|
|
|
Het jy ‘n testament? So ‘n twee of drie-bladsy dokument wat iewers onder in ‘n rak weggebêre is, lank terug geskryf is, en dalk nooit eers wettig geteken is nie. Daar kort dalk ‘n handtekening van ‘n getuie, of detail is uitstaande. Wanneer is ‘n testament geldig? Wel, as jy nou hier kan lees, is die stuk papier met jou testament heeltemal nutteloos op hierdie oomblik, want jy leef nog. ‘n Testament het eintlik geen geen waarde en voordele vir die eienaar en opsteller daarvan nie. Dit reflekteer jou wil oor alles wat jy hier op aarde vergader het, sodat jy met niks graf toe kan gaan. So, los die testament maar daar in die laai, sorg net dat hy op datum bly, en dat jy nie dalk iemand benoem het wat dalk al self oorlede is nie! Werk nou maar lekker hard vandag, maak meer en meer bymekaar (ja, ten koste van jouself, en ten koste van jou gesin?), sorg dat daar ‘n paar name in die testament beskryf word wat jou goedjies kan kry, anders gaan jy die arme boedelberrederaar in die duister laat. Het jy al daaraan gedink dat jou erfgename absoluut niks kan doen met hulle erfporsie, of eers daarop kan aanspraak maak solank as wat jy nog lewe nie? En as hulle weet hulle name staan in jou testament sal hulle beslis nie sing: “lank sal hy lewe” nie! Die testament bevoordeel dus nie die eienaar nie, en die erfgename lê beslag op iets waarvoor hulle toe glad nie gewerk het nie. Heb 9:11-22 Hier word gepraat van ‘n testament. Kan jy sien dat dit ook sê die testamentmaker moet sterf, sodat ander bevoordeel kan word? Vers 17 sê: “want 'n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie”. Wie is die Testamentmaker? Dit is Jesus Christus. In wie se testament sou jy graag jou naam wou sien? Of anders gestel: uit wie se dood sou jy die grootste voordeel trek? Watter voorwaardes sou in ‘n testament geskryf kon word wat vir jou die meeste kan beteken? Waar wil jy jou naam sien? Openbaring 3:5 “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe haal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort” ….. ek wil my naam hier sien. Henb 9:15: Daarom is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. Sy dood het dus eerstens die testament geldig gemaak, en dan tweedens dié wat erf, erf alles en erf dit vir ewig. Jy sien, as jou naam êrens in ‘n aardse testament is, gaan jy vir ‘n ruk die voordeel van die testament beleef, net om maar weer alles (of liewer, dit wat oor is) in jou testament vir die volgende persoon na te laat. Dit lyk dus of jy nie veel voordeel uit hierdie ding trek nie. Voorts lyk dit vir my of ‘n aardse testament ons nogal kan weghou van die Here af. Nogal erg om sien hoe ‘n vet erfporsie mens laat voel jy hoef nie meer op die Here te vertrou nie, en om te sien dat die erfporsie nie lank hou nie. Die Bybel sê hoeka: “Geld wat sommer so verkry word, verdamp net so vinnig” Kom ek vertel vir jou ‘n mooi verhaal van ‘n testament: gedurende die eerste wêreldoorlog was daar ‘n skatryk man met ‘n enorme kunsversameling. Sy enigste kind, ‘n seun, word toe opgeroep om in die oorlog te gaan veg. Lank nadat hy weg is oorlog toe, kry die man die tyding dat sy enigste seun gesterf het. Hy was absoluut gebroke. Na die oorlog verby is, kom daar eendag ‘n jongman by sy huis aan en sê hy was die seun se beste vriend. Die vriend bring toe ‘n houtskoolskets van die seun se gesig vir die pa. Hy vertel dat hy die skets in ‘n loopgraaf gemaak het, kort voor die seun se dood. Vir die ou man was hierdie houtskoolskets in die eenvoudige raam die heel beste item in sy kunsversameling. Na die ou man se afsterwe word sy hele kunsversameling toe op ‘n veiling verkoop. Kunsversamelaars van oor die hele wêreld het gekom om van dié kosbare stukke te koop – ouens met baie geld. Die eerste item wat toe onder die hamer kom is die skets van die seun, en niemand stel belang om daarop te bie nie, want dit lyk waradeloos. Die afslaer het wéér en wéér probeer om die stuk vir $100 van die hand te sit, mar niemand het belanggestel nie. Uiteindelik sê hy toe dat iemand dit gratis kan kry sodat die veiling net kan aangaan. Iemand agter in die saal steek toe skaam sy hand op, want hy kon niks bekostig nie. Die bod word toegeslaan op die skets van die seun – gratis. En net daar slaan die afslaer hard met sy hamer en sê dat die veiling verby is. Geskok kyk almal vir mekaar en vra wat dan nou van die ander kosbare skilderye? Die afslaer se antwoord was dat die testament sê: “die een wat die seun vat, kry alles”. So is dit met my en jou: Die een wat die Seun vat, kry alles, vir altyd – dit is wat die testament bepaal. Het jy die Seun? Maak seker dat jou naam in die testament is. |