|
|
|
SELFKASTYDING
– 23 September 2009 Hoe
genadig is God? Kon jy al ooit 'n greep kry op hierdie ding wat ons
onvoorwaardelike genade en vergifnis noem? Ek dink as jy 'n ouer is, begin
jy so ietsie verstaan van hierdie konsep van genade. Een oomblik wil jy
jou tiener verwurg, maar lê hy vanaand in sy bed en slaap en jy kyk vir
hom, smelt alles net weg. More spog jy die wêreld vol met hom. Dis
genade. Maar...
as dit by God se genade kom, wil ons soms net nie hierdie ding vat nie,
want dan wil ons aanhoudend offers bring in die vorm van selfkastying.
Kasty jy jouself ook soms so oor sonde? Natuurlik
is sonde nie 'n man se speelmaat nie, en natuurlik haat die Here dit, maar
soms kasty ons onsself aanhoudend oor dinge wat Jesus klaar oorwin het.
Want Jesus – die volmaakte offer – het reeds namens ons daarmee
klaargemaak. As jy dit aanvaar het, en dit glo, is selfkastyding nie meer
nodig nie. Heb 10 :
1 – 14 Eens
en vir altyd skoon, sonder vlek of blaam. Moeilike konsep hierdie, juis
omdat ons nie verstaan hoe onvoorwaardelik, en finaal, hierdie genade van
God is nie. Dit is natuurlik nog moeiliker as jy tans in 'n situasie is
waar jy swaarkry as gevolg van die konsekwensies van een of ander
verkeerde keuse. En nog meer, as jy volhard in verkeerde dinge. In sommige lande sien jy tydens paasfees hoe mense die Via de la Rosa naboots. Dan loop van die mans en slaan hulleself oor die rug met swepe dat die hale lê en die bloed uitloop, ter nagedagtenis aan die lydenspad wat Jesus geloop het. Edel gedagte, maar Jesus het deur baie erger dinge gegaan as om net liggaamlik gemartel te word. Hy het immers “ter helle neergedaal” en is deur Sy Vader verlaat. Daar is niks wat ons kan doen om Sy lyding te simmuleer nie. En dis verseker ook nie nodig nie. Maar... nou loop ons dag vir dag met selfkastying as gevolg van skuldgevoelens. Het jy ook al gedink dat jou sondes te groot is vir die Here se vergifnis? Dink jy ook soms dat jy nie kwalifiseer vir genade nie? Miskien ken jy iemand, wat jy dink hierdie persoon is 'n waardige kliënt vir vryspraak, maar jy self is nie goed genoeg nie. Dis juis omdat ons nie goed genoeg is om die sondes te oorwin nie dat jy vir Jesus nodig het. Wie ken jy wat die wet volmaak kan onderhou? Kan jy enige name noem? Ek ook nie. Daarom het Jesus jou waardig genoeg geag om vir JOU te sterf. Ek wonder nogal of Jesus dan dalk dink ... “Het ek dan verniet gesterf?” Heb 10
: 17 – 18 Maar die satan, die verleier en leuenaar, is nogal lief daarvoor om dit dag na dag voor jou kop te gooi. Moet wees, want dis immers al wapen wat hy teen jou het. So verpes hy ons dag vir dag, en so glo ons hom dag vir dag. Glo jy hom eerder as die Verlosser wat met alles klaargemaak het? Die probleem van sondes is dat ons soms met die letsels daarvan sit en soms moet daar dalk straf daarvoor uitgedien word. Dis dan wanneer spyt met selfkastyding gepaard gaan, en dan glo ons nie dat Jesus ons vrygespreek het nie. Omdat Jesus reeds gemartel is, hoef jy jouself nie meer te martel nie. Waar
die sondes vergewe is, is geen offer meer daarvoor nodig nie. Hierdie teks is goed genoeg vir ALMAL, ook vir jou. Maar ook vir die moordenaar en verkragter, mits daar berou gekom het en klaargemaak is met die sonde. Niemand is te sleg nie, nie eers die man wat langs Jesus aan die kruis gesterf het nie. Ons moet net ophou om goed genoeg te probeer voel, want Jesus was goed genoeg gewees. Moenie loop met selfkastyding nie, want dit laat die persoon wat na jou opkyk vir antwoorde op Geestelike vlak, net verder struikel. As die kinders van Jesus dan nie kan oorborrel omdat hulle genade ontvang het nie, hoekom sal ander mense dit dan wil ontvang? Geen marteling is meer nodig nie, want Jesus het namens ons daarmee klaargemaak. En more, as jy weereens struikel, gaan Jesus jou nie uittel op jou voete nie, Hy gaan Sy hand na jou toe uitsteek en se:- “kom, staan op, ons probeer weer”. Jy hoef nooit meer seer te hê oor jou onvolmaaktheid nie, dis verby. Jy is
'n oorwinnaar, jy is volmaak, jy kan gerus volmaak lyk. Aanvaar dit net. |