|
Terug
na HOOFBLAD
UITKAMP
– 14 April 2010
Die uittog het
begin. Baie ouens is oppad Mighty Men toe. Die laaste een. Groot
opgewondenheid. Die karre word gepak – dis tente, port-a-potties,
skottelskaar, gasbraaiers... en nie ‘n vrou in sig nie. Ek wil nie praat
oor Mighty Men nie, maar wel oor die verblyf... kamp; uitkamp; tentdorp;
tydelike verblyf. Ek het twee jaar hiervan gehad: ek het in 14 Veld in
Potch vir twee jaar in ‘n tentdorp gebly met hoofsaaklik koue water, net
die nodigste elektrisiteit vir een lig, baie stof; geen beskerming teen
winde en storms nie. Ek dink nie jy kan ‘n baksteengebou genoeg waardeer
as jy nie lank in ‘n opvou-huis gebly het nie. Vir ‘n naweek of ‘n paar
dae langer as dit is dit lekker (mens noem dit selfs vakansie), maar
sommer gou verlang jy na jou eie, stewige, waterdigte, warm, veilige
struktuur wat jy huis noem. Kom ons kyk wat sê die Bybel van uitkamp:
2 Kor 4:16 – 5:10
Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te
vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in
hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n
heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.
Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie,
maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die
onsigbare ewig. Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent
is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning
wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.
Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat
ons woning uit die hemel ons sal oordek. Ons wil nie ontklee wees en naak
voor God staan nie. Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk
omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die
hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word
deur die lewe. Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As
waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee. Daarom is ons altyd vol moed.
Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here
woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie. Ons
is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die
Here gaan woon. Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens,
en dit is om te lewe soos Hy dit wil. Ons moet immers almal voor die
regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy
tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.
Paulus vergelyk hierdie lewe met uitkamp, en die hemel (die hiernamaals)
met huistoe gaan. Hierdie lewe wat vol swaarkry is, is die lewe in ‘n
opvou-huis. Sommer ‘n struktuur wat net vir ‘n kort tydperk ‘n doel het.
‘n Woning wat eintlik nie die weklike is nie, wat nie veronderstel is om
te veel prioriteit te kry nie. ‘n Tydelike blyplek wat net voldoende moet
hou totdat ons “huistoe” gaan.
Paulus gebruik
nogal ‘n treffende beeld as hy die hier en nou met tentlewe vergelyk. Die
hier en nou verwys dan ook volgens vers 4 na ons aardse liggaam. Iets
tydelik. Daar is ‘n klompie punte wat hy noem:
- Dit moet net
lank genoeg ‘n woning vir jou siel/gees verskaf om hierdie lewe deur te
sien. Die mense sal 70-80 jaar oud word, en dan is die tentwoning
uitgedien. Jou liggaam se lewensduur is kort, net soos ‘n tentwoning
waarin jy vakansie hou. Nie gemaak van materiaal wat 100 jaar se
blootstelling aan die buitewêreld hoef te weerstaan nie.
- Dit sal swaar
wees (Vers 17) Mense sal vir jou sê Christene kry nie swaar nie, en sal
altyd net voorspoed beleef, maar my Bybel sê anders. En my common sense
sê dit ook vir my. Hierdie lewe sal die storms terdeë voel. Ek onthou as
tjokkertjie het ons elke jaar gaan vakansie hou in ons gróót groen tent
by Illovo. Boeta, ons het gehang aan daai tentpale as daar ‘n storm was.
Maar ... die volgende dag het die son weer geskyn, en alles was lekker.
Swaarkry is deel van die lewe. Vat dit, leer daaruit, groei daardeur.
- Dit vra geloof
om deur te druk (Vers 18). Ons oog is nie op die sigbare nie. Die
sigbare het nie geloof nodig nie, net die onsigbare. In hierdie wêreld
is dit die geloof in die ewige, vaste gebou wat die tentwoning draaglik
maak. Sonder hierdie geloof sal jy dink die tentwoning is alles. Geen
uitsien na meer nie, na beter nie, na die volmaakte nie.
1 Kor 15:19 As
ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die
bejammerenswaardigste van almal.
“Pack up an go”!
Die vaste woning (die hemel), is ‘n lekker plek. ‘n Plek waarna ons kan
uitsien, want niks van die gemors waardeur ons hier ploeg, sal daar wees
nie. Die vaste woning is ‘n baie spesiale plek. Vers 1 sê dis nie deur
mense gemaak nie, maar deur God. Die lewe op aarde sluit mos baie goed in
wat mensgemaak is; om jou is miljoen dinge wat mensgemaak is, wat die lewe
lekkerder maak, wat ons woning draaglik maak... maar dit is afhanklik van
die mens se vindingrykheid. Paulus sê nee, die vaste woning is deur God
gemaak. Dit is ewig, dit is soos om vakansie te gaan hou in die luukste
van die luukste hotelle, waar geen element van ongerief teenwoordig is
nie, en waar jy vir ewig en ewig kan gaan bly. Gaan slaan ‘n tent langs ‘n
vaste baksteengebou op en los dit daar vir 150 jaar, en die tent is weg.
Jy dink miskien uitkamp is lekker, maar jy het nog NIKS gesien nie!
Maar nou kamp ons
nog uit. Alles is verseker nie net sleg nie, inteendeel! Net soos wat dit
pret is om in ‘n vakansie oord tent op te slaan, en lekker dinge te
beleef, kan die lewe in jou tentwoning vandag vir jou lekker wees. Ons
besluit in ‘n baie groot mate hoe ons hierdie tent-tyd gaan beleef. As ons
gaan vakansie hou met ‘n tent, is dit ons keuse. Uitkamp kan ‘n lekker,
aangename, avontuurlike ondervinding wees, so ietsie anders. Die
ondervinding is die moeite werd. Dis vir my so hartseer dat mense daagliks
vir mekaar vertel dat die eindtye nou maar mpet aanbreek want die lewe is
ondraaglik. So asof die Here ons nie daagliks bederf met ongelooflike
seëninge nie. Ons doel hier op aarde is nie net om te wag vir oppaktyd
nie. Ons weet dis tydelik, maar ons kan die beste daarvan maak.
2
Kor 5:6-9
Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam
bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur
sien nie. Ons
is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die
Here gaan woon. Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens,
en dit is om te lewe soos Hy dit wil.
“Ons is vol
moed”. Is jy? Of is jy moedeloos en voel jy magteloos? Hier of daar, ons
wil lewe soos Hy dit wil.
Dus, terwyl ons
dan nou nog vasgevang is in ons aardse tentwoning, moet ons strewe wees om
te lewe soos Hy dit wil, en nie heeltyd uit sien na die vaste woning nie.
Geniet die kamplewe!
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|