|
Terug
na HOOFBLAD
VRAE
– 23 Maart 2011
As jy kinders het
sal jy die fase onthou toe hulle so baie vrae gevra het. Wat is dit? Hoe
werk dit? En dan die ewige: hoekom? – tot vervelens toe. En party vrae het
nie antwoorde nie. Party kan jy antwoord en ander wil jy nie antwoord nie.
Soos as Jannie kom vra: Pappa, waar kom ek vandaan? Die antwoord is
maklik, jy sê net: gaan vra jou ma.
So is ons ook
dikwels besig om vir die Here vrae te vra, maar meer nog: ons BEVRAAGTEKEN
Hom. Vandag gaan ons bietjie aan die anderkant van die lyn staan en ek
gaan net vrae vra. Vir jou. Vrae wat jou hopelik so ‘n bietjie sal laat
dink, soos die dag toe God vir Job vrae gevra het:
Job 38:1-20
Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit: “Wie is dit wat
besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen
insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.
Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die
antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn
oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom
aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die
hemelinge gejubel het? Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het?
Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom
perke gestel, hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: ‘Tot hiertoe
mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’ “Het
jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad
vandaan kom, die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die
goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie? Met die daeraad word die
vorm van die aarde sigbaar, dit neem vorm aan soos klere wat aangetrek
word. Dan word die goddeloses hulle bestaan ontneem en word hulle geweld
beëindig. Het jy, Job, al gekom by die plek waar die seewater uitborrel,
en rondgestap op die bodem van die diepsee? Het jy die ingang van die
doderyk gesien, die plek van donkerte al bekyk?
Kan jy 'n beeld vorm van die groot wye wêreld? Praat as jy iets daarvan
weet. Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon? En die donkerte,
waar is sy woonplek? Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat? Ken jy
die paaie na sy woongebied toe?
Job 39:34-38
Die Here het verder vir Job gesê: “Wil jy 'n saak maak teen die Almagtige
en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys? Antwoord Hom dan!” Job het toe
vir die Here gesê: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon
antwoord? Ek sal liewer stilbly. Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n
antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”
Hier volg nou my
vrae, wat ek natuurlik vir myself ook vra:
Dink jy God skuld
jou ‘n antwoord op alles?
Dink jy God behoort Homself aan jou en my te verduidelik?
Glo jy Hy sal Homself naderhand in ‘n hoek toeverf as Hy nie meer
antwoorde het nie?
Is ons breine al so ver ontwikkel dat ons nou op gelyke vlak met Hom
wil/kan meeding?
Het ons as mens al soveel kennis vergader dat ons Hom nou verkeerd kan
bewys?
Glo jy dat die mens die Here al so afgewater het dat Hy nie meer opgewasse
is teen Sy eie skepsels nie?
Kan ons Hom uitoorlê met ons slim redenasies? ... is dit nie wat die mens
besig is om te doen nie? Ons praat mos so graag van die Oubaas daarbo –
dink jy dis reg en respekvol?
Job 39:35 Wil
jy vir God teregwys? Antwoord Hom dan.
Dink jy God het
onttrek toe die aardbewing en Tsunami Japan tref? Glo jy dit was buite Sy
beheer?
Dink jy ons gebrek aan verstaan maak Sy werk ongedaan?
Is natuurrampe buite Sy beheer?
Hoekom sê die Bybel dan dat dit so sal wees?
Besef jy dat die Bybel geensins verkondig dat alles in die lewe net
probleemvry en sonder moeilikheid sal wees nie?
Weet jy hoeveel plekke in die Bybel sê die Here dat Hy rampe bring of
toelaat?
Neem dit die Here se godheid en liefde weg as slegte goed gebeur?
Aan die ander kant: dink jy God skep behae daarin as ‘n klein kindjie in
‘n swembad verdrink? Kan jy verklaar hoekom die Here sulke goed toelaat?
Besef jy dat Jesus gehuil het by Lasarus se graf? Sien jy ook deernis en
hartseer by Hom as so iets gebeur?
As mense die Here as wreed sien in so ‘n situasie, hoekom hou so baie
mense wat in hartseer en moeilike omstandighede is so naarstigtelik aan
Hom vas?
Hoekom sal mense agterna getuig dat hulle nooit deur hierdie trauma sou
kom as dit nie vir vertroosting van God was nie?
Dink jy die Here kan nie ‘n doel hê met ‘n ramp nie?
Dink jy ons moet alles wat Hy doen klinkklaar verstaan om sy Godheid te
kan aanvaar?
Dink jy jy was ‘n ongeluk? Glo jy die Here het ‘n fout gemaak toe Hy jou
geskep het? Is jy daardie een skepsel wat God planloos en doelloos gemaak
het? Of is jy die een van wie God totaal vergeet het?
Dink jy jou absolute unieke ontwerp was sommer ‘n uitvloeisel van evolusie
of toevallig?
Het jy al mooi gedink hoe jy aanmekaar gesit is?
Besef jy hoeveel honderde
duisende sisteme in die skepping moet 100% volmaak werk om lewe op aarde
te onderhou?
Het jy regtig nog nooit in jou lewe spesiaal gevoel nie? ... of kies jy om
dit mis te kyk?
Dink jy dalk dat die Here moedswillig was toe Hy gestremde mense geskep
het? Dink jy Hy kan hulle nie gebruik nie? Dink jy Hy kan jou nie gebruik
nie?
Glo jy jy moet in die top tien talentvolles wees om iets werd te wees?
Besef jy hoe ‘n ongelooflike wonder die Bybel is?
Kon iemand al ooit een
feit in die Bybel verkeerd bewys?
Hoekom het hierdie boek al soveel mense se lewens radikaal omgedraai?
Dink jy God kan net deur sekere vertalings met jou praat?
Is Hy beperk tot sekere mense se verklarings van woorde en sinne om tot
jou deur te dring?
Weet jy dat die Bybel se finale samestelling reeds 1614 jaar gelede
plaasgevind het.
Weet jy dat die Bybel tydloos is en altyd van toepassing sal bly?
Besef jy dat die Here vandag met jou sal praat as jy die Bybel lees?
Werk gebed vir
jou? Of dink jy die dominee wat nie meer bid nie, is reg?
Dink jy die Here behoort elke gebed op ons manier te antwoord om dit te
laat werk?
Kan jy getuig dat gebed dié manier is om in ‘n tweerigting gesprek met God
te wees?
Wat sou jy sê as
mense die bestaan van Jesus sou bevraagteken?
Is Jesus maar net ‘n konsep wat bestaan vir dié wat daaraan glo en vashou?
Is Hy vir jou ‘n werklikheid? ‘n Waarheid? ‘n Feit?
Dink jy hierdie praatjies van ‘n fiktiewe figuur sal na 2000 jaar nog
waterhou as daar niks waarheid in is nie?
Hoekom sal almal wat tot bekering kom presies dieselfde Geestelike taal
praat as hierdie maar net mooi storietjies was?
Dink jy jy kan sonder Hom in die Hemel kom, terwyl Hy uitdruklik sê Hy is
die weg, en die deur?
Dink jy Hy kan
jou nie liefhê nie?
Dink jy Hy is nie lief vir die Moslem of mense van ander gelowe nie?
Dink jy daar is iemand wat nie ‘n kans het om gered te word nie?
Voel jy dat jou sondes te groot is om deur Hom vergewe te word?
Voel jy dat Hy jou afgeskryf het?
Besef jy dat EEN uitroep na Hom toe alles kan en sal verander?
Glo jy Sy beloftes wat sê Sy genade is vir jou genoeg?
Besef jy dat Hy al jou probleme ‘n nuwe uitkoms kan gee, op Sy tyd?
Weet jy dat Hy
nou met liefde in Sy oë na jou kyk, en Sy hand uitsteek na jou toe? Glo jy
Hy ken jou naam? Is jy bereid om nou hierop te reageer?
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|