|
|
||||||||||||||||||||
|
VAN MELK NA VASTE KOS – 18 Januarie 2012
Net so is dit met die mens wat tot bekering gekom het en ‘n geestelike baba is. Hy begin groei in sy Geestelike lewe, sy verhouding met God verdiep, hy verstaan meer en meer en kan naderhand meer in die geestelike realm absorbeer as direk na sy bekering. Dis ‘n natuurlike proses waardeur ons almal moet gaan. Maar .... ‘n nuwe bekeerling kan ‘n “gevaarlike” affêre wees. Hy kan bv. nie net inspring en diepgewortelde lering aanbied nie, hy moet self eers die Geestelike groeipad stap. Dis die een kant. Aan die ander kant is daar baie mense wat na bekering net nie uit die geestelike doeke kom en gespeen raak van die melkbottel nie. ‘n Baba is ‘n oulike dingetjie, maar hy kan nie vir altyd ‘n baba bly nie. Hoe sal dit lyk as ‘n groot man, met harde baard melk uit ‘n bottel drink en in ‘n stootwaentjie lê? 1 Kor 3:1-9 Dit lyk my Paulus is nogal opgeruk met die mense. Dis vir my duidelik dat hy hier praat met kerkmense, gelowiges, wedergeborenes. Hy sê eintlik vir hulle: julle is nog soos kinders wat twis en stry. Soos kleintjies wat op die speelgrond die hele tyd stry en baklei: is, is nie; my pa is sterker as joune, ons kar is vinniger as julle s’n. Onbenullige snert waaroor kinders kan stry. Net soos ons as Christene met mekaar doen. Ons stry en stoei oor die mees onbenullige goed, en as ons genoeg stoei, dan stig ons sommer ‘n nuwe kerk (en ‘n politieke party om daarby te pas). Paulus voel dat hierdie mense, wat al ‘n lang pad met die Here stap, verby hierdie onbenullige goed moet wees. Die verkeerde goed is vir hulle belangrik. Ek is vir Paulus, ek is vir Apollos. Ek hou nie van Angus Buchan nie, ek hou van Joyce Meyer, ek, ek.... En dis die probleem wat te voorskyn kom as ons nog Geestelike melk drink. ‘n Vrou bel my eendag en trap my uit oor die Geestelike program op Sondagaande. “Ek wil nie na dominees en pastore luister nie”. Ek, ek, ek! Ongeag of die Here daardie mense kragdadig gebruik of nie. Die dominee moet sus en so maak, en ook die kerk. Hulle moet na my pype dans, en my behoeftes en grille bevredig. Dit laat my dink aan ‘n fliek wat ek lank terug gesien het waarin hierdie reuse plant so oopmaak, en sê: feed me! ... of ek raak vreeslik kwaad. Heb 5:11-14 Hebreërs is nie deur Paulus geskryf nie (sover ons weet), en tog gebruik die skrywer hier dieselfde beeld. Hierdie beeld sê ons moet aanbeweeg. Ek het al soveel stryery in my lewe gehoor oor die doop, die skepping, die eindtyd, watter klere is aanvaarbaar as kerkklere, sing in die kerk, kitare in die kerk, spreek in tale, hoe ons moet bid, huis skoonmaak van allerlei beeldjies en goed, omval onder gebed, ens. Hoewel baie van hierdie baie belangrike sake is, hoort baie daarvan by melk-drink. Baie van hierdie goed gaan oor onsself: watter voordeel is daarin vir my? Laat dit my lekker voel? Kan dit vir my voorspoed en gesondheid verseker? Heb 5:14 sê vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei. Dis ernstige woorde hierdie. Jy kan ‘n jong seun van 14 kry wat meer as 6 voet lank is, 90 kg weeg, ‘n bondel spiere is, ‘n uitnemende sportman, ‘n skerp skaakspeler, ‘n no 14 skoen dra en sy pa arm druk dat hy brul, maar hy bly steeds ‘n kind. En Paulus, Petrus en die skrywer van Hebreërs sê: Geestelike rypheid kom met tyd, deur tyd te spandeer met die Here, te leer by leermeesters. ‘n Pas gegradueerde persoon kan nie vir hardebaard sakemanne as konsultant gaan optree nie, hy het eenvoudig net nie die ervaring nie. Christene wat op vaste kos is, beweeg vorentoe, dieper in hulle Geestelike ervarings, nader aan die Here, neem toe in wysheid, kennis en insig. En ja, al verskil ons steeds oor baie dinge van mekaar, definieer dit nie meer ons Geestelike lewe nie. Kom ons kyk na ‘n paar verskille tussen melk en vaste kos:
Daar is sekerlik baie meer dinge wat mens kan noem. Maar die een ding wat uitstaan is dat mense wat vaste geestelike kos inneem, wegdraai van hulleself en hulle eie Geestelike behoeftes af. Ons eie Geestelike behoeftes moet vervul word, sodat ons dit kan aanwend tot meer en dieper dinge. Mense wat vaste kos eet, kan ook ander se sieninge respekteer sonder om hulle Geestelikheid in twyfel te trek, en hulle te veroordeel. Kom ons konsentreer op belangrike dinge, dinge wat tot stigting van God se gemeente is, dinge wat ons opbou en nader aan Jesus laat groei. Ons vang partykeer dinge aan wat maak dat die ongelowige mense vir ons lag, en dis ons eie skuld. Dis melkkos. Vastekos laat ons dinge doen wat mense na die Here toe aantrek. |