SELFKASTYDING 


Hoe genadig is God? Kon jy al ooit 'n greep kry op hierdie ding wat ons onvoorwaardelike genade en vergifnis noem? Ek dink as jy 'n ouer is, begin jy so ietsie verstaan van hierdie konsep van genade. Een oomblik wil jy jou tiener verwurg, maar lê hy vanaand in sy bed en slaap en jy kyk vir hom, smelt alles net weg. Môre spog jy die wêreld vol met hom. Dis genade. 

Maar... as dit by God se genade kom, wil ons soms net nie hierdie ding vat nie, want dan wil ons aanhoudend offers bring in die vorm van selfkastyding. Kasty jy jouself ook soms so oor sonde? 

Natuurlik is sonde nie 'n man se speelmaat nie, en natuurlik haat die Here dit, maar soms kasty ons onsself aanhoudend oor dinge wat Jesus klaar oorwin het. Jesus – die volmaakte offer – het reeds namens ons afgereken met sonde. As jy dit aanvaar het, en dit glo, is selfkastyding nie meer nodig nie. 

Heb 10 : 1 – 14
Die wet van Moses is slegs 'n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie 'n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vry maak nie. As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem. Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: "Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie! Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe." Eers sê Hy: "Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie," hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. Daarna sê Hy: "Kyk, Ek het gekom om u wil te doen." Hy skaf dus die eerste offers af om 'n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd. Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.

Eens en vir altyd skoon, sonder vlek of blaam. Moeilike konsep hierdie, juis omdat ons nie verstaan hoe onvoorwaardelik, en finaal, hierdie genade van God is nie. Dit is natuurlik nog moeiliker as jy tans in 'n situasie is waar jy swaarkry as gevolg van die konsekwensies van een of ander verkeerde keuse. En nog meer, as jy dalk volhard in verkeerde dinge.

Ek dink die meeste mense kan getuig dat hulle al gehuil het voor die Here oor hulle sondes. As hulle so sukkel om oorwinning daaroor te kry, of miskien ly a.g.v. die uitvloeisels daarvan. Mens moenie berou met selfkastyding verwar nie. Natuurlik moet mens berou hê oor jou sondes; daar moet ’n sondebesef kom, gevolg deur berou, dan tree God se vergifnis in. Selfkastyding is die proses waar mens dag na dag loop en tob oor dit wat jy verkeerd gedoen het. Dis wat die satan mos behaag.

In sommige lande sien jy tydens Paasfees hoe mense die Via de la Rosa naboots. Dan loop van die mans en slaan hulleself oor die rug met swepe dat die hale lê en die bloed uitloop, ter nagedagtenis aan die lydenspad wat Jesus geloop het. Edel gedagte, maar Jesus het deur baie erger dinge gegaan as om net liggaamlik gemartel te word. Hy het immers “ter helle neergedaal” en is deur Sy Vader verlaat. Daar is niks wat ons kan doen om Sy lyding te simuleer nie. En dis verseker ook nie nodig nie.

Maar... nou loop ons dag vir dag met selfkastyding as gevolg van skuldgevoelens. Het jy ook al gedink dat jou sondes te groot is vir die Here se vergifnis? Dink jy ook soms dat jy nie kwalifiseer vir genade nie? Miskien kyk jy na ander mense en dan dink jy hierdie persoon is 'n waardige kliënt vir vryspraak, maar jy ag jouself nie goed genoeg nie. Dis juis omdat ons nie goed genoeg is om die sondes te oorwin nie dat jy vir Jesus nodig het. Wie ken jy wat die wet volmaak kan onderhou? Kan jy enige name noem? Ek ook nie. Daarom het Jesus jou waardig genoeg geag om vir JOU te sterf.

Ek wonder nogal of Jesus dan dalk dink ...  “Het ek dan verniet gesterf?”

Heb 10 : 17 – 18
Dan sê Hy verder: "Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie." Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

Daar is nie meer skuldgevoelens nodig nie. Daar is nie eers meer 'n gedagte daaraan nodig nie, wat verby is, is verby. Maar die satan, die verleier en leuenaar, is nogal lief daarvoor om dit dag na dag voor jou kop te gooi. Moet wees, want dis immers al wapen wat hy teen jou het. So verpes hy ons dag vir dag, en so glo ons hom dag vir dag. Glo jy hom eerder as vir die Verlosser wat met alles klaargemaak het?

Die probleem van sondes is dat ons dikwels met die letsels daarvan sit en soms moet daar dalk straf daarvoor uitgedien word. Dis dan wanneer spyt met selfkastyding gepaard gaan, en dan glo ons nie dat Jesus ons vrygespreek het nie. Omdat Jesus reeds gemartel is, hoef jy jouself nie meer te martel nie.

Waar die sondes vergewe is, is geen offer meer daarvoor nodig nie.

Heb 10 : 5
Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: "Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. Eintlik is hierdie teks die volle verduideliking van “Tetelestai”.

Hierdie teks is goed genoeg vir ALMAL, ook vir jou. Ook vir die moordenaar en verkragter, mits daar berou gekom het en klaargemaak is met die sonde. Niemand is te sleg nie, nie eers die man wat langs Jesus aan die kruis gesterf het nie.

Ons moet net ophou om goed genoeg te probeer voel, want Jesus was goed genoeg gewees.

Moenie loop met selfkastyding nie, want dit laat die persoon wat na jou opkyk vir antwoorde op Geestelike vlak, net verder struikel. As die kinders van Jesus dan nie kan oorborrel omdat hulle genade ontvang het nie, hoekom sal ander mense dit dan wil ontvang?

Geen marteling is meer nodig nie, want Jesus het namens ons die pad gestap en die volle prys betaal. En môre, as jy weereens struikel, gaan Jesus jou nie uittel op jou voete nie, Hy gaan Sy hand na jou toe uitsteek en se: “kom, staan op, ons probeer weer”. Jy hoef nooit meer seer te hê oor jou onvolmaaktheid nie, dis verby.

Jy is 'n oorwinnaar, jy is volmaak. Aanvaar dit net. 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)