SAAI DIE SAAD


Matt. 13 : 1 - 9 Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2 'n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in 'n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. 3 Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê: 'n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en 4 die voëls het gekom en dit opgepik. 5 'n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6 Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7 'n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8 Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig. 9 Wie ore het, moet luister!

Matt. 13 : 18 - 23 Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19 Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20 Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21 Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22 Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23 Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.

Jesus praat hier van die saad wat ek en jy moet saai. Dit verwys natuurlik na die verkondiging van die Woord. Jesus praat hier ook in 'n gelykenis, soos wat Hy dikwels met Sy dissipels gepraat het.

Ons sien dat die saad op verskillende plekke val:-

- Sommige het op die pad geval; die bose kom en steel en vernietig wat gesaai is.
- Sommige het op die klipbanke geval; persone wat die boodskap hoor, neem dit met blydskap aan, maar wanneer hy ter wille van die Woord verdruk en vervolg word vergeet hy wat hy gehoor het en verlaat hy gou weer die regte pad.
- Sommige het tussen die onkruid geval; bekommernis en die begeerte na rykdom vernietig die saad. 
- Sommige van die saad het in goeie grond geval; die boodskap word gehoor en verstaan en dit lewer ’n oes van 30, 60 of 100-voudig.

Wie is hierdie saaier? Ons weet dit is nie Jesus nie, want Hy vertel die gelykenis. Dis ek en jy - ons wat op die plekke saad saai waar ons werk, lewe, inkopies doen, vakansie hou, ens.

Dit lyk egter nie of die suksessyfer baie hoog is nie; dalk maar so 25%. Maar ………

* steeds saai die saaier; * hy kan sien dat sommige saad op slegte plekke val - maar hy hou aan om te saai; * hy weet dat die oes klein is, maar steeds hou hy aan om te saai; * ons sien nie dat die saaier vir iets anders as die saaiwerk verantwoordelikheid neem nie; * die saaier tel nie die oes nie.

Saad en grond: Die aarde het die wonderlike vermoë om saad (enige saad) wat jy daar insit, te probeer groei. Behalwe dat ek en jy die grond kan bemes en water gee, kan ons niks doen om die proses te aktiveer nie. Die aarde probeer om enige iets wat jy daar indruk, te laat groei. As jy saad in die grond sit, breek die aarde eers die buitenste dop van die saad af, en die saad ontkiem. As jy 'n stuk yster in die grond sit, gebeur dieselfde, daarom begin die yster roes. Die grond wil enige vreemde ding wat jy daarin sit, laat groei.

Luister nou na hierdie interessante vers:
Gen. 2 : 7 "Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het".

Ek en jy is dus 'n stukkie aarde (grond) op sigself. Ons is van dieselfde elemente as die aarde gemaak.  Dit beteken dat ek en jy ook saad kan laat groei. Wat gebeur met saad wat in ons harte geplaas word? DIT GROEI! Wat gebeur met saad wat ons in ander mense saai? DIT GROEI!

Net soos onkruid so welig kan groei, sal die verkeerde saad in ons lewens ook outomaties groei, en ons moet daarteen waak.

Wat saai ek en jy? Alles wat ons doen en sê, is saad wat ons saai. Vloek, skinder, grappe, ontrouheid, haat, jaloesie, ens. Hierdie goed is onkruid en dit groei maklik! Maar Jesus sê: Saai die Woord, laat dít  mense na Hom toe bring.

Wanneer saai ons? 2 Tim 4 : 2 verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee. Dus:  TYDIG EN ONTYDIG. Daar is nie ’n verkeerde tyd nie.

Wat is my en jou taak?
Paulus sê in 1 Kor.: "Ek het net die saad kom saai"
1 Kor. 3 : 6:- "Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het"

Saai die saad en daar sal vrug wees: dertig-, sestig- en honderdvoudig. Verkondig die verlossing van Jesus. Vertel vir mense tydig en ontydig en God sal die saad laat groei.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)