VERTROU OP GOD


Wat verwag ons van die Here? Wat glo ons kan Hy vermag, en waartoe is Hy in staat? Ons glo so dikwels dat ons God so onmagtig is. Glo jy in wonderwerke? Glo jy dat God nog die bonatuurlike kan doen? Meer as wat jy kan bid of dink? Is dit nie so dat ons vir God dikwels verklein tot ons vlak, en selfs sovêr gaan om onsself en ons vermoëns bo Hom stel? Ek weet nie wat jou huidige omstandighede is nie, dalk gaan dit op die oomblik swaar met jou, en dalk is die lig in die tonnel maar flouerig. Maar is dit nie dalk omdat ons nie regtig ten volle op die Here vertrou nie? Natuurlik kom daar swaar tye in ons lewens en natuurlik is alles nie altyd maanskyn en rose nie, en dalk is jy tans in 'n drukgang in jou lewe. Dan is dit moeilik om God te vertrou vir beter dae en om regtig geduldig te wees. Maar waartoe dink ons is die Here regtig in staat? Dalk is jy een van dié wat 'n kragtige getuienis het oor hierdie saak, om te kan sê dat die Here meer en beter voorsien het as wat jy ooit kan dink. Dat jou beker vandag oorloop. Baie dikwels verstaan ons nie die bedoeling van swaarkry nie, maar ek dink elkeen kan op een of ander manier getuig van beter dae.

2 Kon 4 : 1 - 7
1 'n Vrou van 'n profeet het haar nood by Elisa kom kla: "My man is dood U weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom om my twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak."
2 Elisa het vir haar gesê: "Ek sal jou help. Sê vir my: wat het jy in jou huis?" Sy het geantwoord: "Ek het niks in die huis nie behalwe 'n erde kannetjie olie."
3 Hy het toe gesê: "Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie.
4 Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom wegpak."
5 Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy hulle volgemaak.
6 Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns: "Bring vir my nog 'n kruik." Maar hy het gesê: "Daar is nie meer 'n kruik oor nie." Toe het daar nie
7 meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: "Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly."

Wat 'n kosbare verhaal van hoop. Kom ons breek hierdie verhaal oop en kyk hoe dit dalk met ons lewens vergelyk.

Die weduwee begin deur vir Elisa te vertel dat sy swaar kry as gevolg van omstandighede. Haar man is dood en daar is slegte omstandighede. Net soos wat ons vandag ook ervaar. Mense verloor hulle werk, of hulle gesondheid, of 'n lewensmaat en dit gaan sleg. Dit gebeur ook met goeie eerbare mense. Vers 1 sê, "U weet self dat Hy die Here gedien het". Slegte goed gebeur met goeie mense. Dan sê Elisa "Ek sal jou help, wat het jy in jou huis? En sy sê "Ek het net 'n erde kannetjie vol olie". Ek wil hierdie bietjie olie vergelyk met die vermoëns wat die Here vir ons gee. Wat het ons wat ons kan gebruik in swaar tye. Sy kon sê "Ek het niks nie". Maar die Here sien dikwels meer in ons "niks" as wat ons kan dink. Ons sien onsself dikwels so nutteloos voor die Here, of dalk is dit ook maar net ons verskoning om te sê, ek is nutteloos. Ek kan nie, ek het niks, en dan gebeur daar ook niks.

Al sê die Here Hy sal vir ons sorg, verwag Hy darem ook van ons alles wat ons kan doen of gee. Ons kan nie net passief raak en terugsit nie. Die weduwee bied dit aan wat sy het. Wat bied ons aan?

En hier kom die wonderwerk nou: Elisa beveel haar om soveel kruike as moontlik bymekaar te kry. Die toets vir my en jou is, hoeveel kruike sou ons bring? Want jy sien, toe die olie begin loop, toe is dit meer as wat die kruike kan hou. Vir hoeveel seën vertrou ons regtig die Here? Moet asseblief nie seën meet aan die materiële nie, want dis nie waarna hier verwys word nie. Want jy sien, toe hierdie vrou se kruike vol was, moes sy steeds eers al die skuld betaal, en dit wat oorbly, het haar penarie verlig. Hulle kon toe daarvan leef. "Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly". Daar word nie geïnsinueer dat sy nou weelderig kon leef nie, sy het wel genoeg gehad om te oorleef.

Maar tog was daar toets vir hoeveel sy die Here vertrou het. Ek is seker dat 'n klein kruikie groter as 'n erde kannetjie was, maar haar vertroue het gemaak dat sy baie kruike gaan leen het - meer as wat logies is en sin maak. Ek twyfel of haar bedoeling daarmee enigsins met gulsigheid gepaard gegaan het. Sy het vir die Here vir genoeg vertrou. Ons glo net nie altyd dat die Here groter as ons omstandighede is nie. Ons gebrek aan geloof maak dat ons soms meer seën verbeur as wat ons kry. Hiermee saam gaan dankbaarheid. Dankbaarheid maak dat ons die erde kannetjie raaksien en dit mobiliseer ons gewoonlik.

Luk 11 : 9 - 13
9 "Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word.
10 Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.
11 Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis?
12 Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee?
13 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee - die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra."

Die Here wil vir ons gee wat ons nodig het. Is dit nie soms hebsug en gulsigheid wat maak dat die Here se versorging nie meer goed genoeg vir ons is nie?

In 1 Kon 17 lees ons van nog 'n weduwee. Elia vra vir haar vir 'n bietjie water en 'n stukkie brood en sy sê "Ek het niks nie, ek gaan vir my en my seuntjie iets vat om te eet, en dan moet ons maar doodgaan". Dan sê Elia "So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land".

Daar kom swaar tye, niemand van ons is daarvan gevrywaar nie. Die reën sál weer kom, die swaar sal verbygaan. Die vraag is nie of dit weer sal beter gaan nie, want dit sal. Die vraag is, kan ons genoeg vertroue in die Here stel? As jy dalk tans in hierdie drukgang is, kan woorde van mense maar leeg wees. Maar die Here se "track record" staan vas. Hy bly 'n getroue God. Hy kom Sy beloftes na.

Kom ons doen ALLES wat ons kan en moet doen, span al jou vermoëns in in swaar tye, en daar waar jy nie meer kan nie, vertrou op die Here.

Ek los jou met hierdie gedagte:
"You'll never know God is all you need, until He is all you've got".
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)