|
|
|
SÊ NOU MAAR NET - 25 Junie 2008 Sê nou maar net … Woorde wat mens so graag gebruik as mens fantaseer. Ek onthou dat ons as kinders hierdie verbeeldingsvlugte gehad het. "Sê nou maar net" het altyd iets ingehou van "dit sou darem lekker gewees het as …" . "Sê nou maar net" was nooit aan iets negatief gekoppel nie. Vandag wil ek so bietjie uit 'n skuinshoek kyk na hierdie frase en vra: "Sê nou maar net Jesus het elke gebed beantwoord?" Sê nou maar net alles het uitgewerk soos wat ek wou? Sê nou maar net die Here het toegegee aan al my grille? Sê nou maar net mý wil het elke keer geskied? Nou ja, ons sou seker nooit kon weet wat die implikasies sou wees as al ons gebede verhoor is nie, want ons het nie daardie pad gestap nie. Het jy dalk ook al soos ek vreeslike lawwe goed gebid. Ek onthou toe ek klein was, het ek in die Bybel gelees as jy geloof het kan jy vir die berg sê om homself in die see te werp. Toe kyk ek so na die berg en bid en bid dat die Here die berg moet skuif! 'n Ander keer wou ek so graag meer pakkies van daardie toeflap-vuurhoutjieboksies hê, toe gaan sit ek dié paar wat ek het in my ma se spieëlkaslaai en gaan staan op my knieë en bid dat die Here die laai propvol van die boksies moet maak (die Bybel sê mos ons sal alles kry wat ons vra!) Wat sou gebeur as God daardie gebede verhoor het? Die eerste geval het ek gedink dit was 'n toets vir my geloof - maar … wat sou die konsekwensies wees? 'n Klomp mense sou sterf, hulle huise sou inmekaar val, ens. as die berg moes skuif. Die tweede geval het 'n materialistiese motivering gehad - ek wou BAIE hê. Wat sou gebeur het as die Here daardie een verhoor het? Ek sou dalk meer en meer van alles wat ek begeer het gevra het. Moet ons dan nou nie meer bid en vra nie? Nee, natuurlik moet ons bid en ons begeertes aan God bekend maak, ons moet aanhou bid sonder om moedeloos te word (Luk 18:1). Die probleem is net, ons bid soos wat óns dink dinge moet uitwerk, soos wat óns dink God moet ingryp. Dink gou saam met my of die volgende vir jou ook waar is: "Here, ek het nou die volgende probleem - ek sukkel met dié of daai. So, Here, hier is die oplossing: as U die volgende doen of bewerkstellig, of toelaat, is my probleem opgelos. Om Jesus wil, Amen." Klink dit bekend? Mens noem dit 'n "package deal", of a "turnkey project" - ek dink die Here glimlag maar net partykeer vir ons. Jy sien, die Here sien die hele prentjie. Hy ken die verlede, hede en toekoms. Ons ken net bietjie van gister en vandag. Nou vra ek weer: "Sê nou maar net God het elke ding laat uitwerk presies soos wat ek dit gevra en voorgeskryf het?" Ek weet nou van baie dinge wat nie uitgewerk het soos wat ek dit wou hê nie, en ek is maar te dankbaar daarvoor! Die vraag is: "hoe bid ek dan van vandag af?" Luk 11:9-13 Gewoonlik stop ons by die vers wat
sê "elkeen wat vra kry, klop, en daar sal vir jou oopgemaak
word". Die res van die stuk se strekking is eerder dat jy sal kry wat
jy nodig het. Maar ons bid mos "shopping lists". Ons bid:
"Here, gee my 'n nuwe huis", dan sê Hy: "Nee, hier is vir
jou brood, genoeg vir vandag", of, "Here, so mooi groen 4X4
asseblief?", dan sê Hy: "Nee, Ek gee jou die Heilige
Gees?" Nou ja, wat sou jy kies? 'n Nuwe huis, nuwe kar, of kos vir
vandag, of die Heilige Gees. Wel, dis die goed wat in hierdie
Skrifgedeelte staan - niks van weelde of welvaart nie, niks oor gesondheid
nie, niks oor huise, karre, bote, vliegtuie, ens. nie. WAT vra ons van die
Here? Hoe vra ons? Tot wie se voordeel is dit wat ons vra? Wat moet ons nou doen? Kom ons bid só: Spreuke 30:7-9
|