|
|
|
... en daar het Desember toe nou uiteindelik aangebreek! Hoe voel jy daaroor? Sê jy dalk: Uiteindelik! Dankie tog, ek het dit gemaak! Net 15 dae van werk, dan kan ek rus! Nadat ons deur ‘n mynveld ge-leopard crawl het met tonne bagasie op die rug, oor en onder deur die moeilikste hindernisse, dikwels ongelukkig, dikwels vermoeid, is ons nou amper aan die einde van die jaar. Dankie tog 2010 is verby.... ons kan nou amper begin lewe. Ons kan mos nou begin lewe? Gaan ons? En dan .... o koek, 2011, hier kom ons! Jare gelede het Fanus Rautenbach ‘n boek geskryf met die titel “Vandag is môre se gister”. 2010 is oppad uit, verlof lê vir jou voor. Maar my vraag is eenvoudig: Hoeveel het jy in hierdie jaar geléwe? Hét jy gelewe? Vir hoeveel dae het jy by lewe stilgestaan? Hoeveel keer het jy gesê: VANDAG gaan ek iets van hierdie lewe maak? VANDAG gaan ek myself bederf met lewe! Nie net bestaan nie, regtig léwe. Was daar vir jou hierdie jaar enigsins ‘n “vandag”? Vandag is môre se gister. Of het jy konstant jou paspoort laat “stamp” na môre of gister toe? Dalk wil jy nie by vandag stilstaan nie, want gister was sleg en môre is al oppad. Iemand het eendag gesê: “A slower day comes ... not!” Spreuke 27:1
Hierdie jaar het baie môres gehad. Elke dag het ‘n gister gehad. Maar hoeveel van daardie gisters was vir jou ‘n vandag? My punt vandag is eenvoudig – min mense wil vir vandag leef, want vandag het nie tyd vir leef nie. Vandag is te vol, vandag is propvol dinge. Vandag se besluite is gister al geneem en die planne het niks vir gister ingesluit nie. Dis dalk hoekom die Here nie veel met ons regkry vandag nie. Ons wil hê die Here moes betyds ‘n plekkie vooruit boek en as Hy nie ons dagboek kon haal nie, is Hy en Sy werk vandag neusie verby. Intussen werk die Here eintlik vandag. Spreuke 27:1 sê jy weet nie eens of daar ‘n môre is nie, en dan het ons hom alreeds volgeprop. Is jou lewe ook vasgevang in hierdie tydlose tydmasjien? Jy hoor die getik van die klok, maar hy het nie wysers nie. Vandag is môre se gister, maar vandag is soek – ons kry hom nie. Die toebroodjie se dik snytjies weerskante van vandag verswelg hierdie dun smeerseltjie wat ons vandag noem. Pred 3:1-9 Sien jy hoe mnr Prediker eintlik tydloos oor tyd praat, sonder ure- en minute- kompartemente? Maar mnr Prediker, waar sal die tyd vandaan kom om elke ding ‘n vaste tyd te gee? Die Here wil vandag vir jou die oorvloedige lewe gee. Die Here kan nie gister met jou praat nie, want dis verby. En wat van môre? Nee, dit moet vandag gebeur. Wanneer het die Here planne vir jou? Vandag. Oor watter deel het jy die beste beheer? Oor vandag. Wil jy nie dalk so bietjie jaloers vasklou aan vandag nie? Dis tog al waarvan jy min of meer seker is. Wat gaan jy met vandag maak? Hom net om bestaan? Of is vandag net gister se môre. Kom ons kyk of ons nie dalk vandag ‘n paar besluite kan maak wat vandag die moeite werd gaan maak nie. Dalk is vandag die ideale tyd om more op sy plek te sit. Dink biejtje hoe kan vandag vir jou 24 sinvolle ure hê. Josua 24:15
Kies vandag. Hoe hou jy daarvan? Gaan dit tyd van jou dag neem om vandag te kies om die Here te dien? Of wil jy dit liewer môre eers kies? Dis vandag ‘n goeie tyd om as hoof van jou huis jou voet neer te sit en te sê: gesin, dis wat ons gaan doen. En wat van daardie knaende sorge en bekommernis? Matt 6:34 Sorteer liewer vandag so paar dinge uit en los môre vir môre. En hou tog op om jou oor môre te bekommer. Besluit vandag om die gister-sleepwaentjie af te hak en ry weg van die vervlakste ding af, want hoe meer jy hom sleep hoe meer begin hy om jou in môre in te stoot. Dan verloor jy in elk geval beheer oor alles. Hoe lyk dit, is dit nie dalk tyd om te kyk hoe vandag se seëninge lyk nie? Het jy ‘n hond op jou werf? Kom ek belowe jou, jou hond leef beter as miljoene mense op aarde – glo dit maar. Die Bybel sê kos en klere behoort genoeg te wees.
1 Tim 6:8
Spreuke 17:22 |