|
|
|
Steve Farrar
skryf in sy boek “Finishing Strong” die volgende: “Men, it doesn’t
matter if you’ve had a great start in the Christian life. It doesn’t
matter if you’ve stumbled time and again – or even fall flat on your
face. What matters most is how you finish. The man who hangs in for the
long haul with his wife, his kids and his Lord is an exception these days.
Maybe only one man in ten will do it”. Sjoe, dis
skrikwekkend! Baie spring weg. Baie spring selfs goed weg, maar min maak
goed klaar. Ek dink in die wedloop van die lewe spring almal met goeie
bedoelings weg, baie selfs topfiks, sommige se ouers staan langs die baan
en moedig hulle aan. Sommige het die beste denkbare afrigting gehad. Ander
was minder gelukkig. Hulle ouers was nooit langs die baan nie. Nog ander
se afrgiting was heeltemal uit lyn met die resies. Maar so hol mense die
lewensresies. Party spring te vroeg weg, ander spring weer te laat weg,
ander WIL net nie uit die wegspringblokke kom nie. Maar … of jy lus het
of nie, die wedren vind plaas. Nou sê Steve Farrar: “Min gaan goed
eindig”. Nou wonder ek: as die wegspringomstandighede nie vir almal
dieselfde is nie, moet ons tog so iets van ‘n tendens kan voorspel van
hoe mense gaan eindig, of hoe? Maar tog lyk dit of die wegspring- en
eindig-omstandighede nie noodwendig by mekaar pas nie. Dit lyk vir my die
wedren word nie by die wegspring bepaal nie, en ook nie by die einde nie,
maar iewers tussenin. ‘n Baie goeie
vriend van my vertel my van sy ouers. Hy praat van “hulle”. Hy sê sy
pa was sy “rolmodel” – hy moes net besluit om alles anders as sy pa
te doen. Drank het sy pa se lewe oorheers, en die omstandighede was baie
sleg. Maar … vandag is my vriend ‘n wenner in baie opsigte. Hy is
besig om sy lewenswedloop uitstekend klaar te maak. Dan is daar ook
vriend, Rudolph, ‘n Rippel-luisteraar. Hy was op beide die
Rippel-mannekampe. Rudolph is liggaamlik gestrem, maar sjoe … hierdie
man hol die lewensreisies soos ‘n windhond. Hy is ‘n wenner! En dan
kry mens so baie mense wat alles in hulle guns gehad het. Die afrigting,
ouers langs die veld, die beste toerusting. En dan eindig hulle pateties. As dit dan nie
die wegspring is wat dit bepaal nie, hoekom eindig sommig mense se
lewenswedloop dan so sleg? Ek dink baie mense het die “suksesresep”
ontdek om hulle lewens te verwoes. Dit lyk my baie se lewens word verwoes
deur die plekke waar hulle langs die pad aandoen, die stasie waar hulle
stilshou. Kom ons lees oor
die eerste vernietigende stasie waarby mense aandoen: Spreuke 6:24-35 Wat ‘n slegte
stasie is dit nie hierdie nie! Vers 32 sê: “Jy moet van jou verstand af
wees”, vers 33: “Sy skande sal nooit uitgewis word nie”. Nogal waar,
né? Die koerante wag vir jou! Nie almal wat by hierdie stasie aandoen,
volg vers 26 se pad en gaan na ‘n prostituut toe nie. Nee, dit begin
sommer net met ‘n koffietjie by die werk, ‘n kort e-possie, ‘n skelm
oproepie, of ‘n sms-ie. Dan volg ‘n wit leuentjie. Later ‘n
toevallige kuiertjie …. En dit eindig in die bedjie! En dan sê jy:
“Ek het nie gevra daarvoor nie”, of : “Sy verstaan my so goed”,
of: “Daar kan mos niks fout
wees met ware liefde nie”. Woeps! Daar is jou lewenswedloop opgefoeter.
Om by stasie een te stop sal altyd slegte gevolge hê. As hierdie
verleidinge op jou pad kom is daar net een stukkie raad: HOL! Hardloop
vinnig en ver weg!!! Die tweede stasie: Spreuke 20:1 Kom ons kyk na elke stukkie van die teks en die slegte, slegte gevolge van drankmisbruik:
Stasie drie: Spreuke 30:7-9 By hierdie stasie
gaan dit oor ‘n onverstandige gejaag (en gejag) na geld. Party ouens
probeer hulle hardloopbroekies se sakke so vol geld prop, dat hulle net
nie kan wegkom nie. Jesus noem net een ander god wat teen Hom staan, en
dit is Mammon. Mammon vernietig huwelike op ‘n ander manier as stasie
een. Dit neem familietyd op. Dit verwoes pa-kind-verhoudinge. Dit bring
dikwels ongesonde begeerte en hebsug. Baie min superrykes kry ooit genoeg.
Oppas dat die geldgierigheid by stasie drie jou nie terughou in die
lewenswedloop nie. Die vierde stasie: Spreuke 24:30-34 Dié wat by
stasie vier aftrek, is dié wat te lui is om aan die resies deel te neem.
Hulle is passief, lusteloos, vol verskonings, gee net op, gee ander die
skuld vir hulle tekorte. Nee jong, die wedloop vra dat ons skouer aan die
wiel sal sit. Ag, moet tog nie smag na ‘n vroeë pensioen nie. Bly
solank as moontlik aktief. Nou ja, om fiks
te bly en aan te hou hardloop vra deursettingsvermoë, al kom daar steil
bulte. Dit vra dat jy opspring as jy geval het. Dit vra om in die regte
rigting te hardloop. Dit vra vorentoe kyk. Toe Lot se vrou agtertoe gekyk
het, het haar wedren net daar geëindig. Nuttelose soutpilaar! Waar moet ons dan
aandoen in hierdie wedloop? In ‘n marathon
is daar baie waterpunte. Dis ‘n lafenis,
waar jy verfris word en asemskep. In die wedloop van die lewe is
dit die Geestelike op-top-punte. Ja, my vriend, dit IS nodig om kerk toe
te gaan, om ‘n Bybelstudiegroep by te woon, om saam met ander Christene
te wees. Dit is waar jy verfris word en geestelik gestimuleer word. Dan laastens: die
suksesresep om uitstekend klaar te maak: Pred 12:13-14 Dit is hoe wenners hardloop! Toe, waar trek JY?
|