|
|
|
So gemaak en so laat staan. Klink dit bekend? Ons gebruik graag hierdie spreekwoord. Ons almal is verskillend geskape, ons dink verskillend, ons voel verskillend. Dis reg so, elke mens is ‘n individu in eie reg. Dieselfde ... maar verskillend. Ps 139:13-18 1 Kor 6:12-20 Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom. Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat 'n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. Sjoe, ‘n baie belangrike opdrag. Julle moet God dus in julle liggame verheerlik. Hierdie gedeelte verwys sterk na seksuele losbandigheid. Paulus vra eintlik: waarin laat jy God woon? Waarin nooi jy die Here in as jy jou hart vir Hom oopmaak? Wat maak jy met jou tempel? My doel is nie om enige skuldgevoel op iemand te laai nie, ek vra net: dink ‘n bietjie waarin laat jy God woon? Jare gelede was daar ‘n advertensie op die radio vir ‘n sekere lugverfrisser. Dit het so iets geklink: Vroulief: Gawe
mense, die Jansens. ... wat bederf jou woning? Die liggaam is die draer van die siel, die blyplek van die siel, die plek waar jou gees God se Gees ontmoet. ‘n Hooggeplaaste word mos altyd in ‘n grênd plek onthaal, of hoe? Jy gaan nou nie die staatspresident na die agtertangse hotelletjie in die onderdorp uitnooi nie, of hoe? Maar nou sê ons mos maklik: God het my gemaak soos ek is. Dit is waar .... Maar, wat vang ek met hierdie tempel aan? Onderhou ek hom? Of verwoes ek hom? Het jy al gehoor van entropie? Dis ‘n teorie wat verduidelik dat alles outomaties in wanorde wil verval. Sleep ‘n tuinslang en hy haak vas of maak ‘n kinkel. ‘n Verlengtou sal altyd goor afrol. Laat val ‘n geordende pak kaarte en dit sal totaal deurmekaar op die grond lê. Verf jou huis en die hond spring dit dadelik weer vuil. Dis entropie. Dit kan net op een manier beveg word, en dit is deur energie in te sit. So is mens se liggaam – hy neig om outomaties te verval, en jy moet iets doen om dit teen te werk. As jy nie oefen nie, word jy pap, as jy nie let op wat jy eet nie, word jy ronder, as jy nie roompies aansmeer nie, kom die plooie, ens. Wat is die stand van jou tempel? Toe ek jonk was, was ek ‘n kapelletjie; later het ek ‘n katedraal geword! Ek moes nie iets doen om dit reg te kry nie – maar ek moes hard werk om dit weer te probeer omkeer. In die proses het ek ‘n baie goeie dieët gekry: die “bek-en-klou”-dieët. Jy hou die klou van die bek af! Moeilik, maar dit werk. Ek glo God gee vir ons die verantwoordelikheid om na ons liggame te kyk. 1 Kor 12:22-25 Sien jy ook hierin iets van die versorging van die fisiese liggaam? Een liggaam, een lewe – versorg dit. Dit is een groot genade as alles reg werk. Werk alles reg by jou? Of is jy besig om jou liggaam geleidelik af te takel met drank? sigarette? ... ander verslawing? Waar nooi jy die Here in? In ‘n oorvol spens in? Of laat jy die kaggel heeldag brand? Is dit dalk ‘n shebeen? Of moet Hy heeldag kom kuier in jou senuwee-kliniek? Of is dit dalk ‘n bordeel? Of dalk is jy te moeg om die deur enigsins oop te maak? Word die Here dalk ingenooi in ‘n oorlogskip waar die matrose vloek en skel? Of miskien nooi jy Hom in ‘n bokskryt in, waar daar heeldag gevegte aan die gang is? Of is dit net ‘n werkplek? Hoe lyk daardie binne-kamer van jou waar jy stilword met God? Gaan Hy welkom voel? Gaan Hy jou gesin daar kry? Wil jy nie dalk nou kies om te begin breek met daardie “iets” wat jou tempel verwoes nie? Sal jy kies om meer te rus? Af te skaal en meer te ontspan? Dalk so bietjie oefening doen? Gesonder eet? Dodelike roetine verander, dissipline aan die dag lê, nuwe ontspan-beleid maak ? Dalk sekere plekke en sekere geselskap vermy? Dalk wil jy kies om by ‘n paar nuwe stasies aan te doen? Miskien sal dit jou geld kos, miskien sal dit jou status kos .... doen dit! Ek dink nie enige mens het al op sy sterfbed gelê en gesê: as ek maar net nog harder gewerk het nie. Ook nie: Het ek maar meer toegegee aan my selfvernietigende gewoontes nie. Is ons dalk besig om God se tempel af te breek, om die lewende woonplek van die siel te vermoor? Dis nie te laat om te stop, en dit om te keer nie. Wat jy vandag verander, kan dalk al reeds more ‘n verskil maak. Kom ons heilig en reinig die tempel – dis God se geskenk aan ons. |