|
|
||||||||||||||
|
TOEKOMSVERWAGTING – 25 Februarie 2009
Bitter
swaar, moedeloos, maar …. En dis by hierdie “maar” wat ek vandag wil
stilstaan. Die mense in konsentrasiekampe, Israeliete in die woestyn, en
ons voorsate in die Groot Trek, het een ding in gemeen gehad: ‘n
toekomsverwagting! ‘n Rede om voort te beur, ten spyte van … Het jy
nog so iets soos ‘n toekomsverwagting? Of het jy ook al boedel oorgegee?
Jy ken mos die praatjies wat ons deesdae hoor: “Alles is tot niet! Kyk
waar gaan ons heen … Ons is een van die dae waar Zimbabwe is”, ens.
ens. Kan jy dink wat sou
gebeur as Moses boedel oorgegee het? Of as Piet Retief en sy manne halfpad
opgegee het? Of as Anna Franck nie haar dagboek geskryf het nie? Sjoe, wat
sou hierdie mense nie gee om óns lewensomstandighede te hê nie? Al sou
die vyeboom nie bot nie … NOGTANS sal ek in die Here jubel – kan jy
dit sê? Viktor
Frankl skryf in “Man’s search for meaning", dat die mens bykans
enige swaarkry kan verduur, as hy net weet “hoekom”. Die mens kan
uithou as hy net weet waarvoor dit nodig is. 1 Pet 1:3-9
“Sodat
die egtheid van julle geloof getoets kan word”. Nou ja, as ons wil weet
wat ons langtermyn toekomsverwagting moet wees, gee vers 3-4 die antwoord:
“ Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en
onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou
word.” Lyk my sukkel en swaar is so “normaal” soos ontbyt eet. 1 Pet
1 gee ‘n goeie antwoord vir die “hoekom” ons moet vasbyt. Maar …
wat van NOU, vandag, hier … Jy
sien, in uiterste omstandighede lyk dit of die mens nog altyd glo dinge is
nog nie op op sy slegste nie. Die meeste, meeste mense glo dat dit maar
eintlik beroerd met hulle lewens gaan. Is dit waar vir jou? Maar weet jy,
dit kan altyd nog slegter gaan. Die probleem is gesetel in die feit dat
ons toekomsverwagting verflou in moeilike tye, todat ons régtig met die
rug teen die muur staan. En eers dan sal ons aan die dunste strooihalmpie
vasklou. ‘n Ou met die naam van Bismarck het gesê: “Die lewe is soos
om by die tandarts te wees. Jy dink altyd die ergste kom nog, instussen is
dit al verby.” En so mis ons ‘n goeie toekoms. Toekomsverwagtingloosheid
… Wat ‘n vreeslike woord, maar dis nog ‘n vreesliker gedagte! Weet
jy, ons smyt ‘n goeie toekomsverwagting by die agterdeur uit weens
vrees, kommer, negatiwiteit, hooploosheid, ongeloof, en ja,
ondankbaarheid! En swak Wiskunde – as jy nie jou seëninge kan tel nie.
Om hoop te verloor is dodelik! Dit vat jou bravade weg, jou veggees word
verwoes, en jou hele sisteem val inmekaar. Selfs op mediese vlak is bewys
dat jou hele immuunstelsel ingee, jy word fisies siek, en jou brein hou
selfs op planne maak. Weet jy, ek bid regtig dat jy nie daar is nie, of op
pad soontoe nie. “Voor in die wapad brand ‘n lig” … wees net
bereid om vorentoe te kyk. Dink gou saam met my …. Hoe dink jy gaan
vandag vir jou wees? Vrees jy iets wat vandag voor jou lê … net reg om
jou te vang? Of sien jy ten minste na IETS uit? Dink terug aan gister: was
dit ondraaglik? Terrible? Onuithoubaar? O … jy sê gister was toe heel
okay, hoewel jy eergister so paniekerig was oor gister. Toe nie so sleg
uitgedraai nie, of hoe? En laasjaar? Jy het toe eintlik goed oorleef? Kom
ons leer vandag dat die Here ten volle in beheer is, dat Hy altyd betyds
is, dat Sy arm NOOIT te kort is om te help nie, dat die son wel more sal
opkom en oor jou sal skyn! Wat het oom Chrisjan vir tant Gertruida daar langs die wa gesê terwyl hy so in die vuur gestaar het? Dalk iets soos: - vroulief, jy moet vasbyt, ons is verby die ergste - sien hierdie swaarkry as ‘n geleentheid -
die lig voor in die pad sê: daar is iets om na te volg; Iets of
Iemand, soos die Here! Wanneer die mens op sy laagste is, kan hy een van 2 dinge doen: 1) “Vegetate”– soos ‘n koolkop raak 2)
Opstaan, en vorentoe beur. Dit
hang van my en jou af of ons gaan kies om te soek wat swaarkry, of liewer,
deurdruk regverdig! Iemand
het uitgeroep: “If I can just be worthy of my suffering”. Dink jy
Jesus kon dit sê? Dink jy nie Hy het die bitter beker gedrink omdat Hy
‘n toekomsverwagting gehad het nie? Hy het, weet jy – Hy het ‘n
toekomsverwagting gehad vir jou en my. He was worthy of his suffering. Hy
het geweet “hoe” om deur te druk, want Hy het die “hoekom” geken.
Hy het daardie krag in my en jou ingebou om te kan voortbeur – vind uit
“hoekom”, dan sal jy weet “hoe”. Daar
is altyd iets wat jou kan help. Gaan soek dit…. “voor in die wapad
brand ‘n lig”
|