|
|
|
Mens hoor deesdae nogal baie dat mense bespiegel of Jesus regtig aan 'n kruis gesterf het. En nog meer, of Hy regtig uit die dood opgestaan het, ja, selfs of Hy opgevaar het na die hemel toe. Hoe sal ek en jy dit bewys, hoe staan ons op teen 'n wêreld wat sê dis alles net versinsels van 'n mensdom wat smag daarna om net aan iets te glo? Iets beter as wat die wêreld kan bied. Iets wat ten minste hoop gee. Ek wonder as ek sou vra, "Twyfel jy nie ook soms nie?" Wat sou jy sê? Vernaam as ons geloofsoortuiginge so 'n bietjie ge-'challenge' word. Dit raak moeilik, want teoreties het ons nie so baie om op die tafel te sit nie. Meer en meer vra die wêreld vir ons, "Hoekom laat God soveel pyn en swaarkry toe?" Dis moeilike vrae. Dinge wat ek nie maklik kan antwoord nie. My beste poging is maar dat ons in 'n gebroke wêreld leef, en dit is steeds die gevolg van die sondeval. En ja, as Adam en Eva nie gestruikel het nie, sou dit dalk maar iemand anders wees. Dalk ek en jy? Sou ons kon staan teen sonde? Ons bly maar eenmaal in 'n wêreld
vol pyn en swaarkry. Kom ons praat 'n bietjie oor pyn. Dink net, as ek sou
vra of jy dalk daarvan sou hou as alle vorme van pyn skielik net wegraak,
wat sou jy sê? Niks seer as jy jou toon stamp, of jou vinger sny. Geen
hoofpyn, tandpyn, niks pyn nie. Totale pynloosheid. Hoe sou dit wees? Ek
sien op TV 'n baie ontstellende program van 'n babadogtertjie wat gebore
is in Amerika. Sy was 'n paar weke oud toe die ouers sien dat daar diep en
lelike krappe op haar gesig is. Later toe sy tande kry, het sy dikwels
haar vingers stukkend gekou en uiteindelik haar oë so beskadig, dat sy
blind was in die een ogie. Sy het die oog stukkend gekrap. Sy het 'n warm
gloeilamp vasgehou totdat daar tweede graad brandwonde op die hand was. Sy
kon nie pyn voel nie. Niks pyn hoegenaamd nie. En sy vernietig haar
liggaam, want daar is nie 'n waarskuwingsmeganisme nie. Toe besef ek dat
pyn eintlik ons lewens red. Dis iets wat die Here ingebou het in ons liggame om
ons te stop, te laat dink en dan te reageer. Pyn het 'n plek, fisiese pyn,
asook emosionele pyn. Al is dit nie lekker nie. Pyn maak dat ons ondersoek
instel, dokter toe gaan, dat ons besef iets moet gedoen word. Jes 53 : 1 - 13 Die pyn van Jesus wat in Jesaja voorspel word. In die Evangelies word die profesie met ongelooflike akkuraatheid tot waarheid beskryf. Het jy ooit 'n bewys gesoek van Jesus se werk op aarde? Dan is Jesaja en die Evangelies die antwoord. Hoekom moes Jesus ly? Wat is die doel daarvan dat daar soveel pyn met die gebeure gepaard moes gaan? Woorde in Jesaja soos lyding, pyn, straf, verbrysel, deurboor, wonde. Weet jy, die antwoord lê vir my daarin, dat ek kan weet dat my redding was nie goedkoop nie. Dink terug aan die flim, The Passion, waarin Jesus se pyn so wreed uitgebeeld is, dat ek dit naderhand nie meer kon aanskou nie, dit was net te erg. Dis al die bloed en pyn wat vir my sê "My redding is verniet, maar dis nie 'cheap' nie". Hoekom die pyn? Luk 16 : 22 - 25 Lasarus en die ryk man. Die pyn wat Jesus moes deurstaan, maak dat ek en jy nie meer die ewige pyn van die doderyk hoef te trotseer nie. Jesus het reeds die pyn gevat, ons hoef nie meer nie, maar tog vreemd dat ons so maklik daarteen kies. Waar pas pyn dan vandag in ons lewens in? Emosionele pyn en fisiese pyn is die meganismes wat oor ons pad kom om ons soms tot stilstand te laat kom. En omdat dit nie lekker is nie, reageer ons gewoonlik. Maar jy sien, as ons die doel van Jesus se pyn verstaan, begin dinge vir ons sin maak. Jes 53 : 5 "Oor ons oortredings is Hy deurboor, oor ons sondes is hy verbrysel. Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom. Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom." Deur Sy wonde, het daar vir my en jou genesing gekom. En ek glo dis ook fisiese genesing. Ons kan enige pyn na Jesus toe bring. As jy vandag met diep emosionele pyn sit, dan kan jy staan op die waarheid van die Woord. Die ryk man in die hel, was bereid om met baie min tevrede te wees, so tussen sy pyniging deur. Maar wat Jesus vir ons bedoel, is 'n ewigdurende, oneindige pynloosheid. Dit is so dat slegte omstandighede oor goeie mense se pad kom. Kinders van die Here, soms sonder dat ons dit oor onsself bring, maar juis daarvoor kan ons dit vir die Here bring. Paulus het geweldige pyn verduur - ja, vir sy Christenskap, - maar hy het geweet dat die heerlikheid van God 'n ewigdurende beloning is. Vat die seer binne jou na Jesus toe. Deur Sy wonde is daar vir jou genesing. |