TWEE MANDJIES VRUGTE

Twee mandjies vye. Goeie vye en slegte vye. Goeie vrugte en slegte vrugte. Eetbaar en oneetbaar. Bruikbaar en onbruikbaar. Albei is vye, albei is vrugte, maar een bruikbaar en die ander nie.

Jer 2 : 3 Israel was toe aan die Here gewy soos die eerste vrugte van die oes. Niemand wat hierdie vrugte geëet het, het ongestraf gebly nie, rampe het hom getref, sê die Here.

Twee mandjies vrugte. Een heerlik om aan te smul, die ander vrot. En so is ons vrugte 'n teken van ons lewens. Ek en jy is mandjies, ons dra almal vrug, maar soms is ons vrugte maar vrot. Een ding is duidelik, die vrot vrugte in ons mandjies is net ons eie keuse. Die vrugte se toestand word nie deur ons omstandighede bepaal nie. Nee, die mandjie mag deur ander faktore be-invloed word, maar, ons besluit steeds self hoe die vrugte lyk. Vrugte is óf goed óf sleg. Wat dra ek en jy? Hoeveel skuld kan die Here kry as ons vrugte vrot is?

Nee, niks nie, die Here moedig ons aan om goeie vrugte te dra. Weet jy, 'n mens kan baie gou sien wat 'n ander mens dra, sommer gou-gou. Maar dit kan ook plastiek vrugte wees. Dit is wanneer ons dinge doen vir eie gewin, om die mense te plesier. Om ons gewete te sus. Die Here verwag van ons om goeie gesonde, lekker vrugte te dra. Mandjies vol.

Twee mandjies vrugte. Hoe lyk hierdie mandjies vol vrugte? Die vrugte sê alles van die boom.

Matt 12 : 33 "As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed, en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken." Wel die mandjie vol goeie vrugte is duidelik onderskeibaar van die een wat slegte vrugte dra. En onthou, ons is die mandjies, die vrugte die uitvloeisel van ons lewenstyl. Kom ons raak prakties:- Goeie vrugte wat ons dra vs slegte vrugte.

Opbouende woorde - Skinder, kwaadpraat. Om vrygewig te wees - Steel. Lewe te spreek - Afbrekend praat. Om onvoorwaardelike lief te hê - Nydigheid, haat. Ander te motiveer - Ander heeltyd af te kraak. Om mense te dien soos Jesus - Net ontvang (Geestelik) Om Jesus te volg - My eie ek vooropstel. Genade te betoon - Ander te veroordeel. Ander te vergewe - Met 'n wrok rond te loop. Goeie verhoudinge handhaaf - Ander te verwerp. Vriendelik/vrolik - Heeldag bekaf en negatief. Hoop te hê - Om die lewe te mors. Hulpvaardig - Onbetrokke teenoor ander. Getuig vir Jesus - Ander die ewigheid te misgun. Oorgegee aan Jesus - Geestelike hoogmoed.

En so is daar so baie dinge wat meetbaar is en sigbaar is. Baie slegte vrugte word gewys deur wat ons sê. Neem twee mense wat jy glad nie ken nie - vrouens. Een is beeldskoon, goed versorg, mooi aangetrek en gegrimeer. Die ander een vaal, verwese, lyk baie armoedig. Sê dit iets van die vrug wat hulle dra? Nee, want jy sien net die mandjie. Die vrug lê in doen en sê. Moeder Theresa was nie die een wat vir mej Wêreld kon deurgaan nie. Sy het goeie vrug gedra.

Twee mandjies vrugte. Een mooi en goed, die ander nie. Het jy al gehoor dat iemand sê, "as dit is hoe 'n Christen is (en leef), wil ek nie een wees nie". Soms het mense 'n punt beet. Ons het netnou gesê, dis meetbaar.

Luk 6 : 43 - 45 Dit is nie die goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie die slegte boom wat goeie vrugte dra nie. 44 Elke boom word aan sy eie vrugte geken. Van doringstruike pluk 'n mens mos nie vye nie, en van 'n doringbos oes jy ook nie druiwe nie. 45 Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Hoe kry ek en jy dit dan reg om die goeie vrugte te dra? Wel, dis net moontlik as ons die Gees van die Here in ons het. Anders beoefen ons maar net goeie gewoontes.

Gal 5 : 16 - 25 Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17 Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18 Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie. 19 Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie. 22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23 nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24 Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25 Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Net deur die werking van die Heilige Gees kan hierdie proses begin, en volgehou word. Dit weer, is net moontlik as ons kies dat die Heilige Gees in beheer van ons lewens is.

Kom ons kyk net bietjie na die uitvloeisel van 'n lewe van goeie vrug. Nie net behaag dit die Here nie, en doen ons Sy wil nie. Sommer hier op aarde, op sekulêre vlak, pluk ons die vrugte daarvan. Dan bly ons binne die wet, ons is aanvaarbaar vir ander mense, maak vriende, ons kinders skaam hulle nie vir ons nie. 'n Lewensstyl wat aanvaarbaar is vir die samelewing.

Goeie vrug vs slegte vrug. Ek wil nou vir jou so 'n stukkie hoop gee.

Luk 13 : 6 - 9 Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: 'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, 7 sê hy vir die tuinier: "Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?" 8 Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. 9 Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.

Jesus gee vir ons nog 'n kans. Dalk voel jy ook dat dit nie werk in jou lewe nie. Of die duiwel kom vertel vir jou dat jy niks werd is nie. Dan kom die tuinier (Jesus), en hy pleit by die eienaar van die boom (God) vir nog 'n kans - en nog een, en nog een. En Hy sê, "gee hom nog 'n kans - dan kan hy uitgekap word". Sien jy twee kante van die muntstuk in hierdie gelykenis?

Aan die ander kant 'n ernstige waarskuwing om vir ons te sê, "ons kan nie doen wat ons wil nie". As ons in Jesus se tuin geplant is, sal Hy alles doen wat Hy kan. Hy gee vir ons insig - kennis - die Woord. Maar 'n vyeboom wat slegte vrugte dra, hoort nie in sy tuin nie. Want die vrug sê nie net iets van die boom nie, ook van die tuin waar dit staan.

Slegte vrugte aan Jesus se bome, maak dat ander nie in Jesus se tuin geplant wil wees nie.

Kom ons kies om die mandjie skoon te hou. Pragtige, ryp vye, stroopsoet, lekker om te eet. 'n Aanwins vir Jesus se tuin.

Gebed: Vader, dankie vir daardie stukkie hoop - dat U vir ons nog 'n kans gee. Help ons om 'n aanwins vir Jesus se tuin te wees. Amen

TERUG NA LYS MET TEMAS