|
VARKHOK
BESTAAN
Die lewe in 'n varkhok. 'n
Varkhokbestaan. Varkhok of paleis? Prinsie of varkie?
Arme vark se kind - dié ding kry
nogal swaar. As iemand slegte maniere openbaar word hy na varkie vernoem;
ry jy so bietjie uit koers uit, is jy 'n padvark; is die dis wat jy
optower nie na smaak nie, word dit varkkos genoem. Dit lyk my die enigste
plek waar mnr Vark tot sy reg kom is die ontbyttafel … snaaks dat 'n
ding wat so snaaks lyk so lekker proe. En ja, selfs in die Bybel word die
vark gebruik om vuil voor te stel. Die vraag vandag is: is my en jou
bestaan 'n varkhokbestaan, of 'n paleisbestaan?
Luk 15:11-24
Verder het Jesus gesê: "Daar was 'n man wat twee seuns gehad het.
Die jongste het vir sy pa gesê: 'Pa, gee my die deel van die besittings
wat my toekom.' Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.
"Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en
van die ouerhuis af na 'n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld
verkwis deur losbandig te lewe.
Nadat hy alles deurgebring het, het daar 'n kwaai hongersnood in daardie
land gekom, en ook hy het begin gebrek ly.
Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié
het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas.
Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet,
maar niemand het hom daarvan gegee nie.
"Toe kom hy tot inkeer en sê: 'My pa het wie weet hoeveel dagloners,
en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.
Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God
en teen Pa gesondig!
Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een
van Pa se dagloners.'
En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. "Toe hy nog ver
aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom
tegemoet, omhels hom en soen hom.
Toe sê die seun vir hom: 'Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is
nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.'
Maar sy pa roep sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek
dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene
aan!
En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!
Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het
hom teruggekry.' Toe het hulle begin feesvier.
'n Seun wat 'n lewe kies weg van sy
pa af, weg van die gerief van sy lekker kamer op die plaas, die lekker
kospotte en die beskerming van sy pa - om uiteindelik in 'n varkhok te
beland … 'n lewe wat hy self gekies het.
Net soos hierdie seun 'n keuse
gemaak het, moet ons ook kies: vir of teen die varkhok. Wat net
interessant is, is dat die verkeerde dinge in die lewe lekker kan lyk,
maar dikwels vir ons 'n knus plekkie in die varkhok verseker.
Dit lyk vir my of selfs van die
mense wat veronderstel is om 'n goeie voorbeeld te stel, oppad kan wees
varkhok toe, soos bv die vals leraars en vals profete waarvan daar in 2
Pet 2 gepraat word:
2 Pet 2:10-22
Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike
begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is
uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie.
Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger is, bring nie voor die
Here lasterlike aanklagte teen hierdie wesens in nie.
Maar hierdie mense praat lasterlik van dinge waarvan hulle niks verstaan
nie. Hulle is soos verstandlose wilde diere wat voortgebring word om
gevang en doodgemaak te word. Soos wilde diere sal hulle ook verdelg word.
Vir hulle goddeloosheid sal hulle die loon van die goddelose ontvang.
Hulle verlustig hulle daarin om helder oordag swelgpartye te hou. Wanneer
hulle saam met julle eet, is hulle 'n smet en 'n skande omdat hulle hulle
aan uitspattighede te buite gaan.
Hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie.
Hulle verlei onstandvastige mense en is bedrewe geldwolwe, die
vervloektes!
Hulle het die reguit pad verlaat en verdwaal geraak. Hulle het die weg
gevolg van Bileam seun van Beor wat daarop uit was om vir geld onreg te
pleeg,
maar wat oor sy oortreding bestraf is. 'n Stom rydier het met die stem van
'n mens gepraat en 'n einde gemaak aan die onsinnige optrede van die
profeet.
Hierdie mense is droë fonteine, miswolke wat deur 'n stormwind
voortgejaag word. Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou.
Hulle is aanmatigend en sê sinlose dinge. Met wellus en losbandigheid
verlei hulle die mense wat pas vrygekom het uit die kring van dié wat op
dwaalweë verkeer.
Hulle belowe vryheid aan hierdie mense, al is hulle self slawe van die
verderf; want as iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf.
Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle
ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin
vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe
as aan die begin.
Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken
het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die
heilige gebod wat aan hulle oorgedra is.
Van hulle is die spreekwoorde waar: "'n Hond gaan terug na sy
braaksel toe" en: "'n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die
modder."
Hier word sommer 'n klomp dinge van
'n varkhokbestaan genoem. Die hele 2 Pet 2 wei uit hieroor: hebsug,
wellustige vleeslike begeertes, uitdagend, verwaand, beledigend,
Godslasterlik, swelgpartye, uitspattig; hulle is 'n smet en 'n skande,
geldwolwe, droë fonteine, losbandig … Geen wonder hierdie lewe word so
ernstig deur die Here aangespreek nie - dit is vieslik en vuil. Hierdie
deel het ook 'n waarskuwing in: dit sê in vers 20 dat mense wat tot
inkeer kom, vry van die besmetting van hierdie wêreld word, en dán
afvallig word, is slegter daaraan toe as voor hulle inkeer.
Wat is dan so sleg in die varkhok?
Wel, 'n varkhok is 'n veragtelike plek, 'n plek waar daar geen selfrespek
is nie, en nog minder respek vir ander mense; 'n doellose bestaan wat die
uiteinde is van 'n vermorste lewe. Wat dryf mens varkhok toe? 2 Pet 2 het
'n klomp goed genoem, maar daar is meer:
- Verkeerde vriende. Die spreekwoord sê: "meng jou met die semels en
die varke vreet jou op". Met wie hang jy uit?
- Drank. Dit is sekerlik die beste varksopie as dit verkeerd gebruik word.
Die meeste prinse verander in varke na 'n oormatige gegorrel aan 'n stywe
dop. 'n Dronk mens is so afstootlik soos 'n vark.
- 'n Varkhok het dikwels die verkeerde kooi in … 'n ander man of vrou se
kooi. Dit het nog nooit tot iets goeds gelei nie, en dit kán ook nooit
nie. Spr 6:32 "Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand
af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe. Hy sal slae op die lyf loop
en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie" -
inderdaad sal jy tot varkstatus verneder word.
- Daar is ander dinge wat varkie laat uitstyg bo die ander: slegte
taalgebruik, vieslike grappe …
Nee kyk, dit lyk of sommige mense net nie genoeg kan kry van hierdie
modderbestaan nie.
Die gelykenis van die verlore seun
bring egter 'n wonderlike boodskap na vore: dit is nooit te laat om die
varkhok vaarwel toe te roep nie. Pa wag by die huis - daar in die paleis;
Hy wil die vetgemaakte kalf slag. Pa se paleis het lekker kos, nie peule
nie; daar is skoon lakens en nie vrot modder nie; daar is selfrespek,
respek van ander, genesing, 'n nuwe lewe. Die keuse lê by onsself. Dit
begin by erkenning dat ons in die varkhok ge-eindig het. Dit vra dat ons
in die spieël moet kyk na onsself, en al die fasette van ons lewens moet
ondersoek.
As jy dalk vandag in die varkhok
sit, weet dat daar NOU uitkomkans is. Daar is hulp vir elke fasset van 'n
varkhokbestaan. Goeie vriende, berading, inrigtings is alles dinge wat
enige varkie in 'n prins kan verander. Maar, die eerste stap is: gaan
terug na Pa toe. Hy wag met oop arms, met 'n skoon stel klere (klere vir
'n prins), kos vir 'n feesmaal, 'n ring aan die vinger ….
Vark se kind? Nee, Koningskind.
Varkhok? Nee, paleis.
Peule? Nee, Koningskos.
Groet vandag die varkhok, en gaan
terug na Pa toe!
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|