dikwels na die duiwel toe. Ons sukkel maar Pilatus, of hoe? Kry nie erken (of bely) dat ons skuldig is nie. Vat nie verantwoordelikheid vir ons tekortkominge nie. Ek wonder of my skotteltjie groter as joune is? 

Ja Pilatus. Toe vat hulle Hom weg. Ek wonder of jy op ‘n afstand gaan kyk het wat toe gebeur? Hoe het jy gevoel toe jy so in die vêrte sien hoe hulle Hom aan die kruis vasslaan? Vir jóú Pilatus, het jy geweet? Het jy berou gekry? Of het jou hande steeds vuil gevoel, ten spyte van jou koekie seep? Of het jy gedink jy is ‘n slagoffer van die Ou-Testamentiese profesieë? Ek wonder waar is jy vandag, Pilatus?  Is jy by Hom, of is jy nie? As jy by Hom is, sal jy nou die antwoord op al jou vrae ken: Is jy ‘n Koning? Wat is die waarheid? Waar kom Jy vandaan? As jy nie by Hom is nie Pilatus, gaan jy ook die antwoorde ken, maar dan is dit te laat. Weet jy, Pilatus, as jy net wou glo wat Hy gesê het: “Ek is die Weg, en die Waarheid en die Lewe”. As jy net sou kruis toe stap, sou jy weet dat die kruis jou sou dwing om iets te kies. Dan sou jy geweet het dat Hy daar hang, vir jou, soos vir my. Ja, Pilatus, so sukkel die wêreld vandag met hierdie drie vrae: Is jy die Koning? Wat is die waarheid? Waar kom Jy vandaan? Ons ken vandag die antwoorde Pilatus, want die Woord sê vir ons, maar tog, sukkel ons net soos jy om dit te glo. Weet jy Pilatus, ek wens jy kon net één van Sy kruiswoorde hoor: “Tetelestai” – dit is volbring. Weet jy, Pilatus, ek weet nie wat jy uiteindelik gekies het nie, maar Goddank, ek kan nog kies! 

Daar is drie eenvoudige antwoorde:

  • Ja, Hy IS die Koning

  • Hy IS die weg, die waarheid en die lewe

  • Hy het van die hemel afgekom om vir my sondes te sterf.

TETELESTAI! Halleluja!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)