|
|
|
Tekens, gebare, verkeerstekens, merkers, goed met 'n spesifieke betekenis. Ons sien dit op die pad, en ons gebruik dit ongelukkig soms op 'n lelike manier. Spesifieke tekens be-TEKEN spesifieke goed. Dis orals om ons. Tekens het egter in die Bybel 'n besondere plek gehad, en die Here het dit regdeur die Bybel gebruik. Daar was 'n spesifieke plek daarvoor en daar is vandag steeds 'n spesifieke plek. Soms word dit reg gebruik en soms word dit ongelukkig verkeerd gebruik – of liewer, misbruik. In die Ou Testamentiese tyd het die Here wondertekens gebruik om mense se geloof in Hom te versterk. Eks 4:1-5, 30-31 Aäron het hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en daarna het Moses die tekens voor die volk gedoen. Hulle het hom geglo. Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig. Wondertekens, sodat die mense kon glo dat God in beheer was van hierdie opdrag aan Moses. Dis opvallend dat niks van hierdie wondertekens iets te doen gehad het met persoonlike voordeel vir Moses nie. Eks 6:27 – 7:5 Hierna lees ons dat die Here die plae gebruik as tekens van Sy almag. Hierdie tekens hat 'n dubbele doel gedien: aan die een kant sodat Sy volk kon glo en weet dat Hy die opdrag gegee het om te trek, en aan die ander kant sodat die Farao sou glo dat die Here die opdrag gee. Nietemin het die Here die Farao se hart verhard, sodat Hy meer tekens en wonders kon doen. Die Here het hierdie wondertekens gegee op Sy inisiatief sodat Hy sy planne kon deurvoer, en nie tot enige persoon se voordeel nie, en dit het nie 'n element van toekomsvoorspelling bevat nie. In Rigters 6 lees ons hoe die engel van die Here aan Gideon verskyn en dan 'n wonderteken doen toe die Here aan Gideon die opdrag gee om die Medianiete te verslaan. Alles tekens sodat die mense God se almag kan sien. Vandag soek mense steeds tekens. Ek dink ons almal ken die spreekwoord “om 'n velletjie uit te gooi”: Rigters 6:36-40 Die Here praat met Gideon EN gee hom 'n teken soos wat hy vra. Dink mooi of hierdie teken enigsins vir Gideon se persoonlike voordeel of voorspoed was? Nee, hoegenaamd nie. Dit het daaroor gegaan dat Gideon 'n opdrag gekry het om Israel deur te red. Ongelukkig is ons vandag nogal lief daarvoor om op dieselfde manier 'n teken te probeer kry, maar gewoonlik tot ons eie voordeel. Natuurlik is dit 100% reg om 'n besluit wat geneem moet word te toets, om God se wil te vra, om seker te maak dat ons doen wat die Here wil hê, en in besonder, om te weet of ons regtig God se stem gehoor het, en nie ons eie stem nie. Die vraag is, het ons vandag nog tekens nodig of nie? Waar pas fisiese, bonatuurlike tekens in wat bo die mens se begrip staan? Hoekom? Om te weet of God bestaan? Om te weet of dit Sy opdrag is of Sy goedkeuring wegdra? Of is dit dikwels vir eie gewin? Waarvoor soek jy dit? Terug na tekens in die Bybel, en nou in die Nuwe Testament. Jesus het baie wonderwerke gedoen. In Joh 2 lees ons hoe Jesus, sy ma en die dissipels na 'n bruilof in Kana genooi is. Daar doen Hy Sy eerste openbare wonderwerk en verander water in wyn. Baie mense wat lief is vir die voggies sou graag daai ding wou doen! Maar Jesus se doel daarmee was nie om die drankrekening af te bring nie... Joh 2:11 Kan jy sien dat daar geen persoonlike voordeel vir enige iemand was nie? Die woord wat hier in Joh 2:11 gebruik word is wonderteken, en nie wonderwerk nie. Ek wil graag 'n lyn trek tussen 'n teken en 'n wonderwerk (soos bv die genesing van mense), wat wel persoonlike voordeel vir iemand inhou. Die wondertekens waarna ons nou gekyk het, het almal te doen gehad met geloof in die Here. Dit was hoekom dit gedoen is. Maar nie almal wou glo nie ... Joh 12:37 Net so moet ons oppas dat ons geloof in God nie van wondertekens afhanklik raak nie. As jy afhanklik is van wondertekens om te glo, maak die Bybel geen impak meer op jou lewe nie. Matt 12:38-39 Vriend, jy het nie regtig meer 'n wonderteken nodig nie. Weet jy, mense soek tekens om hulle te help om besluite te neem. Vir ander werk, of oor 'n bediening, of 'n huweliksmaat, ens. Daar is teoreties niks daarmee verkeerd nie. Ongelukkig gaan soek mense dit soms op die verkeerde plekke, en om die verkeerde redes. En meestal gaan dit dan net oor eie gewin. Ek het al baie kere gehoor dat mense so 'n teken soek, en dan na enige iets gryp net om die antwoord te kry wat hulle in elk geval wou hoor. Iemand vertel eendag dat hy van werk wou verwissel maar 'n teken wou hê. Hy bid toe en vra die Here vir 'n teken. As sy vennoot by sy kantoor sou instap en kom groet, sou hy dit as 'n teken beskou dat hy moes aanbeweeg, en andersom. Punt is, die vennoot het in elk geval elke oggend ingestap en gegroet. Dis 'n bespotting maak van 'n wonderteken. So 'n paar praktiese punte om te oordink:
Oor die algemeen dink ek nie jy het bo-natuurlike tekens nodig nie. Gee jouself oor aan die Here en vertrou op Hom alleen! |