SAAI DIE SAAD

Matt. 13 : 1 - 9 Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2 'n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in 'n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. 3 Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesę:'n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en 4 die voëls het gekom en dit opgepik. 5 'n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6 Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7 'n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8 Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig. 9 Wie ore het, moet luister!

Matt. 13 : 18 - 23 Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19 Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20 Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21 Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22 Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23 Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.

Jesus praat hier van die saad wat ek en jy moet saai. Verkondig die Woord!! Jesus praat hier ook in 'n gelykenis, soos wat Hy dikwels met Sy dissipels gepraat het. Ons sien dat die saad op verskillende plekke val:-

- Op die pad geval:- Die bose kom en vat weg wat gesaai is; 
- Op die klipbanke:- Neem dit met blydskap, maar twv die Woord verdruk en vervolg word - afvalligheid; 
- Onkruid:- Verleidelikheid van rykdom; 
- Goeie grond:- Hoor en verstaan en lewer oes - 30, 60, 100 voudig.

Wie is hierdie saaier?

Nie Jesus nie - Hy vertel die gelykenis. Dis ek en jy - ons wat op die plekke werk waar ons werk, lewe, vakansie hou.

Dit lyk egter nie of die suksessyfer baie hoog is nie, maar so 25%. Maar ………

* steeds saai die saaier; * hy kan sien dat sommige saad op slegte plekke val - maar hy saai; * hy weet dat die oes klein is, maar steeds hou hy aan om te saai; Blind?? * ons sien nie dat die saaier vir iets anders as die saaiwerk verantwoordelikheid neem nie; * die saaier tel nie die oes nie.

Saad en grond

Die aarde het die wonderlike vermoë om saad (enige saad) wat jy daar insit, te probeer groei. Behalwe dat ek en jy die grond kan bemes en water gee, kan ons niks doen om die proses te aktiveer nie. Die aarde probeer om enig-iets wat jy daar indruk, te groei. As jy saad in die grond sit, breek die aarde eers die buitenste skil van die saad af, en die saad ontkiem. As jy 'n stuk yster in die grond sit, gebeur dieselfde, daarom begin die yster roes. Enige vreemde ding wat jy in die grond sit, het dieselfde reaksie. Maar onkruid groei maklik.

Luister nou na hierdie interessante vers:

Gen. 2 : 7 "Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het".

Ek en jy is dus 'n stukkie aarde op sigself. Ons is van dieselfde elemente as die aarde gemaak.

Dit beteken dat ek en jy ook saad kan groei.

Wat gebeur met saad wat in ons harte geplaas word? DIT GROEI!!

Wat gebeur met saad wat ons saai? DIT GROEI!!

Wat saai ek en jy? Net soos onkruid groei die verkeerde saad in ons lewens ook outomaties!!

Die slegte nuus!!

Alles wat ons doen, is saad wat ons saai. Vloek, skinder, grappe, ontrouheid, haat, jaloesie, ens. Hierdie goed groei maklik!!

Maar Jesus sę:

Saai die Woord! Bring mense na Jesus toe!

Wanneer saai ons? 2 Tim 4 : 2 verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlę, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee,

Dus: verkondig die Woord, hou daarmee vol - TYDIG EN ONTYDIG

Wat is my en jou taak?

Paulus sę in 1 Kor.: "Ek het net die saad kom saai"

1 Kor. 3 : 6:- "Ek het geplant, Apollos natgegooi, maar dit is God wat laat groei het"

Dertig-, sestig- en honderdvoudig, Verkondig die verlossing van Jesus. Vertel vir mense - God sal laat groei.

Gebed: Here Jesus, ek loof en prys u vir hierdie wonderlike Woord waaruit ons kan leer. Maak ons getrou om U Woord te verkondig - daar waar ons werk en leef. Amen

TERUG NA LYS MET TEMAS