|
|
|
TYD Wanneer ons die datum en die tyd noem, gee ons erkenning aan hierdie element van die lewe wat so baie invloed op ons uitoefen. Tyd. Moeilike begrip. Hierdie ontasbare ding waarom alles draai. Hierdie iets waarteen ons die verloop van elke dag slaafs meet, en waarteen ons dag vir dag beur. Net om vannag iewers, ons weet eintlik nie wanneer nie, te "reset", om more-oggend net weer voor te begin. Tyd is 'n snaakse ding. Hy bestaan net op aarde, en is net eintlik meetbaar op aarde. Omdat die aarde om sy eie as draai, ten opsigte van die son, kry ons hierdie ding wat ons dag en nag noem. Die maan wentel om die aarde in 30 dae, en ons noem dit maand. En hierdie aarde-maan samestelling wentel om die son in 365 dae en dit dui vir ons konstant aan hoe oud ons is. En in hierdie proses het God vir ons 'n wonderlike ritme geskep om so 'n bietjie orde in ons lewe te gee. Die Here het dit inderdaad so presies geskep dat die seisoene en die lengte van 'n dag en 'n nag, dit vir ons moontlik maak om aan die lewe te bly. Ja, die Here het tyd geskep saam met die skepping. Tyd het nie voor die skepping bestaan nie. Daarom begin Gen 1 : 1 in die boodskap met "In die begin van alle tye het God die hemel en die aarde gemaak". Die Here het wonderlike orde, ritme en balans in die heelal in geskep. Die vraag is nou net, "Wat maak ons hiermee?" In die skeppingsverhaal lees ons van die skeppingsdae en na elke dag wat God geskep het, staan daar "En dit was aand, en dit was more." God verwys na tyd en dan, op die sewende dag, sê God, was dit tyd om te rus. Pragtig. En die Here skep die mens om te heers oor sy skepping. Maar die mens kry nie geheers oor tyd nie. Tyd heers oor die mens. Prediker 3 : 1 - 9 in Die Boodskap Het jy ook die probleem? Werk jy dikwels oortyd sonder betaling? Moet jou kinders elke dag hoor "Pappa het nie tyd nie?" En eintlike sê ons maar net "My kind, jy het nie prioriteit nie. Jy - of jou rugbywedstryd, is minder belangrik as my dagtaak". Prediker probeer om so 'n bietjie balans in te bring, deur te sê "Daar is tyd vir dit, en vir dat." Een aktiwiteit - en hy noem dit werk - kan nie al die tyd kry nie, of al die prioriteit nie. Ek hoor van 'n man wat vertel dat hy die lekkerste dag van sy lewe so goed onthou, as die dag wat sy pa saam met hom gaan visvang het. Die lekkerste dag van sy lewe. Na sy pa se afsterwe lees hulle deur sy stapels dagboeke en kom op die spesifieke dag af, die dag wat die lekkerste van Johnny se lewe was. Die inskrywing van die pa het gelees "Another day wasted, went fishing with Johnny". So tragies en hartseer. Wat gaan aan met ons? Sien ons nie wat ons doen nie? Ons maak so maklik tyd vir werk, vir sport, ja selfs die getroue ou sepie saans, maar die gesin kom tweede laaste. Ek sê tweede laaste, want ek glo gewoonlik kom die Here heel laaste. En dis hoekom daar so min vervulling in ons lewens is. Want die meeste tyd word in beslag geneem deur dit wat soveel van ons met 'n passie haat. Jy sien, jy is waarskynlik bang dat jy jou werk gaan verloor. Probleem is net, dis makliker om 'n ander werk te kry, as 'n ander gesin. Ons vrouens/mans en kinders en God hoor daagliks, ek kan nie nou nie, maar die baas hoor dit nooit. Daar is 'n tyd vir werk, en 'n tyd vir rus. Daar is 'n tyd om te verdien, en 'n tyd om te spandeer. Daar is 'n tyd om vir die werk nee te sê, en vir die kinders ja. Daar is 'n tyd vir laat werk, maar 'n tyd vir die gesin. Daar is 'n tyd vir vriende, maar ook 'n tyd om aan jouself te spandeer. Daar is iets soos tyd, maar iets groter, wat ons prioriteit (priori-"TYD") noem. Daar is 'n tyd vir oortyd, maar ook 'n tyd vir speeltyd. So kan ons aangaan. Die vraag is net "hoekom is dié wat die kosbaarste in ons lewens is, nie meer tyd werd nie. As jy Saterdag vir die baas kan sê, nee jong, vandag kom my seun se sportwedstryd eerste, sal jou kind dit nooit vergeet nie. Ons leer ons kinders ook om soos ons te wees. Om te buig voor die tydgod. Dit was nie die Here se bedoeling toe Hy tyd geskep het nie. Lewensgeluk kom as ons meer tyd maak vir belangrike dinge. Stiltetyd - om God se aangesig te soek. Gesinstyd - om jouself totaal vir jou geliefdes te gee. Speeltyd - om af en toe tyd vir jouself te gebruik. Bedientyd - om ander se lewens positief te beïnvloed. Ons hoef nie tyd te maak nie. Die Here het dit klaar gemaak. Ons moet net besluit wat belangrik is. Moenie ter wille van jou werk jou kosbaarste besittings verloor nie.
|