|
|
|||
Vandag
wil ek jou vra: glo jy in ‘n toekoms, het jy ‘n verwagting vir ‘n
toekoms, ongeag van waar jy jou vandag bevind – of dit nou in
Suid-Afrika is, of New Zealand, Australië of Zimbabwe? Jer
29:11-13 “Ek
wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting..” Hierdie is geskryf
vir ‘n volk in ballingskap … watter toekomshoop kon hulle tog daar in
Babel hê? Luister verder hierna: Jer
29:4-11 Wow,
kan jy dit glo? In ballingskap, IN Babel, IN ‘n vreemde land, sê die
Here hulle moet met ‘n toekomsverwagting leef. Nou
kan jy vir my vra: waar kom die boom nou in? Wel, om ‘n boom te plant
simboliseer ‘n hoop en verwagting op iets wat jy nie self gaan leef om
die uiteinde te sien nie. Jy sien, baie mense is tans in ‘n staat van
hooploosheid vasgevang, soveel dat ons oordrewe na die eindtyd smag.
Ons hoor daagliks boodskappe van die eindtyd wat om die draai is.
Ons soek na die tekens in die lug en kry dit ook. Maar hoe ver is
“naby”? Miskien sien ons die “eindtyd” as ‘n uitkoms vir hierdie
wrede wêreld. Gaan ons ophou lewe as ons sou weet dat ons aardse bestaan
oor ses maande tot ‘n einde gaan kom? Nou vra ek jou: sal jy bereid wees
om ‘n boom te plant saam met my, as ‘n simbool van verwagting vir ‘n
toekoms? Om die Here te vertrou vir ‘n more en ‘n oormore, waar ons
kinders en kleinkinders dalk nog hierdie aarde gaan bewandel? Jes
44:3-4 Dink
jy regtig die Here het opgegee op Sy skeppingswerk, Sy skepsels wat na Sy
beeld gemaak is? Hoekom kyk ons dan so kortsigtig? As jy op pad is Kaap
toe, gaan jy mos nie halpad stop en omdraai as die pad vol slaggate is
nie? ‘n Slegte pad beteken tog nie die Kaap het verdwyn nie? “Ek wil
vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting”. So sê die Here. En vir
julle kinders en kleinkinders. Kom
ons plant ‘n boom, piep hom op, voed en versorg hom en GLO in die
toekoms, waar daardie boom sal bly staan lank nadat jy jou hemelse tuiste
begin bewoon het. Boomplant
met ‘n verwagting sê: 1)
Jy is positief. Dit
sê dat ek kan glo dat daar meer voor my in die toekoms lê as dit wat ek
kan sien, en gaan sien in my lewe. 2)
Jy het hoop, wat
aangevuur word deur die beloftes van God. Die hoop wat die Here in jou kan
laat brand, vra dat jy verder kyk as dit wat jy voor jou kan sien.
“Hoop” vra dat jy al die elemente wat sleg lyk sal ignoreer, verby dit
kyk, en na Jesus Christus se kruis te kyk. Met watse hoop het Jesus aan
die kruis gehang? ‘n Verwagting van nog ‘n paar jaar in hierdie wrede,
onregverdige lewe? Of dalk ‘n hoop wat dekades en eeue vir Sy kinders voorlê. 3)
Jy het geloof. Heb
11:1 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om
oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie”. DIS geloof. 4)
Jy is optimisties.
Pessimistiese mense kan nie iets doen om die toekoms beter te maak nie.
Optimistiese mense sê: “Nee, daar kom goeie tye”, of “Nee, die
huidige tye is nie so sleg nie”. Optimistiese mense fokus op die wat
positief en goed is. Jy
sien, ‘n boom is ‘n wonderlike ding. In die dag, as die son op sy
blare skyn, vind fotosintintese plaas, en hy vervaardig lewegewende
suurstof. ‘n Boom simboliseer LEWE! ‘n Toekomsverwagting skreeu vir
lewe. Hemel, mensdom, is ‘n tonnel dan net donker? Nee, verseker nie. Ek
wil bou aan ‘n toekoms waar my nageslag kan woon en werk. Dit vra vir
optimisme, en geloof, en hoop, en vooruitkyk, op groei en lewe! Maak nie
saak waar in die wêreld nie. Ek
gaan ‘n boom plant in my tuin, om ‘n toekoms verwagting te
simboliseer, deur te sê: “Boom, miskien sien ek nie nessies in jou
takke nie, maar ek glo dat God nie opgee met hierdie skepping van Hom nie.
My nageslag sal weet dat ek jare terug ‘n hoop, en ‘n
toekomsverwagting gehad het. Kinders sal daarin speel en sê: “Iemand
het genoeg in die toekoms geglo om hierdie boom te plant” . Wat van jou,
neem jy deel? Die
teenpool van boomplant is om jouself al dieper en dieper in ‘n gat in te
grou. As jy ondergronds is sien jy niks… absoluut niks. As jy saam met
daardie boom groei, sien jy ver, oneindig ver! Ek wil nie ‘n gat-grou
lewe lei nie. Ek wil ‘n boomgroei lewe lei. Jer
29:11 Ek weet wat Ek
vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir
julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! |