|
|
|
Toe kap hulle sy kop af. Hy het absoluut niks verkeerd gedoen nie, hy was 'n regverdige en opregte man, hy was waarlik 'n uitverkorene. En, glo dit of nie, daar is oor hom in die Ou Testament geprofeteer. Hy was 'n besondere mens en het 'n besondere taak gehad. Hy is die een wat die pad gelyk moes kom maak vir Jesus, en het selfs vir Jesus gedoop! ... En toe kap hulle sy kop af. 'n Mens sou in skok en afgryse kon vra hoekom Jesus dit kon toelaat. Hierdie persoon was natuurlik Johannes die doper en hy was nie 'n dissipel nie. Kom ons ondersoek vandag bietjie onsself aan die hand van die verhaal van hierdie merkwaardige man. Ons sou seker kon sê dat God gister, vandag en môre dieselfde is, of hoe? En hoewel God mense op besondere maniere geroep en gebruik het in vervloë dae, sou ons sekerlik vandag iets kon put uit die lewe van hierdie Johannes. Ons probleme, vervolging, moeilikhede, swaarkry en stryd kan op een of ander manier vergelyk word met dié van Johannes die Doper. Dalk moet ons ons status in Christus bekyk aan die hand van hierdie verhaal. En ons kan ook dalk ons verwagtinge beter bekyk. Jes 40 : 3 – 5
(Die profesie) ”Iemand roep...” Iemand wat 'n aankondiging maak oor die Redder wat op pad is. Matt 3 : 1 – 3
(die vervulling van die profesie) Die profesie in Jesaja is dus baie duidelik die oor Johannes die Doper. 'n Mens sou nogal kon sê dat Johannes die Doper 'n baie belangrike rol gespeel het in die Bybel en in die Christelike geskiedenis. En wragties, hulle kap sy kop af! Matt 3 : 4 – 12
Johannes die Doper het nie doekies omgedraai nie. Hy mag miskien 'n eenvoudige man gewees het wat van sprinkane en veldheuning geleef het, maar hy was nie 'n hierjy nie. Die manier waarop hy die Fariseërs en Sadduseërs aangevat het, spreek van iemand wat geweet het wat aan die gang was in die godsdienstige wêreld van daardie tyd. Wat hy gedoen het was uiters ongehoord in daardie tyd, want die klomp “geestelikes” het status gehad. Voorts het hy mense gedoop, nog voordat die dissipels aangewys is en mense gedoop het. Matt 3:13 – 17 Dit moes aangrypend wees om die Skepper van hemel en aarde te doop, die een wie se koms hy aangekondig het, soos deur Jesaja beskryf. Besef jy hoe groot daardie oomblik moes wees toe die hemel oopgaan en die stem met hulle praat? Hier is nou die kruks van hierdie boodskap:- As ek Johannes was, sou ek nogal gedink het ek het Geestelike status, meer as ander. God het my mos inderdaad geroep vir groot dinge en Hy gaan my sekerlik enduit gebruik. Hoog aangeskryf in die Here se oë, sou ek sekerlik kon aanspraak maak op ekstra guns, so bietjie witbroodjie status. Ek sou kon sê dat ek as Christen seker nie finansieël hoef te sukkel nie, en nooit siek word nie, en net voorspoed in oorvloed beleef. Jy weet mos, daai Johannes 10:10 “Ek sal vir julle die lewe gee, en dit in oorvloed”. My huwelik sou op gladde water moes loop en my kinders moes modelkinders wees. En o ja, iemand met hierdie status verloor ook nie sy werk nie. En nee, God sal nooit toelaat dat 'n ramp my tref nie. Ek is tog immers Sy kind en baie, baie spesiaal. Johannes sou seker so kon redeneer soos ons vandag doen, of hoe? Maar toe kap hulle sy kop af. Later sou Johannes in die tronk beland vir sy geloof en omdat hy gedoen het wat reg is. Maar... toe kom die twyfel. Matt 11:2-3 Johannes het groot dinge gedoen en beleef, maar toe kom die twyfel. Johannes se volgelinge gaan vra vir Jesus of Hy die een is, en dan... Matt 11:4- Jesus gaan nie self na Johannes toe nie, hy stuur net 'n boodskap. Maar eintlik is die kern van die boodskap “Johannes, ten spyte van alles wat jy beleef, weet net EK IS...” Hy gaan haal nie vir Johannes uit die tronk uit nie, hoewel Hy sou kon. Hy gaan red hom nie uit die ongeregtigheid van die owerhede nie. Hy los hom net waar hy is. Jesus doen egter 'n vreemde ding. In plaas daarvan om Johannes te red, vertel Hy vir die mense watse wonderlike mens Johannes is. Hy spog as't ware met Johannes se karakter en deugde. Matt 11:11 Jesus gaan vertel dit nie eers self vir Johannes nie. Dink jy Hy het Johannes vergeet, of Sy rug op hom gedraai? Dink jy partykeer God het Sy rug op jou gedraai, of jou vergeet? Daar in jou Johannes-tronk? Dink jy God dink minder van jou as dit met jou swaar gaan? Of glo jy jy kan die Here so bietjie manipuleer met goeie dade? Of dink jy God skuld jou iets omdat jy die moeite doen om in Hom te glo? Dink jy so bietjie “voorspoed-teologie” kom jou toe? Niemand op aarde was groter as Johannes die Doper nie, maar toe kap hulle sy kop af! Matt 14:6-1 Toe kap hulle sy kop af, heeltemal sinneloos, sonder rede. Hy was in die tronk gegooi omdat hy vir Herodus gesê het dat hy nie vir Herodias – die vrou van sy broer Filipus, as vrou mag vat nie. 'n Sinnelose, tragiese dood, waarvan ons gelukkig die grusame detail gespaar is. Hoekom het Jesus dit toegelaat? Ek weet nie. Hoekom laat God jou swaarkry toe? Ek weet dit ook nie. Dan lees ons iets van Jesus se reaksie op hierdie tragiese nuus. Matt 14:1 Jesus gaan na 'n stil plek toe om alleen te wees. Ek glo dis omdat Hy hartseer en bedroef was oor die wreedheid en harteloosheid van die mens, dalk was Hy selfs tot in Sy siel geskok dat hulle dit gedoen het. Ek wonder wat het Hy gedink. Hy kon ingryp, maar Hy het nie. Herodus het sy mag msibruik, maar Jesus het nie Sy mag misbruik nie. Weet jy wat sien ek hier? Dat Jesus selfs sinnelose dinge toelaat. Maar... Jesus het nie Sy Godheid en goedheid prysgegee nie. Ook nie Sy almag, of SY “Ek is...” nie, ook nie Sy omgee vir die mensdom nie. Ek glo dat Jesus saam met jou in jou swaarkry ly en selfs soos by Lazarus se graf, 'n traan stort. Alles maak nie sin nie, en Jesus gryp nie altyd in moeilike tye in nie, maar Hy bly steeds God. |