|
|
|
Het jy as kind ooit weggeraak? Miskien by die skougronde of by 'n rugbywedstryd, of in 'n winkelsentrum? Een oomblik nog by Ma en Pa, dwaal so bietjie eenkant toe en dan is almal net weg. Skoonveld! Eers is daar bietjie onsekerheid, maar dan tree volslae paniek in, kyk rond, begin eers saggies roep en probeer tussen die malende massas iemand te herken. Dan begin jy skreeu uit volle bors! Dit terwyl jy net heuphoogte kan sien. Ek het nooit as kind so ernstig weggeraak nie, maar tog kortstondig weggedwaal. Dis nogal sleg. Kom ons kyk uit die ander hoek na dieselfde situasie. Het jou kind dalk al weggeraak? Dis nie net soveel paniek nie, dis nou duisend maal meer! Sê nou net 'n vreemdeling het jou kind gevat, of hy het iets oorgekom, of in 'n gat geval. Sê nou net, sê nou net! Ons kan hierdie storie nogal ver druk... Tussen 1988 -1990 verdwyn 5 meisies spoorloos, ontvoer deur 'n pedofiel en sy minnares en daar word nooit weer iets van die meisies gesien of gehoor nie. Seker een van die grootste ontvoeringsdramas in Suid-Afrika se geskiedenis. Eventueel word die net al hoe stywer om die persoon gespan en die polisie staan op die punt om die twee te arresteer. Toe skiet die man eers sy minnares en toe homself. Die laaste hoop om die meisies te vind verdwyn met twee rewolverskote. Skoonveld! Ek eis as ek dink dat dit met my kind moet gebeur, want jy sal nooit ophou soek nie. Vir jare sal jy elke dag hoop dat die foon gaan lui, of 'n brief in die pos gaan opdaag, of sy aan die deur gaan klop. Enige leidraad sal opgevolg word. Skoonveld.
Hierdie is nou twee ekstreme situasies, maar daar is ook 'n derde situasie
waarby geen trauma betrokke is nie, geen drama hom afspeel nie en die
persoon gaan rustig aan met sy lewe. Maar hierdie persoon is ook weg.
Skoonveld! Sonder dat jy dit weet. Of dit dalk weet jy, maar jy gee
nie om nie. Die gelykenis van die verlore skaap is volgepak met 'n klomp verskillende elemente as mens dit sou vergelyk met ons situasies vandag. Een skaap dwaal weg, net een! In geldwaarde is dit nie te slim om 99% van jou trop aan die genade oor te laat om een te gaan soek nie. Dit maak net nie sin nie. Maar in God se oë werk dinge anders. ELKE EEN is so belangrik soos die somtotaal van die res. Vir Hom is 99% net nie goed genoeg nie, Hy wil ALMAL in die kraal hê. Mense dwaal met tyd van Hom af weg, dit gebeur maar. Sommiges was nog nooit in die kraal opgeneem nie, party wil nie daar wees nie. Daar is moedswilliges, ander wat luister na 'n vals herder, nog ander het deur omstandighede weggeraak, party het seergekry binne-in die kudde en ander is seergemaak deur van die ander skape in die kudde. Daar is ander wat nie besef hoe gevaarlik dit buite die kudde is nie. Die rede vir wegdwaal of skoonveld wees is eintlik irrelevant, want die Herder sal in elke situasie presies eweveel moeite insit om die verlore skaap op te spoor. Vir nie EEN enkele een sal Hy minder omgee of minder lief wees nie. Sy liefde vir daai verlore skaap sal nooit in der ewigheid verflou nie. Natuurlik nie, want liefde is Sy aard en Sy natuur. 'n Kudde is 'n veilige plek en 'n nodige plek. Ons moet almal in een opgeneem wees, want daar is baie beskerming, Geestelik groei neem toe, mense vat verantwoordelikheid vir mekaar en versorg mekaar. Daar is ook 'n opdrag vir ons daaroor:- 1 Pet 5:2-4 “Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op...” Dis baie moeilik om Geestelik staande te bly as jy buite in die koue ronddwaal. Binne-in die kudde is daar warmte, 'n gebondenheid aan mekaar en liefde onder mekaar. Dink jy dit gebeur nie? Jy maak 'n fout, daar is baie kosbare mense wat mekaar wonderlik versorg. Ons is verantwoordelik vir mekaar dat niemand wegraak nie, maar dit is tog waar dat mense met tyd bietjie wegdryf. Daar is ongelukkig ook mense wat verkies om heeltemal weg te breek en om sodoende verlore te wees. Hierdie is die mense wat nie maklik weer terugkom kudde toe nie en kies verlorenheid. Dis net jammer dat mense in die kudde hierdie mense soms so verguis en afbreek sonder om uit te vind hoekom hulle weggedwaal het. Ek vra vir jou twee dinge:-
Sal jy ook soos Jesus alles in jou vermoë doen om daardie skaap terug te kry? Of sal jy gemaklik daarby berus en sê:- “Jou keuse, kry vir jou...” Dit maak vir Jesus saak. Maak dit vir jou saak? Voel jy op hierdie stadium van jou lewe self so bietjie weg? Self besef jy dit nie eers heeltemal nie, maar dalk het die afstand tussen jou en God so toegeneem dat jy net so 'n sweempie van Hom in die verte sien? Dit gebeur wanneer mens so bietjie afgestomp raak in jou Geestelike lewe, of maklik saam met ander verkeerde strominge beweeg, of wanneer mense dalk afbrekend raak oor jou Geestelike lewe. Soms is mense wat so oorloop van kritiek oor ander se oortuiginge, dalk self op die verkeerde pad. Dalk is hulle self skoonveld. Dalk voel jy weg omdat ander mense in die kudde jou seergemaak het. Dis normaal, weet jy? Mense is nou maar eenmaal mens, maar moenie na mense kyk nie. Hulle (ons?) is maar onfeilbare mense. Jes2:22 “Moenie op mense staatmaak nie, hulle blaas so maklik die asem uit, hulle is min werd”. Dalk is jy al moeg gewag op die Here en smag daarna dat die Here Hom aan jou moet openbaar. Weet egter ... Hy wag vir jou. Jak 4:8 “Nader tot God en Hy sal tot jou nader”. As 'n kind in die winkelsentrum wegraak en net eenkant doodstil in die hoekie gaan sit, gaan niemand hom kry nie. Maar as hy uitroep om hulp sal baie hom te hulp snel. Soms is ons net te trots om te erken dat ons weg is, want ons is partykeer so verlore dat ons dink God het klaar die soektog afgelas. Gelukkig is dit nooit waar nie. 2 Pet 3:9(b) “Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil he dat iemand verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer”. Geen mens kan te “weg” raak nie. Jesus sal aanhou soek. |