|
|
|
Terug
na HOOFBLAD Rom 9:13 Daar
staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek
gehaat. Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie
af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep” Uitverkiesing …
‘n baie moeilike konsep. Omdat ek dit self nie eintlik verstaan nie, wil
ek nie myself hieroor probeer uitlaat nie. Maar, hier in Romeine 9 lees
ons ‘n klompie wonderlike gedagtes oor God se raadsplan. Dis ‘n
Bybelgedeelte wat baie van ons nie verstaan nie, maar tog is dit ‘n deel
waarin God se soewereiniteit so duidelik uitkom. Voordat ons kyk na Rom 9,
wil ek jou vra: “Bevraagteken jy ook soms die Here wanneer Hy besluite
neem wat ons nie verstaan nie? En in hierdie geval, wanneer Hy besluit om
Hom te ontferm oor partye wat ons glo dit nie werd is nie. Of mense wie
ons dink nie God se ontferming verdien nie. Het jy al ‘n wenkbrou gelig
as iemand in die tronk tot bekering kom? Dan dink mens: Ja, jong, lekker
gerieflik – nes jy in die moeilikheid kom wil jy kamtig gou-gou die Here
aanneem. Of as ons dink ander bevolkingsgroepe wil in dieselfde
heerlikheid as ons deel. So asof ons jaloers is op “ons” hemel. En in
die ou dae (en dalk vandag nog..?) ons “wit” hemel. Rom 9:1-8, 13-18 Toe haar
kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het
nie, toe is al vir haar gesê: "Die oudste sal die jongste
dien." Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar
vir Esau het Ek gehaat. Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing;
dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou
roep” Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie!
Vir Moses het Hy gesê: "Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig
wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm." Dit
hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat
barmhartig is. In die Skrif sê God immers vir die farao: "Juis
hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan
toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word." Dit
is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard
wie Hy wil. Lekker moeilike
gedeelte, of hoe? Hoe kan ons dan verstaan wie God se kinders kan wees en
wie nie? Rom 9:19-24 Nou ja, dis
duidelik dat die Here doen wat Hy wil. In Matt 7:14 lees ons “Maar die
poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat
dit kry is min”. Nou lyk dit of die siele-oes vir God se koninkryk aan
die minderheidskant is. Hoe werk dit dan? As dit lyk of God dan vooraf al
die besluit geneem het wie Hy wil red, hoe weet ek of ek deel is? Jy
onthou mos hoe ons geglo het toe ons jonk was: regte velkleur, regte kerk,
en daar gaat jy! Vir my was dit so half ‘n uitgemaakte saak. Dan is daar
weer ander wat sê: nee, jy doen nie reg nie, onderhou nie die wet nie, en
leef nie nougeset genoeg nie, en daarom sal julle dit nie maak nie. En dan
boonop lyk dit vir my God doen wat Hy wil. Is dit so? Of is daar iets wat
ons miskyk? Een groep soek saligheid, maar kry dit nie. ‘n Ander groep
wil dit verdien, maar kry nie genoeg gedoen nie, en God besluit wat Hy wil
doen … waar los dit ons? Rom 9:25 Wie kies Hy toe? Rom 9:30-33 Die Israeliete
soek vir hulle ‘n wet wat goed genoeg is, en kry dit nie. Die Heidene,
daarenteen, soek nie ‘n wet nie, probeer nie om dit te verdien nie, maak
nie staat op hulle eie prestasies nie (vers 32), en kry die vryspraak deur
geloof in Christus. Die heidene was die groep onder wie Paulus die meeste
van sy werk gedoen het. Hulle kry dit, sonder verdienste, want hulle snap
toe wat genade beteken. Die Israeliete aan die anderkant soek ‘n wet.
Die Jode soek nou nog ‘n wet. Jy sien, die wet hang af van jou eie
prestasies. Die Fariseërs, wat hierdie afgryslike, ondraaglike laste op
die mense gepak het, het die snaakste rituele probeer nakom, maar hulle
kon dit nie maak nie. Kyk wat sê vers 33: “Ek sit in Sion ‘n klip
neer, waaroor ‘n mens struikel, ‘n rots waarteen jy jou stamp …”
Daardie rots is Jesus Christus. Hy is daar, vir party is Hy ‘n rots, vir
ander ‘n struikelblok. Maar Hy is altyd daar. As Hy vir jou ‘n
aanstoot is, sal jy teen Hom stamp, en oor Hom struikel. Iets wat jou
aanhoudend sal konfronteer, altyd in die pad. Maar … as jy kies, word
die struikelblok ‘n rots; ‘n anker, standvastig, ‘n steunpilaar.
Altyd daar. Of in die pad, of iets wat jou hoop sal gee. Rom 9:33(b)
“.. maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie”. Belofte!
Nou wat nou van hierdie Israeliete? Hierdie volk. Uitverkies of verlore?
Ek dink ons moet volk en individu van mekaar skei.
Kyk hoe persoonlik raak dit in Rom 10:10-13: Met die hart glo
ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.
Die Skrif sê tog: "Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word
nie." "Niemand nie!" Dit maak dus geen verskil of 'n mens
'n Jood of 'n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy
seën almal wat Hom aanroep, ryklik,want elkeen wat die Naam van die Here
aanroep, sal gered word. Jood of Griek,
swart of wit, Amerikaner of Afrikaner – almal kwalifiseer, solank jy nie
‘n wet soek wat dit vir jou kan doen nie. Nou, as iemand dan nog ‘n
wet soek, en dis iemand wat jy ken, is dit dalk tyd om vir daardie persoon
reg te help. Dalk het jy so ‘n stukkie sendingveld by die huis, of by
die werk, of daar op die golfbaan … Rom 10:14-15 Dit gee vir ons
elkeen ‘n opdrag om te gaan vertel – gaan sê vir hulle dis nét
geloof. Rom 10:20(b) |