SLEGS VRAE


As jy kinders het sal jy die fase onthou toe hulle so baie vrae gevra het. Wat is dit? Hoe werk dit? En dan die ewige: hoekom? – tot vervelens toe. En party vrae het nie antwoorde nie. Party kan jy antwoord en ander wil jy nie antwoord nie. Soos as Jannie kom vra: Pappa, waar kom ek vandaan? Die antwoord is maklik, jy sê net: gaan vra jou ma.  

So is ons ook dikwels besig om vir die Here vrae te vra, maar meer nog: ons BEVRAAGTEKEN Hom. Vandag gaan ons bietjie aan die anderkant van die lyn staan en ek gaan net vrae vra. Vir jou. Vrae wat jou hopelik so ‘n bietjie sal laat dink, soos die dag toe God vir Job vrae gevra het: 

Job 38:1-20
Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit: “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het? Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’ “Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad vandaan kom, die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie? Met die daeraad word die vorm van die aarde sigbaar, dit neem vorm aan soos klere wat aangetrek word. Dan word die goddeloses hulle bestaan ontneem en word hulle geweld beëindig. Het jy, Job, al gekom by die plek waar die seewater uitborrel, en rondgestap op die bodem van die diepsee? Het jy die ingang van die doderyk gesien, die plek van donkerte al bekyk? Kan jy 'n beeld vorm van die groot wye wêreld? Praat as jy iets daarvan weet. Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon? En die donkerte, waar is sy woonplek? Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat? Ken jy die paaie na sy woongebied toe?   

Job 39:34-38
Die Here het verder vir Job gesê: “Wil jy 'n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys? Antwoord Hom dan!” Job het toe vir die Here gesê: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly. Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”  

Hier volg nou my vrae, wat ek natuurlik vir myself ook vra: 

Dink jy God skuld jou ‘n antwoord op alles?
Dink jy God behoort Homself aan jou en my te verduidelik?
Glo jy Hy sal Homself naderhand in ‘n hoek toeverf as Hy nie meer antwoorde het nie?
Is ons breine al so ver ontwikkel dat ons nou op gelyke vlak met Hom wil/kan meeding?
Het ons as mens al soveel kennis vergader dat ons Hom nou verkeerd kan bewys?
Glo jy dat die mens die Here al so afgewater het dat Hy nie meer opgewasse is teen Sy eie skepsels nie?
Kan ons Hom uitoorlê met ons slim redenasies? ... is dit nie wat die mens besig is om te doen nie? Ons praat mos so graag van die Oubaas daarbo – dink jy dis reg en respekvol? 

Job 39:35 Wil jy vir God teregwys? Antwoord Hom dan. 

Dink jy God het onttrek toe die aardbewing en Tsunami Japan tref? Glo jy dit was buite Sy beheer?
Dink jy ons gebrek aan verstaan maak Sy werk ongedaan?
Is natuurrampe buite Sy beheer?
Hoekom sê die Bybel dan dat dit so sal wees?
Besef jy dat die Bybel geensins verkondig dat alles in die lewe net probleemvry en sonder moeilikheid sal wees nie?
Weet jy hoeveel plekke in die Bybel sê die Here dat Hy rampe bring of toelaat?
Neem dit die Here se godheid en liefde weg as slegte goed gebeur?
Aan die ander kant: dink jy God skep behae daarin as ‘n klein kindjie in ‘n swembad verdrink? Kan jy verklaar hoekom die Here sulke goed toelaat?
Besef jy dat Jesus gehuil het by Lasarus se graf? Sien jy ook deernis en hartseer by Hom as so iets gebeur?
As mense die Here as wreed sien in so ‘n situasie, hoekom hou so baie mense wat in hartseer en moeilike omstandighede is so naarstigtelik aan Hom vas?
Hoekom sal mense agterna getuig dat hulle nooit deur hierdie trauma sou kom as dit nie vir vertroosting van God was nie?
Dink jy die Here kan nie ‘n doel hê met ‘n ramp nie?
Dink jy ons moet alles wat Hy doen klinkklaar verstaan om sy Godheid te kan aanvaar?

Dink jy jy was ‘n ongeluk? Glo jy die Here het ‘n fout gemaak toe Hy jou geskep het? Is jy daardie een skepsel wat God planloos en doelloos gemaak het? Of is jy die een van wie God totaal vergeet het?
Dink jy jou absolute unieke ontwerp was sommer ‘n uitvloeisel van evolusie of toevallig?
Het jy al mooi gedink hoe jy aanmekaar gesit is?
Besef jy hoeveel honderde duisende sisteme in die skepping moet 100% volmaak werk om lewe op aarde te onderhou?
Het jy regtig nog nooit in jou lewe spesiaal gevoel nie? ... of kies jy om dit mis te kyk?
Dink jy dalk dat die Here moedswillig was toe Hy gestremde mense geskep het? Dink jy Hy kan hulle nie gebruik nie? Dink jy Hy kan jou nie gebruik nie?
Glo jy jy moet in die top tien talentvolles wees om iets werd te wees?

Besef jy hoe ‘n ongelooflike wonder die Bybel is?
Kon iemand al ooit een feit in die Bybel verkeerd bewys?
Hoekom het hierdie boek al soveel mense se lewens radikaal omgedraai?
Dink jy God kan net deur sekere vertalings met jou praat?
Is Hy beperk tot sekere mense se verklarings van woorde en sinne om tot jou deur te dring?
Weet jy dat die Bybel se finale samestelling reeds 1614 jaar gelede plaasgevind het.
Weet jy dat die Bybel tydloos is en altyd van toepassing sal bly?
Besef jy dat die Here vandag met jou sal praat as jy die Bybel lees? 

Werk gebed vir jou? Of dink jy die dominee wat nie meer bid nie, is reg?
Dink jy die Here behoort elke gebed op ons manier te antwoord om dit te laat werk?
Kan jy getuig dat gebed dié manier is om in ‘n twee rigting gesprek met God te wees? 

Wat sou jy sê as mense die bestaan van Jesus sou bevraagteken?
Is Jesus maar net ‘n konsep wat bestaan vir dié wat daaraan glo en vashou?
Is Hy vir jou ‘n werklikheid? ‘n Waarheid? ‘n Feit?
Dink jy hierdie praatjies van ‘n fiktiewe figuur sal na 2000 jaar nog waterhou as daar niks waarheid in is nie?
Hoekom sal almal wat tot bekering kom presies dieselfde Geestelike taal praat as hierdie maar net mooi storietjies was?
Dink jy jy kan sonder Hom in die Hemel kom, terwyl Hy uitdruklik sê Hy is die weg, en die deur?

Dink jy Hy kan jou nie liefhê nie?
Dink jy Hy is nie lief vir die Moslem of mense van ander gelowe nie?
Dink jy daar is iemand wat nie ‘n kans het om gered te word nie?
Voel jy dat jou sondes te groot is om deur Hom vergewe te word?
Voel jy dat Hy jou afgeskryf het?
Besef jy dat EEN uitroep na Hom toe alles kan en sal verander?
Glo jy Sy beloftes wat sê Sy genade is vir jou genoeg?
Besef jy dat Hy al jou probleme ‘n nuwe uitkoms kan gee, op Sy tyd?

Weet jy dat Hy nou met liefde in Sy oë na jou kyk, en Sy hand uitsteek na jou toe? Glo jy Hy ken jou naam? Is jy bereid om nou hierop te reageer?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)