|
|
|
SOOS 'N BOOM BY DIE WATER Hoe gaan dit met jou? Die gewone antwoord is mos maar "Goed dankie, en met jou?" Ons soek almal maar na volmaaktheid in die lewe, of hoe? Nou ja, volmaaktheid lê verseker nie in perfekte gesondheid nie, nie in baie geld nie (definitief nie!), en nie in 'n lewe sonder elemente van swaarkry nie. Nou, waarin dan? Ps 1:1-6 Dit gaan goed met die mens … · wat nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie. · wat in die Woord van die Here
sy vreugde vind, en dit dag en nag oordink. Moenie die raad van die goddeloses volg nie, moenie met hulle saamspan nie. Nee, gaan soek die antwoord vir jou vrae en probleme in God se Woord. Mense sê soms dat die Bybel vir die mense van die "Bybelse tyd" geskryf is. Nee, die Bybel is vandag net so relevant as 2000 jaar gelede. Alles staan vas, alles geld nog steeds. Die Woord van God is nie beperk tot 'n jaartal nie, ook nie velkleur, status, geografie nie … niks nie! Elke mens op aarde kan alles in die Bybel kry wat nodig is vir 'n vreugdevolle lewe. Dié mens wat in die woord van die Here vreugde vind en dit oordink sal wees soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra, en waarvan die blare nie verdroog nie …. Hoe lyk 'n boom wat by waterstrome staan? Goed vasgeanker in die grond, met 'n stewige stam, goeie wortels wat water in die waterstroom gaan haal. Ek sien in my geestesoog 'n massiewe wilgerboom, waarvan die takke sterk en stewig is …. Só is die mens wat in die Woord sy vreugde vind: vasgeanker in die lewe, met 'n oop kanaal na sy Maker toe, wat elke dag die nodige geestelike voedsel kry om die storms van die lewe te trotseer. 'n Boom spring nie van een kant van die stroom na die anderkant nie. Nee, hy is 'n sieraad vir die gebied waar hy staan - vir die grondeienaar. Hierdie persoon het nie die raad van die goddeloses nodig nie, en gaan hang nie rond in die doringbos nie. Ander mense kom soek by so iemand skuiling, en vra vir hom raad. So iemand bied sekuriteit en kennis, en die waarheid. 'n Gesonde boom dra op die regte tyd vrug - hy bring iets voort wat vir ander tot voordeel kan wees: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, selfbeheersing (Gal 5:22). Met so iemand gaan dit goed! Ps 1:3 - "Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak". Hy is standvastig te midde van storms, nie soos die goddelose wat soos kaf deur die wind uitmekaar gewaai word nie (vers 4). Ja, daar gaan wind kom, die weerlig slaan 'n hoë boom raak, maar die wat by die Here skuil, sal bly staan. Vers 6: Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang… en hulle lei dié wat na hulle luister ook na ondergang. Hulle ontwortel jong bome wat nog nie goed in die grond gevestig is nie. Hulle sal hulleself nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie. Die pad van die goddelose lei na ondergang. Dit gaan goed met die mens wat sy vreugde in die Woord van die Here vind. Al die antwoorde lê daarin, al die rigtingwysers is daarin opgeteken. Dit bring vreugde, dit bring vrug, dit bring standvastigheid … soos 'n boom wat by 'n waterstroom geplant is. Dit gee die regte raad, dit verduidelik hoe die smal pad lyk wat na die lewe lei, en hoe om dit te bewandel. Dit bring voorspoed vir dié wat dit dag en nag oordink.
|