|
|
|
Die Geskiedenis
van God met Sy uitverkore volk, soos wat dit vir ons in die Ou-Testament
opgeskryf is, is vandag nog steeds vir ons van belang. God skep die mens,
die sondeval vind plaas, God gee Sy belofte aan Abraham. So stap die
geskiedenis tot by Egipte, en die Israeliete se gevangeneskap in slawerny.
Swaar tye .. maar, dan kom God se opdrag aan Moses om die volk uit te lei
na die beloofde land. Dán begin die swaarkry eers, en die volk swerf vir
40 jaar in die woestyn rond, terwyl die roete hulle hoogstens ‘n paar
maande moes neem. Dan, uiteindelik, volg die intog in Kanaän, en die
oorwinning van Jerigo. Lang tye van swaar en beproewing, maar uiteindelik
volg tog die oorwinning. Kanaän kan in
elkeen van ons se lewens ‘n tyd of plek simboliseer wat roep na
oorwinning. Ek glo ons almal het ‘n Kanaän. Ons almal het iets om te
oorwin. Ons almal stoei vir lang tye in die woestyn, en ons almal leef
dalk in vrees as ons dink ons moet ons Kanaän gaan inneem. Ons Kanaän kan
oorwinning oor iets wees, die einde van ‘n swaar pad, die begin van ‘n
nuwe era, ‘n opwindende nuwe lewe … moenie dink jy stap hierdie pad
alleen nie. Sien die Here se hand en versorging in jou woestyn. So kom die tyd
toe dat die Israeliete Kanaän moet inneem. Na jare se geswerf, baie
moeilikheid en baie moeilike omstandighede. Toe die einde in sig is, toe
kom die grootste vrees vir die hele pad …. Sal hulle die land kan
inneem? Jos 1:1-9 Die Here praat
direk met Josua. Hy praat hom moed in: “Josua, Ek is by jou, Ek gaan jou
nie verlaat nie, wees sterk en vasberade”. Ek dink die Here wil vandag
vir my en jou ook sê: “Byt vas, wees sterk en vasberade. Soos Ek deur
die hele woestyntyd by jou was, sal Ek nou by jou wees. Moenie nou opgee
nie. Byt vas, die einde is in sig, en al is die einde dalk nog nie daar
nie, is Ek steeds by jou, elke oomblik.” Dalk is dit vir jou op die
oomblik ‘n tydperk van vrees en onsekerheid – weet vir seker: die Here
is BY jou. Weet jy, ek
wonder hoeveel keer het mense in die verlede al nét te gou opgegee, nét
te gou handoek ingegooi, nét te vroeg alternatiewe gaan soek – net om
dan nooit sy Kanaän binne te gaan nie. Jy sien, dis nou maar eenmaal die
probleem met vertrou: jy moet staatmaak op iets wat jy nie kan sien nie,
en glo sonder enige waarborge. Ek dink vrees is nou maar eenmaal ‘n krag
wat geloof en vertroue kan doodmaak. Vers 9(b) sê: “Moenie skrik
nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar
jy gaan”. Moenie bang wees nie. Hoe lyk jou Kanaän
wat jy moet verower? Jy weet, die ding van “ten volle vertrou”, is
bitter moeilik wanneer dit lyk of die woestynpad op sy wreedste is. Die
probleem is dat ons so gou moontlik die uitkoms wil hê, sonder om die
hele prentjie te sien – dit wat NET God kan sien. Partymaal wil die Here
vir ons sê: “Dis nog nie tyd nie”. Partymaal wil Hy sê: “Jy hoef
nie alles te weet nie”. Soms wil Hy sê: “Kanaän gaan aanvanklik
anders lyk as wat jy dink”. Dalk lyk dit vir jou na ‘n krotbuurt,
terwyl jy nog ‘n rukkie moet wag om die melk en heuning te proe. Ons
tower vir ons beelde op van ‘n Kanaän wat niks anders is as lugkastele
nie, terwyl dit waarlik ‘n ongelooflike mooi en vrugbare streek is. Bais van ons (jy
dalk ook?) het al in die verlede op die drumpel van Kanaän gestaan,
vuisvoos na die spreekwoordelike 40 jaar in die woestyn, moedeloos gewag,
op jou einde. En dan … val Jerigo se mure, om die mooiste, wonderlikste
land voor jou oë bloot te lê. Miskien ken jy dit. Miskien is jy nou voor
die massiewe mure van Jerigo – moeg en moedeloos. Miskien sê die Here
vandag vir jou: “Vasbyt, amper daar.” En dan …. Uiteindelik val die mure! Jos 6:1-5, 20 Wow, kan jy jou
indink hoe dit moet wees? Wie sou kon dink dat die finale kishou op
hierdie manier geslaan sou word? Hulle het nie nodig gehad om aan daardie
mure te raak nie. Kan jy sien wat die Here bedoel het toe Hy sê: “Ek
sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie”? Ek dink baie
kan saam met my getuig dat die oorwinning op ‘n totaal ander manier
gekom het as wat hulle gedink het. Ons probeer krisisse se uitkoms
manipuleer op ons menslike manier, maar God wil jou krisis op ‘n
Goddelike manier oplos. Ek dink net ons moet nie haastig raak nie, en nie
probeer inmeng nie. Ek is oortuig dat dit wat die Here vir ons almal
beplan, is oorwinning oor die woestyntyd, om ons Kanaän in te neem, om
die einde van ‘n swaar pad te bereik. Maar dit vra vertroue, vasbyt,
dalk nog bietjie wag … Die lekker kom as
ons daardie melk kan drink en heuning kan eet. En dan nog boonop te kan
terugkyk en sien dat die vasbyt die moeite werd is. Weet jy dat by verre
die meeste mense ernstige gesondheidsprobleme oorwin? Die meeste wat hulle
werk verloor het (soos ek .. twee maal), is uiteindelik beter af.
Die meeste mense wat deur erge trauma gaan, eindig tog eventueel
weer gelukkig. Die meeste rebelse tieners word pragtige, verantwoordelike
jong mense. Die meeste mense wat erge finansiële uitdagings in die gesig
staar, eindig okay. In ál hierdie gevalle is die woorde “die meeste”
van toepassing. |