|
|
|
Kom ons kyk ‘n
bietjie wat ons kan leer by die nederige ou springmielietjie…. Weet jy hoe werk
‘n springmielie? Die mielie groei (en lyk) soos ‘n gewone mielie. Dit
word geoes as dit heeltemal droog is, en die mieliepitte word afgestroop.
Wanneer dit dan in olie (of in die lug, of in die mikrogolf) tot 230ºC
verhit word, “pop” dit! Die water in die kern sit uit en by hierdie hoë
temperatuur word die druk te hoog en spring hy uitmekaar en dop om. Die
stysel aan die binnekant sit blitsig uit en vorm jellie-agtige borrels wat
onmiddelik solied word. Presies dieselfde gebeur wanneer brood bak, maar
natuurlik net teen ‘n baie stadiger tempo. ‘n Gespringde mielie se
volume neem tot vyftigvoudig toe, en is dadelik eetbaar. Gooi sout op en
geniet! Joh 3:1-8 Daarop sê
Jesus vir hom: "Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore
word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." Nikodemus vra
Hom toe: "Hoe kan 'n mens gebore word as hy al 'n ou man is? Hy kan
tog nie 'n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?"
Jesus het geantwoord: "Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water
en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat
uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore
word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie
waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat
uit die Gees gebore is." Wedergeboorte.
Hoe werk dit? Is jy verbaas dat baie mense nie verstaan wat met jou
aangaan as jy sê jy is wedergebore nie? Vra sommer volgende keer vir so
iemand of hy weet hoe werk popcorn. Nikodemus het ook
gesukkel om te verstaan. Jesus sê vir hom: “As jy nie uit water en Gees
gebore word nie, kan jy nie in die koninkryk van God kom nie”. Paulus
bevestig ook hierdie punt: 1 Kor 2:14-16 Sien
jy dat die geestelike dinge vir jou onsin sal wees as jy nie die Gees in
jou het nie? Sonder die Gees is jy nog soos daardie springmieliepit – al
die elemente is daar, die volle potensiaal om ‘n springmielie te wees is
daar, maar daar kort nog “iets” voordat jy kan … wel …. ont-”pop”!
Nou kyk die springmielie-pit-bevolking van hierdie wêreld na die
ge-“popte” springmielies, en sê: “julle is gek” Dan lees ons in
Hand 2 met die uitstorting van die Heilige Gees hoe mense oombliklik
verander het, in tale begin praat het, en die mense is verbáás! Almal
weet iets het gebeur, maar dan staan in Hand 2:13: “Maar party het
gespot en gesê: Hulle is dronk” Jy sien, ‘n ongespringde springmielie
weet self nie wat binne-in hom aangaan nie, en daarom is gespringde
springmielies vir hom vreemd en onsinnig. Hy sien hierdie springmielies,
hy sien hoe hulle nét ten goede probeer optree, hy sien hoe hulle
springmieliebakke volmaak (kerke, stadions, kampe. ens), hy hoor hoe hulle
anders praat en dink. Maar dan sê hy: “Nee, dis onsin”. Nikodemus kon
nie snap wat Jesus bedoel toe Hy sê jy moet weergebore word nie. Dit het
nie vir hom sin gemaak nie. …
maar toe “pop” hierdie springmielie, en daar gebeur ‘n buitengewone
ding! Hierdie klipharde pit, wat vir niks goed is nie, word oombliklik
hervorm in iets nuuts. Hierdie klipharde lagie wat alles bymekaar hou,
swig onder die druk van die werking van die Heilige Gees, onder daardie
geklop wat Openb 3:20 van praat. Daardie sondelaag wat die volle
potensiaal van die mens inmekaardruk, en die mens keer om sy skeppingsdoel
te bereik, gee mee en iets onbeskryfliks gebeur: bekering vind plaas,
wedergeboorte. Onmiddelik, op die oomblik! En hoewel die proses van
heiligmaking begin plaasvind met bekering, is jy reeds gered, reeds ten
volle “popcorn”. Watter kleur is ‘n springmielie wat klaar gespring
het? Spierwit. Ja, so wit en skoon is jy ook gewas na jy ge-”pop” het.
Jou sonde is vergewe. Nou is jy nuttig en jy kan jou potensiaal bereik.
Die harde lagie is weg. Hoewel jy nog sulke geel stukkies in die binnekant
sien (wat die oorblyfsels van jou onvolmaaktheid simboliseer), is jy ‘n
nuwe mens. Dit is wel so dat party mense oor ‘n lang tydperk tot volle
geloof en oorgawe kom - soos brood wat uitrys - maar ander “pop” soos
“popcorn”. Voordat
‘n springmielie gespring het, is hy niks werd nie. Hy is klein en hard.
Maar boeta, as hy deur daardie verhittingsproses gegaan het, is hy ‘n
nuwe skepsel. Hy lyk anders, proe anders, het ander nut … Het
jy ook al gehoor dat mense sê hulle wil nie nóú tot bekering kom nie?
Hulle wil eers nog bietjie jol en die lewe geniet. Weet jy, jy kan
verduidelik tot jy blou word oor die wonderlikheid van wedergeboorte, maar
as die Heilige Gees nie deel is van hierdie proses nie, bly ‘n mens maar
net ‘n droë, klipharde pitjie. Al die potensiaal bly opgesluit,
toegevou in die sonde-doppie. ‘n Springmielie spring teen 230ºC, en so
moet ons ook maar soms eers ‘n bietjie warm kry voordat ons
ont-“pop”. Die warmkry is sleg, en soms bitter seer en onaangenaam,
maar dit wat daaruit voortvloei, is iets buite hierdie wêreld. Só kan
baie mense getuig. ‘n
Wonderlike ding van ‘n gespringde mielie is dat geen twee dieselfde lyk
nie. Ons as Christene moet vir mekaar ruimte gee om verskillend te lyk, te
voel en te redeneer, om verskillend te aanbid, en verskillende dinge te
beklemtoon in ons Geestelike lewe. “Tolerance” is só nodig. Paulus sê
mos ons byt en verskeur mekaar – heeltemal onnodig. |