VAN HEMELVAART TOT PINKSTER


Hemelvaart - inderdaad 'n viering! Die dag toe Jesus die aarde verlaat het soos wat Hy hom weer gaan binnekom, om ons te kom haal. Glo jy dit regtig? Glo jy regtig dat Jesus hierdie proses gaan voltooi soos wat Hy belowe het? Jesus het Sy lewe hier op aarde as 'n wonderwerk begin, deur uit 'n maagd gebore te word. Ons sê dikwels Sy eerste wonderwerk was om water in wyn te verander, maar die maagdelike geboorte was eintlik rêrig die eerste wonderwerk. Jesus se lewe was deurtrek van wonderwerke, van die begin tot die einde. Einde? Nee, verkeerd, die einde is nog nie daar nie. Die laaste hoofstuk is nog nie geskryf nie. Nog net voorspel, of liewer, belowe. En dit is juis wat dit vir party mense so moeilik maak om dit te glo. Die ongelowiges voel al hierdie stories is darem maar net te dik vir 'n daalder. Ander sê weer dis seker maar dan ten minste 'n oulike storie. Maar baie kan net nie tot volle geloof in Jesus kom nie, daar bly 'n soeke na die ware Koning. Hy is nie vêr nie, ons hoef nie te soek nie ... Al die inligting, en hoe om Hom te vind, is in die Bybel.

Hebr 11 : 1 "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie."

Wat maak ons van Jesus se hemelvaart?

Mark 16 : 14 - 20
14 Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie.
15 Hy het vir hulle gesê: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.
16 Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word.
17 Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat;
18 met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word."
19 Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit.
20 Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.

Jesus wat swaartekrag oorwin en in die hemel opgeneem word om aan die regterkant van God te sit om te heers. Kom ons kyk in wêreldse perspektief na die gebeure rondom Jesus se lewe op aarde.

Jesus was in die hemel voor Sy koms aarde toe. Dan verlaat Hy die hemel en laat al die engele agter. 33 Jaar later is Sy werk op aarde afgehandel en Hy keer terug na die hemel toe. Hoe sou die verwelkoming wees van die engele? Juig, blydskap, opgewonde om alles te hoor... Duisende vrae, soos, hoe was dit, was U sending suksesvol, het almal tot bekering gekom? Is die hele mensdom voorberei om hemel toe te kom? Was almal bly om U te ontmoet? Het die mense voor U voete neergeval om U te aanbid? En wat sou Jesus antwoord? Nee, net die dissipels en 'n handjie vol ander.

Jitte, wat 'n teleurstelling moet dit nie wees nie. Alles verniet, kruisiging onsuksesvol. Jy sien, dis hoe die wêreld die verhaal sien. AS Jesus dan werklik gelewe het, en opgestaan het, en opgevaar het, hoekom is almal dan nie gered nie? Hoekom is al die probleme dan nie opgelos nie? Die antwoord is eenvoudig. As ons hierdie beskuldiging teen die Here maak, het ons nie ver genoeg gelees nie.

Hoe het Jesus hierdie wêreld agtergelaat? Om dit te verstaan, moet ons verder lees.

Hand 1 : 1 - 9
1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af
2 tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het.
3 Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat.
4 Terwyl Hy 'n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: "Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.
5 Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word."
6 Toe hulle 'n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?"
7 Hy het hulle geantwoord: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.
8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld."
9 Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie.

Hier lê die kruks van alles. Jesus het alles gedoen wat Hy moes doen. Sy werk was afgehandel. Ten spyte daarvan dat min tot bekering gekom het. Toe word die Heilige Gees uitgestort en skielik verander 'n klompie bang, onseker dissipels in kragtige predikers. Skielik kom mense in hulle duisende tot bekering en is die hemel in rep en roer. Dalk het die engele weer vir Jesus gevra, "Maar Here, wat nou? Waar kom al hierdie geredde siele nou skielik vandaan? Wat op aarde is aan die gang op die aarde?"

En Jesus sou dalk vir die engele kon sê: "Julle sal nie verstaan nie. Julle sal net kon verstaan, as julle mense was wat deur die Heilige Gees vervul is." Want Paulus beaam dit later as hy in 1 Kor sê: "... hierdie dinge is onsin vir die wat nie die Gees het nie." Petrus en die ander dissipels het dit só goed verstaan, en was só oortuig van wat hulle gesien het, en was so geïnspireerd, dat hulle omtrent almal hulle lewens verloor het in die proses. Dis wat gebeur, as Jesus se werke, alles vanaf die maagdelike geboorte tot die hemelvaart, vir ons sin maak. Die vraag is net - glo ons dit? En as ons dit glo, wat doen ons omtrent dit?

Jy sien, die opdrag van Hand 1 : 8 is ook vir ons. "Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria tot in die uithoeke van die wêreld."

En as ons hierdie opdrag uitvoer soos Jesus dit gee, kan die proses voltooi wees. Jesus het gesê Hy sal weer kom as almal gehoor het. En hoe sal almal hoor as ons nie gaan vertel nie?

Rom 10 : 14 "Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie. En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: "Hoe wonderlik klink die voetstappe van diè wat die goeie boodskap bring".

Wow, is dit nie mooi nie? Kom ons gaan vandag en laat wonderlike voetstappe weerklink. Kom ons gaan vertel die waarheid as Jesus in diskrediet gebring word. Kom ons staan by die feite in die Bybel en wys ons geloof deur ons dade.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)