|
SÊ
WIE?
Sjoe, nee kyk, dit gons deesdae op
die Christelike front. Ek glo nie daar was ooit soveel aanvalle op ons
Christelike geloof as nou nie. Briewe vlieg heen en weer in koerante, daar
is gesprekke op radio, programme op TV, die sms'e vlieg heen en weer,
e-pos word flink aangestuur, en almal word aangemoedig om deel te neem. Om
nie eens te praat van petisies nie. Dit lyk vir my ons gaan in 'n totale
paniek in, want dit lyk vir ons asof ons geloof weggesteel word. In die
proses wil ons as Christene almal die wapen opneem en ons geloof hand en
tand verdedig. Dan probeer ons ook nog om God se eer naarstigtelik te
verdedig - sodat ons God se Naam tog net nie skade sal ly nie, en die
wêreld tog net nie die Bybel verwoes nie. Ek dink … ons probeer dit op
die ou end "getuig" noem. Soos wanneer ons hierdie eindelose
e-posse wil aanstuur na 5 of 10 mense om te "bewys" dat ons
Christene is wat nie skaam is vir die Here nie. En, o ja, as ons dit doen,
dan sal ons boonop binne 'n spesifieke tyd geseën word. Haai, jitte
mense, is dit regtig 'n weerspieëling van die inhoud van ons geloof? Eer
ons regtig die Here as ons iemand anders se storietjie aanstuur vir almal
in ons adresboek? Is ons regtig besig om die Here se eer te beskerm as ons
sms'e stuur na 'n nommer toe sodat iemand afgedank kan word - omdat hy nie
in die Here glo nie, omdat Hy ontken dat God bestaan? Daar is aanslae op
ons Christelike geloof - hoe hanteer ons dit? Kom ons kyk wat sê die
Bybel hieroor:
2 Pet 2:1-3, 12-22
Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder
julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die
Here wat hulle vrygekoop het, verloën. So sal hulle hulleself baie gou in
die verderf stort.
Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense
kwaad praat van die Weg van die waarheid.
In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle
vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang is onafwendbaar.
Maar hierdie mense praat lasterlik van dinge waarvan hulle niks
verstaan nie. Hulle is soos verstandlose wilde diere wat voortgebring word
om gevang en doodgemaak te word. Soos wilde diere sal hulle ook verdelg
word.
Vir hulle goddeloosheid sal hulle die loon van die goddelose ontvang.
Hulle verlustig hulle daarin om helder oordag swelgpartye te hou. Wanneer
hulle saam met julle eet, is hulle 'n smet en 'n skande omdat hulle hulle
aan uitspattighede te buite gaan.
Hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie.
Hulle verlei onstandvastige mense en is bedrewe geldwolwe, die
vervloektes!
Hulle het die reguit pad verlaat en verdwaal geraak. Hulle het die weg
gevolg van Bileam seun van Beor wat daarop uit was om vir geld onreg te
pleeg,
maar wat oor sy oortreding bestraf is. 'n Stom rydier het met die stem van
'n mens gepraat en 'n einde gemaak aan die onsinnige optrede van die
profeet.
Hierdie mense is droë fonteine, miswolke wat deur 'n stormwind
voortgejaag word. Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou.
Hulle is aanmatigend en sê sinlose dinge. Met wellus en losbandigheid
verlei hulle die mense wat pas vrygekom het uit die kring van dié wat op
dwaalweë verkeer.
Hulle belowe vryheid aan hierdie mense, al is hulle self slawe van die
verderf; want as iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf.
Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle
ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin
vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe
as aan die begin.
Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken
het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die
heilige gebod wat aan hulle oorgedra is.
Van hulle is die spreekwoorde waar: "'n Hond gaan terug na sy
braaksel toe" en: "'n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die
modder."
Watter gevolgtrekking kan ons hieruit maak? Dit is natuurlik wonderlik om
te sien hoedat Christene saamstaan en opstaan vir wat hulle glo. In
hierdie gedeelte sien ons dat hierdie vervolging niks nuuts is nie! Dit
was al lankal so, en dit sal seker nog altyd so aanhou .. en dit sal nog
toeneem namate die eindtyd nader kom. So, as hierdie vervolging gebeur,
kan ons maar net "halleluja" skree, want dan word die Bybel waar
bewys. Jy kan dit eintlik op 'n klomp plekke vir mense gaan uitwys en sê:
"As jy sus of so voel oor die Christene, is daar tekse wat oor jou
geskryf is". Dit sál so wees, verwag dit! Die punt is net, dit
verander niks aan hierdie mense se uiteinde nie. Hulle sal hulle
"loon" ontvang. Meer nog, dit verander niks aan God se Godheid
nie, dit tas hoegnaamd nie Sy eer aan nie, en dit verander niks aan ons
Christenskap nie.Ons moet eerder in sulke tye vra: "sê wie?"
Ons praat natuurlik van tye waar ouens ons God met ketties probeer aanvat.
Vriend, verstaan jy dat ons hierdie dinge in die "laaste dae" te
wagte moet wees?2 Tim 4:1-4Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus
wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op
sy koms en sy koningskap:
verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf,
bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee,
want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal
verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters
bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.
Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.
Glo jy dat ons ons dalk in die "laaste dae" bevind? Besef jy dat
die aanvalle nóg feller sal word? Moet glad nie verbaas wees oor hierdie
sogenaamde "bekende" wat op die toneel verskyn met uitsprake
teen God en teen die Bybel en dit wat ons glo nie. Die Bybel het dit meer
as 2000 jaar gelede al voorspel. Hierdie verspotte klein mannetjies kan
mos hoegenaamd nie teen ons God kers vashou nie. Wat sê 2 Petrus: 'n Hond
gaan terug na sy braaksel toe, 'n vark wat gewas is, gaan rol weer in die
modder.
Wat moet ons reaksie wees? Ons mag sekerlik reageer - dit is reg so. Maar
ons mag nooit sonder liefde optree nie, nooit op 'n afbrekende manier werk
nie. Om 'n duisend sms'e aan te stuur, maak nie veel van 'n verskil nie.
So terloops, verifieer tog maar of die nommer waarheen jy jou vertoë rig,
geldig is. Dit is soms 'n lekker foefie, waar iemand so 'n paar rand van
jou af wegrokkel, teen R5 per sms. Moet ek en jy reageer as iemand téén
God en godsdiens praat? Moet ons die Here probeer "red", en sy
eer probeer beskerm?
Openb 12:10-11Toe het ek 'n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep
het: "Nou het ons God die reddng gebring, nou is sy mag en
koninkgskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer is uit die
hemel uitgegooi, hy wat hulle dag en nag voor God aangekla het. Hulle het
self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die
boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief
gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.
Danksy die bloed van die Lam EN die
boodskap waarvan hulle getuig het … Ek en jy moet die boodskap verkondig
en daarvan getuig. Dis al wat ons hoef te doen. Ons hoef nie in
"is!", "is nie!" - debatte betrokke te raak nie. Ek
hoef nie 'n sms te stuur wat verklaar dat God leef nie, ook nie 'n e-pos
aan te stuur wat die sogenaamde bewys is dat ek aan God glo nie - dit sê
niks van my verhouding met Hom nie. Die Here het klaar met die ongelowiges
afgereken - al haal hulle nog asem, en gaan tekere soos 'n leë blik.
Verkondig JY die goeie nuus van Jesus Christus. Moenie 'n ander ou se
storie aanstuur nie, stuur jou eie getuienis aan. Vertel van 'n spesiale
boodskap wat jy tydens jou stiltetyd gekry het, of 'n wonderwerk wat God
in JOU lewe gedoen het. Iets persoonlik! Dan is ons besig om iets nuttig
te doen. As ons van God se grootheid getuig, sal ons mense aanraak.
En nee, wat, 'n paar lawwe mense met hulle lasterlike uitsprake kan nie
ons God se eer aantas nie. Bid eerder vir hulle. Ons God is Koning!
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|