STRUIKELPLEKKE IN DIE WEDLOOP VAN DIE LEWE


Steve Farrar skryf in sy boek “Finishing Strong” die volgende: “Men, it doesn’t matter if you’ve had a great start in the Christian life. It doesn’t matter if you’ve stumbled time and again – or even fall flat on your face. What matters most is how you finish. The man who hangs in for the long haul with his wife, his kids and his Lord is an exception these days. Maybe only one man in ten will do it”. 

Sjoe, dis skrikwekkend! Baie spring weg. Baie spring selfs goed weg, maar min maak goed klaar. Ek dink in die wedloop van die lewe spring almal met goeie bedoelings weg, baie selfs topfiks, sommige se ouers staan langs die baan en moedig hulle aan. Sommige het die beste denkbare afrigting gehad. Ander was minder gelukkig. Hulle ouers was nooit langs die baan nie. Nog ander se afrigting was heeltemal uit lyn met die resies. Maar so hol mense die lewensresies. Party spring te vroeg weg, ander spring weer te laat weg, ander wíl net nie uit die wegspringblokke kom nie. Maar … of jy lus het of nie, die wedren vind plaas. Nou sê Steve Farrar: “Min gaan goed eindig”. Nou wonder ek: as die wegspring omstandighede nie vir almal dieselfde is nie, moet ons tog so iets van ‘n tendens kan voorspel van hoe mense gaan eindig, of hoe? Maar tog lyk dit of die wegspring- en eindig-omstandighede nie noodwendig by mekaar pas nie. Dit lyk vir my die wedren word nie by die wegspring bepaal nie, en ook nie by die einde nie, maar iewers tussenin. 

‘n Baie goeie vriend van my vertel my van sy ouers. Hy praat van “hulle”. Hy sê sy pa was sy “rolmodel” – hy moes net besluit om álles anders as sy pa te doen. Drank het sy pa se lewe oorheers, en die omstandighede was baie sleg. Maar, vandag is my vriend ‘n wenner in baie opsigte. Hy is besig om sy lewenswedloop uitstekend klaar te maak. Dan is daar ook vriend, Rudolph, ‘n Rippel-luisteraar. Hy was op beide die Rippel-mannekampe. Rudolph is liggaamlik gestrem, maar sjoe, hierdie man hol die lewensreisies soos ‘n windhond. Hy is ‘n wenner! En dan kry mens so baie mense wat alles in hulle guns gehad het. Die afrigting, ouers langs die veld, die beste toerusting. En dan eindig hulle pateties. 

As dit dan nie die wegspring is wat dit bepaal nie, hoekom eindig sommige mense se lewenswedloop dan so sleg? Ek dink baie mense het die “suksesresep” ontdek om hulle lewens te verwoes. Dit lyk my baie se lewens word verwoes deur die plekke waar hulle langs die pad aandoen, die stasies waar hulle stilhou. 

Kom ons lees oor die eerste vernietigende stasie waarby mense aandoen: 

Spreuke 6:24-35
My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander wat jou met haar gladde tong wil verlei.
Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie.
Jy kan 'n prostituut kry vir 'n stuk brood, maar owerspel kan jou lewe kos.
Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak?
Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand?
Net so min kan jy by 'n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie.
'n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te stil,
en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit.
Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe.
Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie.
Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken nie perke nie;
hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie. 

Wat ‘n slegte stasie is dit nie hierdie nie! Vers 32 sê: “Jy moet van jou verstand af wees”, vers 33: “Sy skande sal nooit uitgewis word nie”. Nogal waar, né? Die koerante wag vir jou! Nie almal wat by hierdie stasie aandoen, volg vers 26 se pad en gaan na ‘n prostituut toe nie. Nee, dit begin sommer net met ‘n koffietjie by die werk, ‘n kort e-possie, ‘n skelm oproepie, of ‘n SMS-ie. Dan volg ‘n wit leuentjie. Later ‘n toevallige kuiertjie …. En dit eindig in die bedjie! En dan sê jy: “Ek het nie gevra daarvoor nie”, of : “Sy verstaan my so goed”, of:  “Daar kan mos niks fout wees met ware liefde nie”. Woeps! Daar is jou lewenswedloop opgefoeter. Om by stasie een te stop sal altyd slegte gevolge hê. As hierdie verleidinge op jou pad kom is daar net een stukkie raad: HOL! Hardloop vinnig en ver weg!

Die tweede stasie:

Spreuke 20:1
Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie. 

Kom ons kyk na elke stukkie van die teks en die slegte, slegte gevolge van drankmisbruik:

  • Ligsinnig – sinonieme vir ligsinnig kan wees verspot, naam weggooi, naam met ‘n plank slaan, skande maak, van jouself ‘n bespotting maak.

  • Laat jou lawaai maak – drank maak van jou iemand anders; jy raak buite beheer.

  • Van dronkenskap slinger – hoe hol ‘n ou wat slinger in sy lewensreisies? Hy kan nie! En siestog, as hy val, sal hy lê en slinger!

  • Onverstandig – dit is hoe die drank by stasie twee jou maak. Jy kan nie logies en reguit dink en optree nie.

Die derde stasie:

Spreuke 30:7-9
Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf:
moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het,
sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: "Wie is die Here?" nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie. 

By hierdie stasie gaan dit oor ‘n onverstandige gejaag (en gejag) na geld. Party ouens probeer hulle hardloop broekies se sakke so vol geld prop, dat hulle net nie kan wegkom nie. Jesus noem net een ander god wat teen Hom staan, en dit is Mammon. Mammon vernietig huwelike op ‘n ander manier as stasie een. Dit neem familietyd op. Dit verwoes pa-kind-verhoudinge. Dit bring dikwels ongesonde begeerte en hebsug. Baie min superrykes kry ooit genoeg. Oppas dat die geldgierigheid by stasie drie jou nie terughou in die lewenswedloop nie. 

Die vierde stasie:

Spreuke 24:30-34
Ek het by 'n lui mens se land verbygestap, by 'n onverstandige mens se wingerd:
dit was heeltemal oortrek van die onkruid, toegegroei onder die bossies, en die klipmuur was omgeval.
Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink en daar iets uit geleer:
nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie handevou om te slaap,
en daar kom jou armoede aangestap, daar oorval die gebrek jou soos 'n inbreker, sonder dat jy dit kan keer. 

Dié wat by stasie vier aftrek, is dié wat te lui is om aan die resies deel te neem. Hulle is passief, lusteloos, vol verskonings, gee net op, gee ander die skuld vir hulle tekorte. Nee jong, die wedloop vra dat ons skouer aan die wiel sal sit. Ag, moet tog nie smag na ‘n vroeë pensioen nie. Bly solank as moontlik aktief. 

Nou ja, om fiks te bly en aan te hou hardloop vra deursettingsvermoë, al kom daar steil bulte. Dit vra dat jy opspring as jy geval het. Dit vra om in die regte rigting te hardloop. Dit vra vorentoe kyk. Toe Lot se vrou agtertoe gekyk het, het haar wedren net daar geëindig. Nuttelose soutpilaar! 

Waar moet ons dan aandoen in hierdie wedloop?

Pred 12:1
Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: "Ek het daar niks aan nie." 

In ‘n marathon is daar baie waterpunte. Dis ‘n lafenis, waar jy verfris word en asemskep. In die wedloop van die lewe is dit die Geestelike op-top-punte. Ja, my vriend, dit IS nodig om kerk toe te gaan, om ‘n Bybelstudiegroep by te woon, om saam met ander Christene te wees. Dit is waar jy verfris word en geestelik gestimuleer word. 

Dan laastens: die suksesresep om uitstekend klaar te maak: 

Pred 12:13-14
Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word.
God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.

 Dit is hoe wenners hardloop! Toe, waar trek JY?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)